Die selfsug van single wees

13701035_10154438013439374_2596761895392982574_o

“Single mense is so selfsugtig.” Dit kom nie heeltemal uit die bloute nie. Ek het dit al male sonder tal gehoor. En as ek moet eerlik wees, dit is seker in sekere opsigte waar.

Ja, my tyd is my eie. Ja, ek kan kies wanneer en hoe lank ek wil slaap oor naweke. Ja, ek kom en gaan soos ek wil. Ja, ek hoef nie my koskas, klerekas, yskas, badkamer, mikrogolfoond, kombers of die afstandbeheer van die TV met enige iemand te deel nie. Ja, my skamele inkomste is net myne en daarmee kan ek doen net wat ek wil. Ja, ek drink soms twee (of 10) glase wyn te veel en slaap dan my roes af die volgende dag. Ja, daar is soms ‘n los gelukkie op my pad in die gedaante van ‘n hubare jongman. Ja, al hierdie dinge is waar.  Ja, dit sal seker swaar gaan as ek dit moet prysgee as daar die dag ‘n man in my lewe kom wat wil bly en babas maak.  As dit die definisie van selfsug is, dan is ek selfsugtig tot die mag tien.

“Gesinne is selfs meer selfsugtig,” kom dit toe uit ‘n onwaarskynlike mond. Almal snak na hulle asems. Nekke ruk omtrent in spasmas in. Dis ‘n niggie wat selde haar stem gebruik wat met dié wysheid vorendag kom. Toe almal staar begin sy verduidelik. “Gesinne is selfsugtig, dis net meer sosiaal aanvaarbaar.” Uit die veld geslaan.

Dis die oujongnooiens se skottelgoed beurt. Niggie gryp die afdroogdoek en my aandag vas.

“Hoe gereeld sien jy jou vriende en vriendinne wat kinders het?” Baie gereeld. “Goed, baie gereeld. Hoeveel keer ry jy agter hulle aan?” Altyd. “Wanneer laas het een van hulle moeite gedoen om by jou uit te kom of na ‘n plek te gaan wat vir jou meer gerieflik is?” Lanklaas… amper nooit.

Sy het ‘n punt beet.

“Hoeveel keer is hulle kinders al as verskoning gebruik om nie iets te doen nie?” Baie gereeld, maar kom ons wees redelik. Die kinders is hulle verantwoordelikheid. “En het hulle nie ‘n eggenoot wat dalk vir daai uur of twee wat jy hulle nodig het na die kinders kan omsien nie?” Dis waar. Alone time met my hartsmense is nie ‘n gereelde ding nie.

Steeds probeer ek die gesinne-vrinne verdedig. Dis nie asof my huis kindervriendelik is nie.  “Dalk nie, maar kan hulle jou nie by jou gunsteling restaurant of kroeg kry nie?” Dis nog ‘n goeie punt.

“En is hulle huise Hanri-vriendelik?” Ek frons. Ek is nie berug daarvoor dat ek verwoesting saai nie.

“Word jy gekasty vir ‘n kragwoord wat uitglip in die kleinding se teenwoordigheid?” Ja. “Moet jy heeltyd bedag wees op waar jy jou glas wyn neersit sodat klein mondjies nie ‘n sluk steel of die glas omgooi nie?” Ja. “Word daar ooit werklik na jou geluister of is die ouers heeltyd aan die omvlieg om seker te maak die kind is nie besig om stout te wees nie?” Ja.

Hel. Sy het regtig ‘n punt beet.

“Is daar al vir jou dankie gesê vir elke kilometer wat jy al afgelê het vir ‘n kombuistee, troue of babatee? Vir elke sent wat jy bestee het aan geskenke vir hulle, die kinders of eggenote? Vir al die tyd wat jy opoffer om by hulle en hulle kinders se skedules in te pas?” Ja, maar selde.

“Jy sien – gesinne is ook selfsugtig.” Sy het haar punt gestaaf.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is baie lief vir my vriende en net so lief vir hulle kinders. Ek sal agteroorbuig om hulle tegemoet te kom. Maar nooit weer hoef ek ‘n greintjie van ‘n skuldgevoel te he oor my selfsug as enkellopende nie. Nooit weer hoef ek te buk onder die oordeel van enige iemand wat aan “sosiaal aanvaarbare selfsug” lei nie.  En vir ieder en elk daar buite wat ‘n eier te le het oor “single mense” en hulle gewoontes, dink mooi voor jy praat. Jou eie selfsug staan net dalkies op jou voorkop geskryf.

 

Advertisements