Ek was Hanri Wondergem vir SAUK Nuus

collagefd_s

Augustus 2018 is ‘n winderige maand, in die Goudstad is daar vier seisoene in ‘n dag, die bome staan kaal en die stof laat alles asvaal lyk. Dis in die meeste opsigte net nog ‘n Augustus soos die 31 ander wat ek al beleef (en gehaat) het. Maar wat hierdie Augustus anders maak, is dat dit die laaste maand is wat ek in diens van die openbare uitsaaier staan.

Ek moet self daai laaste sin meer as een keer lees, al het ek hom self geskryf. Want na so ampertjies ses jaar, een tiende van ‘n Krugerrand, snot, trane, spanning, pret, plesier, mikrofone, vreemde luisteraars en vreemder kollegas roep ek die SAUK vaarwel.

‘n Nuwe uitdaging wag op my. Dis vreesaanjaend, angswekkend, bekotsingswaardig en soveel meer – maar soos my huidige baas vir my sê (nadat sy gesig eers wit en toe rooi en toe pers geword het met die nuus van my bedanking): “There is no growth in a comfort zone.”

Maar genade, dit word ‘n comfort zone geroep vir ‘n rede. Dis gemaklik. Maar ek sal die gemak (en genadiglik die vroegskof) vir eers laat staan. Want groei moet ek groei. Maar nie voordat ek eers dankie gesê het nie.

‘n Wyse mens (soos gewoonlik is dit my ma) seg altyd: “Oral waar daar mense is, is daar maar ‘n hopie stront.” En in die nuuskantoor is daar nie ‘n hopie stront nie, dis sommer ‘n berg kak met ‘n rioolrivier. Maar die hemele hoor my, vir die klomp mal mense is ek so lief en by die “poefplaas” (dis die mooi weergawe, aanvaklik was daar ‘n “s” waar die “f” staan) het ek meer as baie geleer.

Dieselfde kollega wat my eenmaal met ‘n pak batterye gegooi het, het my later geleer van verdraagsaam wees, geduld he en luister om te hoor, nie om te antwoord nie.

Die kollega wat my al mal gemaak het met die daaglikse aanval op haar sleutelbord en vrees vir tegnologie, het my al opgebeur met ‘n bad-bederf op die dae wat ek dit die nodigste gehad het.

Daar was onvanpaste oomblike, soos toe ek en ‘n kollega besluit het om ‘n voorbladfoto vir die sexual harassment handleiding te neem, gevolg deur ‘n dronk aand waarin die einste kollega sy diepste seer kon deel – weg van die onvanpaste grappe.

Daar was vele buite uistendings waarby ‘n kollega saam met my gelag het omdat ons niks weet van kwaliteit whiskey nie, ons het eers vriendinne en toe vrienginne geword.

Daar was ‘n bekgeveg wat (volgens ooggetuies) gedreig het om bloedvergieting te word, maar ‘n drukkie die volgende dag en daarna gereelde boodskappe wat oorstroom van omgee.

Daar was die kollega wat nooit met my gepraat het nie, maar onlangs begin het om my skouer ‘n bemoedigende drukkie te gee – en ek weet nou nog nie of die einste kollega eers weet hoe baie haar skouerdrukkie op my donker dae beteken nie.

Een kollega het onlangs eers by die span aangesluit, maar dadelik vir my ‘n “mammie” geword wat verstaan as ek my kuite pof en deel as haar eie gat op ‘n krul trek.

Daar is die kollega wat my al vir jare “’n bier” skuld, en jaarliks die skuld so bietjie minder en dan weer bietjie meer maak – en dan ook altyd reg staan met raad as ek karprobleme en kopkrappers het.

Daar is ‘n kollega wat my so baie leer, sonder dat hy dit besef, omdat hy soos roepman vreemd is, maar die wysheid van die oudste uil in die donker woud van sy denke dra.

Daar is ‘n kollega wat my hartsnare roer maak met die kwesbaarheid van sy eie hart en dan laat skaterlag met sy lekkerbekmanier van stories vertel.

Ek word elke dag herinner dat mens vir ander mense ‘n plekkie in die son moet gun. Een van die kollegas se laggende gesig is elke dag vir my ‘n reminder dat ek op die aarbol is om klippe uit ander se pad te rol.

Daar is die aanvanklike kantoor-baba wat voor my ontwikkel het in ‘n puik joernalis en mooie vroumens, wat nie ‘n bose-haar op haar hoof het nie.

Ek het gesien hoe ‘n ander kollega van ‘n kind na ‘n vrou ontwikkel met die geboorte van haar seuntjie en hoe dapper ‘n enkelma kan wees.

Ek het ure se stories oor koekbak en kospryse en die geskiedenis van radio aangehoor.

Dan is daar natuurlik die kollegas wat al voor my die pad gevat het wat ook elkeen op hulle manier ‘n merk gemaak het op my lewenspad. En selfs vriende geword en gebly het, lank nadat hulle die kollega-rol agtergelaat het.

En soveel soos wat ek dankbaar is vir elke geleentheid by die SAUK, elke keer wat ek iemand se storie kon vertel, elke keer wat ek in die aanbieder- of redakteurstoel gaan sit het, elke keer wat ek agter ‘n mikrofoon ingeskuif het… soveel meer is ek dankbaar vir die mense wat my geleer het van mens wees.

Met die twee weke oortyd wat ek met my pliggie-maniertjie opgebou  het sal ek binnekort vir oulaas “Hanri Wondergem vir SAUK nuus” wees. Maar altyd terugkyk met liefde in my hart, ‘n traan in my oog en vele lesse geleer.

Nou weet ek eers wat “love-hate-relationship” beteken.

En al wat mens dan tog kan sê is dankie vir die kleurvolle karakters wat die grys dae onwetend opgehelder het.

collagefd_s

Advertisements

Welkom, lief-dierbare Winter

download (1)

So… die winter is (uiteindelik) hier.

Toe ek (verlede jaar al) 30 tref, het ek besef die somer kom met uitdagings. Hierdie jaar is ek ’n paar kilogram swaarder en die uitdagings van die sogenaamde lieflike maand van somer, word net meer.

So daarom, met my serpie om die nek en my jas wat alles wat dril en hop en skud toemaak, het ek besluit om my somer-irritasies neer te pen.

Ek dra nie sommer iets wat my kuite wys nie. Bloot omdat ek nie kuite het om te wys nie. Maar ek is mal oor lang rokke. Ongelukkig is my bobene ook deesdae mal oor mekaar. My ma verwys daarna as my “privaat frikkadel”. Daai vet dele van die binnebene wat teen mekaar skuur soos twee tieners wat binneboud by die skoolsokkie dans. En dan kom die vreesaanjaende “chub rub”. Wrywing, jou ou teef.

Weens die “chub rub” het ek toe besluit om maar kortbroeke te gaan aanpas. Ek het baie vinnig besef dat kleremakers die “kort” in kortbroek baie letterlik opneem. Die meeste van die broeke het nie eers my boudflappe toegemaak nie. Die ander was net ‘n asemrowende tentoonstelling van my lemoenskilvelle. Die res kan ek eerder as belde dra. Daarom terug na rompe en die frikkadel-wrywing.

Rokke en wind is vrinne, blykbaar. Want elke keer wat ek ‘n rok of romp dra, is daar ‘n mannetjieswind wat my nooit genoeg tyd gun om vas te hou nie. Die uiteinde is ‘n blosende Hanri wat haar wasgoed-dag-onderklere (ja,ja, almal het die ou onderklere met die blomme en rek wat nie meer kan rek nie wat hulle dra as niks ander skoon is nie) probeer bedek met haar lunchbox.

Dan die beenhare. Dis glo vir baie vroue ‘n probleem. Veral as hulle kortbroeke of kort rompies dra. Vir my is dit ‘n probleem as my minnaar besoek aflê of ek moet swem. Dan kom ek tot die skokbesef dat dit somer is en dat my bene ten toon gestel gaan word en dat die mooie man daaraan gaan vat. Die uiteinde is Hanri wat oor die bad se rand hang, haar droeë bene met ‘n stomp lem skeer en dan sulke rooi kolletjies (wat brand soos ‘n kool vuur) op die non-existent kuite rock.

En dan – terwyl ek oor die bad se rand hang om die swart woud van die bene af te verwyder, vererg ek my vir myself omdat ek die belaglike verwagtinge van vroue om so glad te wees straf navolg. Ek wonder hoekom ek nie my beenhare toelaat om, saam met my romp, in die wind te wapper nie.

Maar dan onthou ek hoe lekker dit is om met gladde bene tussen skoon lakens in te gly. En dan doen ek dit maar volgende week weer.

Elke somer beloof ek plegtig om by die waks – groei- waks roetine te hou. Want dit maak ingroeihare minder. Maar dan onthou ek dat ek arm is en dat ‘n waks duur is. En ook seer is. So dan herhaal ek net die aaklige skeer-roetine (ook, want harverwyderingsmiddels ruik soos ‘n drein).

In die somer besluit ek altyd dat ek mooi gaan lyk met ‘n sonhoed. Dan koop ek een. Want die meisies van Instagram lyk so cool. Dan wil ek nog een koop. Dan besluit ek dat ek ‘n hoed-mens is en dat elke hoed wat ek op my kop plaas my soos ‘n mode-godin laat lyk so ek moet alles koop. Dan lê dit in my kas en stof vergaar want niemand lyk regtig goed met ‘n sondhoed nie (behalwe natuurlik die meisies van Instagram).

In die somer is dit ook moeilik om die binne-buite-balans te kry. Die binne in die kantoor teenoor buite in die somerson balans. Dan trek jy jou somershempie aan met jou nuwe, kant bra. En dan stel iemand die lugverkoeling op -1 en jy loop rond met tepels wat as coat racks gebruik kan word. En mense staar.

Omdat mense staar gaan koop ek toe die goedkoopste truitjie wat ek kan kry. Die trui hang dan die hele somer oor my ruglening want ek vergeet dit daar en ek het my les van die tepels geleer op dag 1 van -1. Maar ek het nie my les hard genoeg geleer nie. Want ek het net rokke gekoop vir die somer. Maar die verdomde lugverkoeler dwing my om elke dag met ‘n jean te werk.

En daar is dan ook niks warem as daardie einste jean as jy by die kantoor uitstap nie.

Ek weet nie of ek alleen staan nie, maar ek het al menigte mental break downs in aantrekkamers gehad. Amper elkeen van hulle as ek swemklere aanpas. Dis aaklig. Maak hulle alle swemklere vir vroue wat nie borste het nie? Of wat strykplankboude het? Want dit voel so. En dit bedek nie die dele wat ek wil bedek nie. En dit het toue en stringe en voue en dinge wat slegs ‘n dieselmotorwerktuigkundige sal kan uitfigure.

En is ek die enigste mens wat vassit aan ‘n plastiekstoel in die somer? Dis asof my sweet insmelt en deel word van die stoel en dan moet ek alle velle aftrek in ‘n poging om op te staan. En as ek dan weer gaan sit klap daai privaatfrikadelle teen mekaar so asof ek ‘n lekker handeklap kry vir my vet wees.  En as ek dan weer opstaan is daar holsweet. I kid you not. ‘n Definitiewe lyn van my spleet op die stoel.

En kan iemand asb vir my sê of ek my sonroom onder of bo-oor my onderlaag moet opsit? Want ek kan nie sonder een van die twee nie.  Ek brand rooi en seer en goudbruin is nie vir my beskore nie. Ek kan ook nie sonder dry shampoo nie. Want in die somer is my hare soos ‘n oliebol wat op my voorkop vasgeplak word.

En dan: my ergste somer vrees… die kombinasie van sand, nat swemklere en ‘n vagina. Dis net die ergste ooit.

En dis ook die hoofrede vir my om veel eerder ‘n winterdier te wees.

 

foto: beckybarnicomics

Die beste raad

 

marie

Die beste raad wat ek nog ooit gekry het, was toe ek ‘n wipgat 17-jarige was. Die wat my ken, weet waar ek vandaan kom. Vir die wat nie weet nie – ek het op Swartruggens groot geword, ons was 19 matrieks is totaal. Nou hoekom dit van belang vir hierdie skrywe is, sal jy spoedig uitpluis.

Net ‘n handjievol van die matrieks van 2005 het Natuur- en Skeikunde as vak geskies. Met handjievol bedoel ek letterlik soos miskien 5.  Die res is almal Bedryfsekonomie toe. Omdat die skool so klein was, is kinders van alle vlakke van verstaan, in een klas gesit. Ek sê nie ek is ‘n akademiese reus nie, maar ek was my lewe lank ‘n onderskeidingskandidaat. Dieselfde het gegeld in die Skeinat- (soos ons daarna verwys het) klas.

Die uiteinde was dat ek (as onderskeidingskandidaat) soms baie gefrustreerd geraak het as ek moet wag tot die skuur-deur-dat-my-gatvelle-aan –die-draad-sit-kandidate die werk verstaan. As ek terugdink besef het dat geduld nnie my sterkpunt was nie en dat ek eintlik bietjie onredelik en onnodig was teenoor die kinders wat op ander vlakke as akademie presteer het.  Maar nietemin – ek was ongeduldig.

My Skeinat-juffrou was ‘n bejaarde vrou. Maar nie sommer enige vrou nie. Sy was my ma se beste vriendin en jare lange vertroueling, amper ‘n mentor. Ek het voor haar groot geword en ek was vir haar lief as Juffrou Botha, maar ook as Tannie Marié.

So sit ons eendag in die klas en die Fisika maak sommer dadelik vir my sin. Die ongeduld skop in. Ek vra vir Juffrou Botha of ek nie maar kan aangaan met my werk nie. Juffrou Botha antwoord, sonder om te kwaai te wees: “Nee, jy moet maar geduldig wag tot almal verstaan en klaar is met die vraag.” Wipgat Wondergem vererg haar en sê: “Maar dis nie regverdig nie!”

En daar kom die beste raad wat ek al ooit gekry het toe.

“Hanri, wie het dan ooit vir jou gesê die lewe is regverdig?”

As 17-jarige het ek nie die volwassenheid of lewenservaring gehad om dié raad werklik te waardeer of te verstaan nie.  Vandag verstaan ek dit aansienlik beter. En dit bly my altyd by.

Want die lewe is nie regverdig nie. Daar is sekere onregverdighede wat mens kan aanspreek, ander moet jy net aanvaar en laat gaan.

Vanoggend sit ek weer en dink hoe onregverdig die lewe soms kan wees. Wat presies onregverdig is, is nie nou ter sprake nie.  Toe spring Tannie Marié se woorde weer in my gedagtes in. Want niemand kan sê die lewe is regverdig nie. Dit is nie.

En asof sy my hoor stuur sy vir my ‘n boodskap. Wat dit so merkwaardig is, is dat sy jare gelede reeds oorlede is. Die boodskap wat sy vandag gestuur het kom deur my ma. My ma het op ‘n briefie afgekom wat Tannie Marié ‘n dekade gelede geskryf het.

Dit lees as volg:

Liewe Larda, (én vir die Pa)

Om ‘n laat geluk te sê, is beter as géén geluk!

Vir Hanri se 21ste: Baie geluk met die produk van 21 jaar: ‘n lieflike, gelukkige mensie wat borrel van lewensvreugde.

Ons is ook dankbaar, saam met julle, vir soveel genade wat julle ontvang het om vir Hanri te kon padwys.

Vir my: ‘n voorreg om haar te ken en van die borrels te kon vang in die klas!

Geniet die borreltjie energie!

Liefde

Marié (ek is seker Ben deel my gevoelens)

Knop in die keel lees ek die boodskap oor en oor. Dat dié wyse vrou dan nou my “borrels” kon raaksien deur my tienerjare. Deur my stink houding en skerp tong. Deur puisies en kniekoppe en stywe poniesterte en hormone.

Ek dink borrel nou meer as ooit – ek wens so Tannie Marié kon die volwasse Hanri ook ken. Die Hanri wat meer geduld het, meer deernis, meer waardering. Die Hanri wat besef die lewe is nie regverdig nie en doen wat sy kan om dit reg te stel. Die Hanri wat kan aanvaar dat sy sekere dinge nie kan verander nie.

Ek wens ek kon vir haar dankie sê vir die goeie raad en dat sy my nooit soos haar mindere hanteer het nie (hoewel ek was).

Maar ek is seker sy sit iewers en glimlag en wéét haar woorde bly my by en die borrels is ook deels te danke aan haar.

 

 

Moeders, staak dit asseblief!

annoying-parents-annoying

Almal wat my ken sal weet dat ek goed is met kinders. Niemand kon nog ooit aan my verduidelik hoekom kinders van my hou nie. Dit was net nog altyd so. En ek het ook nogal ‘n sagte plekkie vir die jonges. Maar… (daar is altyd ‘n maar) is dit werklik nodig dat ek gespam word met kinder-dinge op sosiale media?

Ek vra, want ek weet nie. Is dit soos ‘n ingeboude optrede vir (sommige) ma’s om elke 20 minute iets te plaas wat met die kroos te doen het? (Ek praat nie hier van die elke-nou-en-dan-se-foto nie, ek praat van mense wat letterlik niks anders ooit deel nie.)

Deel is goed. Dis wonderlik. Ek wil weet wat aangaan in jou lewe. Ek sal selfs die oulike foto van die oulike kind elke nou en dan like. Dalk selfs love. Maar die oversharing kry my onder. Ek wil nie sien hoe jou kind ontbyt, middag- en aandete eet nie. Ek wil nie op dieselfde dag jou kind eers in die modder en dan in die bad sien nie. Ek wil nie weet wat in jou kind se doek gebeur nie en ek wil nie sien dat jou baba ‘n uitslag onder die derde rol het nie. Dis te veel.

Ek verstaan ook nie hoekom daar ‘n hele string foto’s van jou en jou baba geplaas word wat elkeen net effens anders is nie… In die eerste foto kyk julle vir mekaar, dan glimlag net jy, dan glimlag net hy, dan trek hy jou hare, dan skree hy. En so gaan dit aan. Wat van jy deel net die beste een van die duisend foto’s? Dan sal ek nie voel ek wil daaroor blog nie.

Hoekom voel (weereens sommige) ma’s ook dit is nodig om ouerskap in elke liewe gesprek in te gooi? Ek lees in die week ‘n ander vriendin se status op Facebook. Sy vertel hoe sy sukkel om kop bo water te hou met ‘n voltydse werk terwyl sy besig is om haar meestersgraad te verwerf. Een van haar vriendinne se reaksie hierop is: “Wag tot jy ‘n ma word, dan sal jy eers verstaan hoe moeilik kop bo water hou regtig is.” Toevallig ken ek die ander vriendin. Sy het ryk getrou, haar werk bedank en maak nou kinders groot. Wat reg is. Dis haar besluit. Maar etter, hoekom so flippen neerhalend wees teenoor iemand anders se struggle? Dit geld ook vir wanneer ek sê ek is moeg (want my skof begin nog voor die hane kraai, ek het insomnia, ek vryskut tussendeur, ek probeer my verhouding en vriendskappe lewendig hou en ek oefen). Om dan te sê “jy weet nie wat moeg is tot jy borsvoed of ‘n siek kind het nie” gaan my nie minder moeg maak nie. Dit is nie ‘n kompetisie van wie die moegste is nie.

Ek wat is dit met die oordrewe lof vir prestasies op Facebook? Gaaf, so jou kind het goud gewen in die 10 meter kruip. Good for her! Post as jy wil. Maar een foto is genoeg. Hoekom die oggend ‘n foto post op pad na die skool. Dan nog een soos jy die kleinding neersit om weg te spring. Dan ‘n video van die actual event. Dan ‘n foto van die medalje. Dan ‘n foto van die roomys omdat die kind gewen het. Dan ‘n foto van die kind wat slaap omdat sy moeg is omdat sy gewen het? Het jy even vir die kind laat weet jy is trots? Of was jy te besig om foto’s te neem?

En terwyl ek nou so lekker gal braak – verduidelik asseblief vir my hoekom niemand die moer in raak as ‘n ma op Facebook tekere gaan oor hoe leeg en sinneloos mense se lewens is voordat hulle kinders het nie? Maar as ek sê ek is bly dat my bababoks nog in onbruik is, word my kop afgebyt en daar word sommer in hoofletters getik?

Dieselfde geld vir die oordeel. Niemand kan so hard judge soos ma’s nie. “Daai een gee vir haar kind te veel hoesstroop.” “Daai een vryf nie winde reg uit nie.” “Daai een se kind se ontwikkeling is agter want die ma is lui.” Wie het jou die kenner gemaak na jou een ervaring?

Ek het op instagram maar liefs ‘n paar ma’s unfollow. Ek het gaan tel (want ek is dalk kleinlik en ook om my punt te staaf): Meer as drie honderd foto’s van die kind. Niks anders nie. Ek is nie vriende met die kind nie, ek is vriende met die ma. Bygesê die verkleinwoorde was vir my een te veel. En as mense post asof hulle namens die kind praat wil ek my shit verloor.  “Ek word so mooi groot.” “Ek kan al sit.” “Ek is kwaad want ek moet groente eet”.  Verskoon my, Susan. Almal weet daai kind kan nog nie praat nie so moenie aanneem dis wat die kind dink nie. Stating (and statussing) the obvious is nooit oulik nie, selfs nie met ‘n baba daarby nie.

Goed. Ek is klaar. Ek reken as jy die post op Facebook sien is dit veilig om te weet jy het my nog nie so geirriteer dat ek jou unfriend het nie (dalk net unfollow, dalk nie).

Gaan geniet jou ma-wees sonder om my daarmee te spam. Asseblief en dankie.

 

foto: makeameme.org

 

 

 

 

 

 

Valentysdag-waarhede

1518510306382_70b05de006794deb8b3149b3886da1046830de71ee8c6ace8134e6948833463a 0.gif

So… dit is Valentynsdag. ’n Dag wat sorg dat sommige winkels ryk word omdat mense rondskarrel om sjokolade en teddie-bere en hartjie-balonne te koop. ’n Dag waarop ek vir 30 jaar vir myself, en die wêreld, gejok het oor hoe ek regtig voel.

Ek sê nie om Valentynsdag te vier is reg nie, ek sê ook nie dis verkeerd nie. Maar ongeag hoe hard ek probeer maak het asof dit my nie pla nie, as (destyde) chroniese enkellopende was dit elke keer ’n dolk in die hart. En hoewel ek nie namens elke mens op die aardbol kan praat nie, kan ek namens myself praat. En elke keer wat ek gesê het dis simpel en eenvoudig en ’n geldmaakstorie en ek voel ’n veer, het ek gejok. Of soos ’n kollega sal sê: “Jy praat loutere, onverdunde, makoukak!” En is is amper doodseker ek is nie die enigste mens wat al oor my gevoelens oor Valentysdag gejok het nie.

En ek het nie gejok omdat ek diep telleurgesteld was omdat die man van my drome my nie gevra het om te trou nie. Ek het nie gejok omdat my man-crush nie op Valentysdag sy ewige liefde aan my verklaar het nie. Ek het gejok om myself te beskerm. Omdat ek alleen was. Omdat ek om my gesien het hoe mense ’n klap van die romance weg het op die dag en ek nie ook geklap is nie.

Ek het gejok omdat ek nie kon deel in die opwinding nie. Omdat reklame uitgebassuin het dat rose op afslag is en soetgoed en romantiese etes en wegbreek-naweke beskikbaar is. Ek is ’n sucker vir ’n spesiale aanbod en ek kon nie deel daarin nie, want ek het niemand gehad vir wie ek dit kon koop nie. Ek het nie voordeel daaruit getrek nie omdat niemand dit vir my wou koop nie.

Ek was heel voor in die koor van enkellopendes wat so hard geskree het dat Valentynsdag nie saak maak nie dat dit toe eintlik heel ooglopend was dat ek oorreageer want dis ’n seer toon wat met ’n hakskoen getrap word.

Ek het ook gemaak of 14 Februarie net nog ’n dag is, dat dit nie spesiaal is nie… Ek het sovêr gegaan om teen-Valentysdag-planne te beraam. Enkellopendes gebel om saam met my te gaan dronk word. En hoe meer ek aan die 14 Februaries van my lewe dink, hoe meer besef ek hoeveel ek regtig eintlik omgegee het.

Self toe daar wel ’n man in my lewe was, het ek gemaak of ek nie omgee nie. Nie omdat ek regtig nie omgegee het nie, maar uit pure vrees dat ek soos ’n idioot sal voel as ek met sy Valentysbederfie opdaag en hy staan daar met leë hande. Want dit het al gebeur.

Na my mening het ons elkeen iewers ’n plekkie in ons harte waar ons wel omgee oor Valentysdag. ’n Plekkie wat wens iemand wil genoeg omgee om ons darem net so bietjie te bederf. Al is dit net ’n handgeskrewe briefie en net eenkeer ’n jaar.

En vir diegene wat dit nou oorweeg om heeltemal aapkak te gaan en vir my te vertel hoe min jy omgee – ek kyk vir julle – ek weet julle gee die meeste om. En ek weet dit want ek was in julle skoene. En al die negatiewe goed oor dié dag is waar. Dit is eintlik nogal silly. Dit is ’n geldmaakstorie om meer rose en sjokolade te verkoop. Dit is ’n kans vir vroue om mans te dwing om The Notebook en A Walk to Remember en Titanic te kyk. Dit is alles waar. Maar jy gee steeds om. En dis okay.

Maar op 14 Februarie 2018 gaan ek nie jok nie. Ek gee om. Ek het reeds ’n geskenkie (verkleining want dit is niks duur of groot nie) vir my minnaar gekoop. EK het ook ‘n kaartjie (met die hand gemaak… want ek het nul rand in die bank). Ek gaan ’n piekniekkombers op my grasperk gooi. Daar sal witwyn op ys wees en ons sal pizza bestel. En ons sal vir mekaar betekinsvolle kyke gee en (hopelik) lekker vry. En al daag hy met leë hande op (want ek weet nie sal gebeur nie want hy is die heel beste minnaar ooit), sal ek dit steeds doen. Want ek gee om en ek wil hom bederf.

Die lewe is besig en kort en daar is min genoeg tyd vir ’n bietjie bederf en om jou closeted romantic vry te laat.

Viva Valentysdag!

 

 

 

 

 

Liewe tiener-Hanri

321059_10150317964899374_2059368997_n

 

Liewe tiener-Hanri

Ek skryf vir jou die brief amper twee dekades later. Want jy, liewe Hanri, leef in jou tienerjare in ‘n lugkasteel in ‘n droomwêreld.  So hier is ‘n paar feite oor jou verwagtingtinge, wat jy dalk eendag met jou eie tiener kan deel.

Jou puisies gaan nie verdwyn die oomblik wat jy jou tienerjare vaarwel roep nie. Daar is ‘n kleine liggie in die donker tonnel van ag-nee-vel…dit word beter. Jy gaan nie soos ‘n roesyntjiebrood lyk nie. Maar dit gaan nie weg nie. Soos ek hier sit en skryf vat-vat ek al aan 31 en op my linkerwang is die Kilimanjaro van puisies. Was jou gesig tog behoorlik.

‘n Duisend rand is nie baie geld nie, al dink jy nou dit is.  Inteendeel. Dis min. Moenie dat die drie nulle jou opgewonde maak nie. Jy blaas dit binne die eerste veraglike aftrekorder. En dan nog ‘n paar duisend daarna. Al wanneer ‘n duisend rand soos baie voel is as jy dit in jou benakrekening het twee dae voor jy betaal word. En dit gebeur amper nooit.

Jy dink almal, behalwe jy, weet presies wat om met hulle lewens te doen. Dit is nie die waarheid nie. Niemand weet regtig waarheen hulle op pad is nie. Daar is mense wat maak of hulle weet. Maar teen die tyd wat jy 25 is sien jy regdeur daai mense. As jy PMS het, het jy  niks tyd vir hulle bullshit nie en sê jy vir hulle jy sien deur die stront. Jy gaan okay wees. Jy gaan 4 keer van studie-rigting verander. Jy gaan werke verwissel. Jy gaan 30 word en steeds nie weet wat om met die res van jou lewe te doen nie. En dis okay. Niemand weet regtig iets nie. Jy is nie alleen nie.

Jy is nie volwasse vir jou ouderdom nie. Die enigste rede hoekom jy dink jy is volwasse vir jou ouderdom, is omdat jy te veel in volwassenes se geselskap is. Hou op daarmee. Geniet jou jong jare. Omhels dit met altwee arms. Jy mag nog giggel en laf wees. Al dink jy nou “dis nie cool nie”, gaan jy later net nie meer omgee nie.

Ek weet jou ma se nou vir jou “dis net ‘n fase” en dan word jy woedend want jy dink: “dis wie ek regtig is”. Maar jy kan haar maar glo. Sy is wys. Jy gaan nie oor ‘n paar jaar dink om jou lippe swart te maak en stewels, wat ‘n prostutuut laat bloos, aan te trek is oulik nie. Jy gaan nie meer gel in jou hare sit nie. Jy gaan nie meer oogomlyner, wat dikker as ‘n Amerikaner wat aan vetsug lei, aansit nie. Dit is regtig ‘n fase. En jy hou baie meer van jou ouers as wat jy nou dink.

Op die oomblik dink jy babbelas is nie so erg soos wat mense sê nie. Dit is. Jy weet net nie nou al hoe dit voel nie. Jou een glasie rooiwyn of skelm sletsappie is nie ‘n goeie maatstaf nie. Eendag gaan jy wakker word en jou mond gaan voel asof ‘n hawelose dwergie daarin geslaap het en sy vuil wolkombers agtergelaat het. Dit gaan voel of dieselfde dwergie teen jou slape skop. Gisteraand se plesier gaan in jou keelgat opkruip en jy gaan die heeldag wil huil. Maar dit gaan jou nie afskrik nie. Jy gaan steeds aanhou wyn drink (gaan kyk maar weer wat ek gesê het oor volwasse vir jou ouderdom wees. Jy is nie. Jy leer nie.)

Oor Kerstyd en verjaardae is jy nou baie lief vir geskenke wat heeltemal over the top is. Iemand gaan vir jou kouse as geskenk gee en jy gaan dink dit is die slegste geskenk ooit. Later gaan jy wel besef dat praktiese geskenke die beste bederf is. O, en net dat jy weet – jy dra nogsteeds daai einste kouse in die winter.

Jy dink nou dat jou lewe agter mekaar sal wees teen jou 21e verjaardag. Dit gaan nie. Jy dink 25 is oud. Dit is nie. Jy noem 30-jarige vrouens tannies. Moenie.

Ek weet deurnag-sessies is vir jou vreeslik opwindend. Geniet dit maar terwyl jy kan. Jy gaan eendag gedwing word om te deurnag en jy gaan dit haat. Jy gaan eendag daarvan hou om te slaap en wens iemand wil vir jou sê: “Jy moet nou bed toe gaan.” En gaan terug verlang na die dae toe jy 8ure elke aand kon slaap.

Jy voel nou erg sleg en soos ‘n loser as jy nie planne vir die naweek maak nie. As jy eers in jou 20’s is gaan jy elke naweek planne hê. Later gaan jy begin om uitnodigings van die hand te wys. En eendag gaan jou idee van die beste naweek wees om in jou slaapklere voor die televisie te le, kitskos te bestel en middagslapies. Jy dink nou mense wat dit doen is sad. Hulle is nie. Jy word een van hulle en dit is lieflik.

My vriende is friends for life. Dis sweet. Jy gaan kontak verloor met 99% van jou skoolvriende. Julle gaan een keer per jaar op Facebook vir mekaar goeie verjaardagwense toewens. En dis al. Jou ware, harstvriende gaan jy op universiteit en later in jou lewe ontmoet. Hulle gaan uiteenlopende persoonlikhede, ouderdomme en belangstellings het. En jy gaan liewer wees vir hulle as wat jy ooit in staat was in jou tienerjare. Daai matching hangertjie wat die een sê “best” en die ander “friend” kan jy maar dra, maar jy gaan dit weggooi en daaroor lag eendag.

Jy dink nou in jou 20’s gaan jy ‘n groot, luukse meenthuis kan bekostig. Nee. Jy kyk te veel televisie, tiener. Dit is onrealisties. Jy gaan in voëlhokkies bly of woonstelle deel met vreemde mense. Jy gaan nie geld hê vir ‘n groot televisie, ‘n spaarkamer of selfs ‘n mooi mat nie. In ‘n stadium gaan jy in iemand se garage bly. Jy gaan nie eers ‘n badkamerdeur he nie. Jou landlord gaan sy valskerm-onderbroeke by jou voordeur ophang.  Jou stortgordyn gaan vasplak aan jou bobeen. Maar dit gaan later beter word. Jy gaan alleen bly as jy 30 is, maar in ‘n gemakliker, eenslapkamerwoonstel. Jy gaan nogsteeds op die bank slaap as jou ouers kom kuier… En terwyl ons oor verlyf praat. Jy dink nou teen die tyd dat jy 30 is gaan jy in ‘n kasarm van ‘n huis teen ‘n heuwel bly. Nope. Not happening.

Jy is nou verlief. Dis puppy love en dis lekker. Maar dit gaan (genadiglik) nie hou nie. Jy gaan nog baie verlief word. En jou hart gaan telkemale in stukke spat. Jy gaan seer kry. Jy gaan moed opgee. Jy gaan weer probeer en weer seer kry. Maar jy is sterker as wat jy nou dink. Dis alles deel van die lewe. Dis nie nodig om nou jou verhoudings so ernstig op te neem nie. Nie een van die ouens in jou tienerjare is jou trane werd nie. En as jy dertig is gaan jou hart weer breek – maar moenie te bekommerd wees nie – ‘n jongman gaan jou so styf vashou dat al die stukkies weer in plek gaan val.

Jy gaan spyt wees eendag. Maar dit gaan te laat wees om iets daaraan te doen. Jy gaan spyt wees dat jy nie meer vir jou Ouma gaan kuier het nie. Jy gaan spyt wees dat jy nie jou ma se raad wou volg nie. Jy gaan spyt wees dat jy sommige mense in jou lewe toegelaat het. Jy gaan spyt wees dat jy ander mense weggestoot het. Jy gaan spyt wees, maar jy gaan ook dankbaar wees en besef dat jou lewe, hoewel dit anders lyk as wat jy verwag het, pretty damn awesome is.

Groete

Amper-31-en-steeds-nie-heeltemal-volwasse-Hanri

 

 

 

 

 

 

‘n Dankie vir die verstaan

it-is-both-a-blessing-and-a-curse-to-feel-everything-so-very-deeply

Met die ingang na die derde dekade van my lewe (dit klink way meer dramaties as om net te sê ek is 30 jaar oud), het wysheid en aanvaarding van ‘n ander aard gekom.

Ek gaan nie vandag uitbrei oor al daardie wysheid en aanvaarding nie – maar wel oor twee baie belangrike dele daarvan.

My lewe was nog altyd opwindend. Soms te opwindend. So moes ek seker  geweet het dat die stille waters van die mees onlangse minnaar  met diepe grond (en om die liedjie te voltooi – onder draai die duiwel toe wel rond) gepaardgaan. ‘n Mat word skielik, sonder waarskuwing onder my voete uitgeruk en die man, wat belaglik diep in my hart is, is toe skielik nie meer in my lewe nie. (Moenie vrae hieroor vra nie, ek het nie antwoorde nie en ek is nog nie reg vir praat  nie. Mens krap nie aan ‘n rou wond nie).

Hanri van ‘n dekade gelede sou nou alleen op haar bed gesit en die trane met wyn afgeforseer het.  Sy sou ‘n masker opgesit het en waardelose vrysessies met vreemdelinge en dronk aande nagejaag het. Niemand laat weet het dat sy deur nog ‘n man verwerp is nie. In stilte swaar gekry het en verneder gevoel het om ‘n teken van mens-wees te wys. Die Ice Queen-gesiggie opgeplak het na dae van selfbejammering en stadig maar seker dieper in ‘n gat van selfbejammering gesink het tot depressie haar verswelg het. En niemand sou dit weet nie. Want maskers is maklik om op te sit. Sy sou haarself vernietig het en geweier het om te voel wat sy voel.

Drie-dekades-Hanri het genadiglik ‘n ander aanslag. Die maskers le iewers in ‘n stowwerige laai.

Maar dit beteken dat ek die seer wat ek voel om my gesig dra.

En dit is eintlik waarom ek vandag skryf.  Nie om die seer te ontleed nie, maar om dankie te sê vir die mense wat my gehelp het om tot aanvaarding te kom deur net te verstaan.

Die woord “ondersteuningsnetwerk” is nie vir my ‘n lekker woord nie. Dit klink of dit “beige” is. Maar dit is al woord wat ek het. En ek het opnuut besef hoe belangrik dit is. “Hanri, ryk uit na jou mense toe. Moenie nou binne in jou dop inkruip en alleen swaarkry nie.” My sielkundige weet wat gebeur as daardie donker skaduwee van depressie oor my kop hang en ek in alleen in die swart see swem. Sy weet dat ek al vir twee weke swaar trek. Ek volg haar raad. Want die jongste liefdestelleurstelling kom in ‘n tyd waar ek reeds sukkel om die wolk te verdryf en waar ek besig is om te sink.

Net soos die Voortrekkers van ouds, trek my mense toe laer om my. Nie met gewere en seep van seekoeivet nie. Maar ‘n definitiewe laer om my te beskerm. Ek laat weet die wat moet weet dat ek “nie okay” is nie. Ek hoef nie te veel besonderhede te verskaf nie. Want vir hulle maak dit nie saak hoekom ek sukkel nie, hulle oordeel nie en sê nie ek moet myself “regruk” nie. Hulle is nie onlingeligte idiote nie. Hulle verstaan. Hulle ken my.

Dis boodskappe van bemoediging, wyn, drukkies, koffie, kos, sjokolade en teenwoordogheid wat my oorval. En so saam-saam, sonder dat hulle dit besef, hou hulle my kop bo die water van die swart see. Sonder dat hulle enige iets terug verwag skyn hulle ligstrale deur die donker wolk. Vir die wat nie weet nie (die swart see en donker wolk is my manier om na depressie te verwys. Die wat diagnoses of selfs vermoede van diagnoses het, sal weet waarvan ek praat.)

En hoewel ek nie vandag, more of oor ‘n week “okay” gaan wees nie, is my hart rustig genoeg om te weet ek gaan eendag weer “okay” wees.

En dan kom die aanvaarding. Die aanvaarding dat ek ander mense se dade en gevoelens moet respekteer, al verstaan ek dit nie. Die aanvaarding dat ek nie van ander mense kan verwag om soveel van hulle mensewees vir ander te gee, soos wat ek gee nie. Die aanvaarding dat ons elkeen ons eie oorlog in die hart en kop veg en dat ek nie noodwendig beheer daaroor het nie.

Die aanvaarding dat seer ook deel van die lewe is – en dat dit beter is om seer te voel as om niks te voel nie.

Die aanvaarding dat die gesegde “it is both a blessing and a curse to feel everything so very deeply” my realiteit is.

Die aanvaarding dat ek nie alleen hoef te sukkel nie.

En die dankbaarheid vir die mense wat verstaan en so die aanvaarding aanmoedig.