Blommeverkopers en storms

13483114_10154386326219374_3837262298922614057_o

Dit is ‘n moeilike tyd. ‘n Storm woed by my werkplek en ons swem om nie te versuip in al die kritiek en negatiwiteit nie.  En met tye voel dit of versuip dalk die beter opsie sal wees.

Boonop is dit laat in die maand en ek is platsak.  Ek en ‘n kollega het ons al oorgegee aan “reduced” wyn. En met reduced bedoel ek die wyn het ‘n volle R20 gekos.

Dit voel of ek ‘n krieketster is, want al die balle wat na my toe gegooi word moet ek wegslaan met ‘n “geen kommentaar”. Dit gaan swaar. Dit is nie lekker nie en ek sukkel om my gemoedsbekakking te oorwin.  Ek gaan deur ‘n helse tyd, man.

Net toe ek dink daar is geen hoop vir selfs ‘n aanduiding van ‘n goeie bui nie, verander alles vir ‘n vlietende oomblik.

Na die reduced wyn en ‘n rolprent wat glad nie goed is nie, maar my gedagtes darem vir ‘n tydjie besig gehou het, vat ek die pad na my woonstel. Ek sit in die kar en dink hoe sleg dit nou vir my is om alleen te wees. My hart is seer, ek is bekommerd en dit is koud.

Ek verval in selfbejammering.

Tot ek by die verkeerslig stop. ‘n Blommeverkoper hol nader. Ek sê: “No thank you”. Nie omdat ek nie blomme wil he nie, maar omdat ek dit nie kan bekostig nie en omdat die blomme amper so verlep lyk soos ek voel.

Maar die blommeverkoper loop nie. Ek sê weer: “No thank you,” en voeg by “I’m sorry.”

“Madam,” praat die blommeverkoper terug. “I do’t want to sell you the flowers. I want to give it to you.”

Uit die veld geslaan. Hoekom sal die man nou dit wil doen.

“Firstly, you look so pretty with that pink hairs of yours. Like a young, white Mary J. Blige. And I like her. So I like you. You and that pink hairs just brightened up my day. I feel happy now. Now I must make you feel happy too. Take it. Before the robot is green.”

En net daar, met sy tandlose glimlag en verlepte angeliere maak die blommeverkoper alles beter.  My ma se woorde flits deur my kop. “My kind, partykeer kalmeer God die storm. Ander kere kalmeer hy sy kind.”

Daai blommeverkoper het die storm (minstens vir ‘n tydjie) laat bedaar. Die storm woed voort, maar my hart is rustiger. En dankbaar. Want ek kan ‘n Mary J. Blige treffer sing.

Another lesson lean. Better know your friends, or else you will get burned. Gotta count on me, cause I can guarantee that I’ll be fine.

Advertisements

Die dose van enkellopend wees

12513645_10153981496770883_8886475367570121868_o

‘n Week of wat gelede sien ek op Facebook iemand sê dat enkellopendes in vyf kategoriee ingedeel kan word. Dis al wat genoem word. Net die vyf dosies waarin ons geplaas word. Geen beskrywing of besonderhede nie. Maar as chroniese enkellopende dink ek ek het amper genoeg ervaring om die prentjie meer kleur te gee. Want in een of ander stadium van my lewe was een (of elkeen) van die dosies al my huis.

Die plasing op Facebook het so gelees:

If you are single you are either: (1) Talking to someone you like. (2) Stuck on an ex. (3) Chasing someone who is taken. (4) Ignoring someone who wants you. (5) A lonely fucker who doesn’t speak to anyone.

  • As jy praat met iemand van wie jy hou. Ek ken ‘n ou wat na homself as ‘n “serial verliefworder” verwys. Ek is nou nie so nie. Maar ek hou maklik van mans. En dan wonder ek heeldag oor die knape. Ure en ure gaan verby waarin ek aan niks en niemand anders kan dink as die een nie. Ek wonder of hy dieselfde voel en skraap nooit die moed bymekaar om te vra nie. Elke sin wat hy uiter word ontleed en dinge ontaard in ‘n kat-en-muis-speletjie. Boodskappe word aan vriendinne gewys vir verdere ontleding.  Tot ek genoeg van hom weet om te besef ek moet dalk eerde ‘n muisval stel en die ding sy stil dood laat sterf. As jy so baie moet dink en wonder is hy dalk nie die een wat jou gedagtes werd is nie. Of jy is nie sy tyd werd nie want jy het nie genoeg moed om te praat nie. So laat dit began.

 

  • Die eks. Ek hou daarvan om te maak of die manne wat in die kategorie val amputeer en nooit weer aan hulle dink as die verhouding sy laaste asem uitgeblaas het nie. Helaas. Ek besef dat, net soos vir baie ander mense, om te laat gaan toe nou nie so maklik is nie. Nee. Ek sit vir ure op ‘n slag en tob. Ek wonder gedurig of die eks darem ook aan my dink. Ek beloer sy sosiale media profiel om my plaasvervanger te kan bekyk. Ek eet heeltemal te veel soetgoed en verveel ‘n uitgesoekte klompie vriendinne met al my vraagstukke oor die mislukte verhouding. Soos ek hier sit en tik kan ek aan minstens een eks dink wat nogsteeds sy plekkie in my hart volsit. En selfs as daar iemand nuut op die horison is, word daar vergelykings getref met die een wat voor hom die horison verlig het. Die “Eks-files” word nooit gesluit nie. Dit bly soos ‘n cold case moord by my spook. En ek haat dit.

 

  • Die verbode vrug. Daai liedjie het waarheid gepreek met die lirieke “is donners lekker”. Dit is lekker. En giftig. Hier wonder jy wat die ander een, die een aan sy sy, dan ‘n beter keuse as jy maak. Jy beraam planne oor hoe jy hom kan afvry en dit backfire gewoonlik en jy verloor ‘n vriend. Dit is seker die gevaarlikste een van al die dose waarin jy jou kan bevind. Daar is selde ‘n gelukkige einde. Want selfs al kry jy dit reg om hom af te rokkel, begin jy wonder of ‘n ander vrou dieselfde sal kan vermag. En ja, die Engelse het dit reg gekry toe hulle gesê het: “If he cheats with you, he will cheat on you.” En sies in elk geval dat jy in ander se slaai krap, sê ek en laat sak my kop in skaamte.

 

  • Die een wat van jou hou, maar dis ‘n eenrigtingstraat. As die doos jou voorland is, is jy in ‘n moeilike posisie. Want daar is min dinge slegter as verwerping. Vir enige iemand. Jy was dalk al self die een wat in die eenrigtingstraat gery het. Hier is die wyse woorde van ‘n vriend van toepassing: “ruk die pleister af”. Ja die aandag laat jou met tye dalk beter voel oor jouself, maar jy is besig om iemand se tyd te mors. Tog reageer jy steeds op elke tweede of derde boodskap. Dis wreed en onregverdig en ek weet ek moenie. Maar ek doen.

 

  • Die eensame fokker wat met niemand wil praat nie. Ja ek het gesê fok. Want fok man, dis amper die verwarendste dosie van al die dose om in te wees. Jy jak mense af en verkies meestal jou eie geselskap. Tog wonder jy dan hoekom jy alleen is en verval jy in ‘n toestand van selfbejammering en drink jy bottels wyn op jou eie uit. Hierdie is lag-lag die doos waarin ek tuis voel omdat ek so baie tyd in hom bestee.

 

En soos ek sit en tik besef ek dat ek nou ‘n liederlike sonde gepleeg het. Ek het myself en my mede-enkellopendes in dose geplaas. Dis ‘n skande. Ons hoef nie in dose te wees nie. Ons kan doen en voel en aanjaag soos ons begeer want ons is ongebonde en vry. En so what as jy dalk met een van die dose kan vereenselwig. Jy moet voel wat jy moet voel en dit hanteer soos jy goed dink. Om die oomblik is ek al die bogenoemde en nog meer. En dis verwarrend en lekker en ek gaan oor 10 jaar terugkyk en (hopelik) hieroor lag.

Ons is dan maar almal freaks.

freak2

“Ons is almal freaks.” So het ‘n galbraak-tenniswedstryd tussen my en Vriendin tot ‘n einde gekom. Soos jy (alleen) ouer word is mede-enkellopende vriendinne so skaars soos hoendertande. So wanneer twee van ons “susters in verknorsing” dieselfde Vrydagaand oop het, gryp ons die geleentheid aan. Ons sit by ‘n restaurant in Rosebank wat nie een van ons eintlik kan bekostig nie, maar altwee voel ons verdien.                                                       Om ons koer duifies vir mekaar terwyl ek en Vriendin begin stories vertel. Maar die stories het geen gelukkige eindes nie. Nie een van die stories se slotsin is “en hulle het lank en gelukkig saamgeleef “ nie.

Sy vertel van Verloofde. ‘n Man wat, na ‘n naweek van passie saam met haar tussen die lakens, so in die verbygaan genoem het hy trou. Met ‘n ander vrou. Oor ‘n maand.             Ek vertel van Kongo. ‘n Man wat, nadat ons vir ses maande in ‘n verhouding was, vir my vertel het hy trek na die Republiek van die Kongo toe. Die nuus is gebreek twee dae voor sy vlug en hy het dit duidelik gemaak hy vry nie oor ‘n afstand nie.                                                     Sy vertel van Verkuller. Haar groot liefde wat liefde gevind het in die arms van een van haar vriendinne. Iemand wat sy nou as white trash beskryf.                                                           Ek vertel van Amper. Die man wat my amper laat glo het ek die liefde van my lewe ontmoet  wat net een dag besluit het sy “hart is nie meer in dit nie”.                                        Sy vertel van Vermy. ‘n Man wat altyd afsprake en beloftes maak, maar dan op die nippertjie kop uitgetrek het en dan sit jy met jou hakskoene en rooi lippe en haat jou lewe.  Ek vertel van Dwelmslaaf. ‘n Man wat my vir maande om die bos gelei het met sy “werksure” wat toe al die tyd ‘n liederlike dwelmverslawing was.

Elke vertelling is ‘n nuwe stel van die galbraak-tennis, maar nie een van ons gaan die wedstryd wen nie. Ons is altwee al vir te lank enkellopend en daar was al net te veel hartseer en telleurstelling en verwagtinge en leë beloftes.

Toe se Vriendin die volgende: “As ‘n man ouer as dertig en steeds enkellopend is, kan jy maar weet hy is ‘n freak. Iets moet fout wees met hom.”

Die stelling tref my teen die bors en dit voel of sy ‘n emmer yskaswater oor my kop uitgooi. “Wat dan van ons?”kom my opvolgvraag.  Want Vriendin het die dertig merk reeds oorgesteek en ek kom met ‘n stinkspoed na dieselfde merk aangehol.  Is ons dan ook freaks? Misbaksels? Natuurfratse?

En net daar kan ek nie help om te wonder of ék die onderwerp van ‘n galbraak-tenniswedstryd tussen twee mans is nie… Word daar dalk na my verwys as Teef, Tease of Emosioneel Onbeskikbaar?  Is ek vir iemand ‘n Koue Vis, Onredelik, Draadwerk of Mixed Signal? Is daar fout met my? Is eintlik die freak?

“Ja,” kom Vriendin se antwoord, “jy is. Ons is almal freaks.” Sy bars uit van die lag.  Nie een van ons weet hoe om die gesprek voort te sit nie. Toe gaan drink ons maar tequila en dans die nag om. Want dis mos maar wat ons freaks doen.