#singlegirlproblems

single-girls-problems-advantages-illustrations-livingstov-fb2__700-png

Daar is ‘n magdom voordele aan enkellopend wees. Te veel om te noem. In die algemeen is dit lekker en geniet en waardeer ek dit. Maar dan is daar tye wat my enkellopende-status my onderkry. En dis met die alledaagse dinge wat ek moet erken dit sou beter wees om ‘n man in my lewe te hê. Ek werk nou al lank aan ‘n lys en toe ek verlede week met ‘n wynbottel, wat net nie wil oopskroef nie, stoei… toe besluit ek om dit neer te pen.

Ek skop af met die wynbottel. Ek kan met ‘n kurktrekker werk. Ek drink al lank wyn. Soos ‘n dekade. Ek is ‘n meester.  Maar deesdae is daar hierdie afskroef-opskroef-affêres wat voel of dit met metaal versterk is en net daar gestel is om my te laat voel of ek ‘n man broodnodig het. Want wyn. Dieselfde het gegeld vir die mayonnaise-, agurkie- en katjiebotter-bottels. Toe koop my ma so kontrêpsie (wat sy ‘n megafter noem) wat die probleem oplos. Maar daai wynbottel kry my onder. Ek het, nadat ek ‘n sweetsnor ontwikkel het van die inspanning en my vinger amper geamputeer het, ‘n gat van bo in die bottel gedruk en die hele bottel net daar op die kombuisvloer gesit en opdrink. Maar dit sou beter, aansienlik meer aantreklik en minder seer wees as daar die sterk kloue van die manlike geslag teenwoordig was.

Die vyfde wiel. Ek is mal oor my vriendinne se minnaars/kêrels/huweliksmaats/lewensmaats. Maar moet hulle ALTYD saamkom na alles toe? As ons begin klets oor hare en waxing en so aan, staar hy/sy inelkgeval met ‘n dooie uitdrukking in die oë na niks. Want hy/sy stel werklik nie belang nie. Ook laat dit my met ongemak as daar altyd ‘n hand om my gespreksgenoot se middel is as ek alleen is. Dan wens ek, ek het ook eerder ‘n paar hande om my middellyf gehad of minstens iemand om mee te gesels as die paartjie mekaar se monde verken.  Ook is daardie ongemaklike, niksseggende geselsies wat ek met jou ander helfte moet maak as jy badkamer toe gaan nie vir my aangenaam nie. Ons het, behalwe vir die vriendin, niks in gemeen nie.

Om alleen in ‘n restaurant te wees. Dit pla my gewoonlik nie juis nie – tot my foon vrek , ek my boek vergeet of ek so sit dat ek nie die ou oom voor my se blik kan vermy nie. Dan wens ek dat ek nie alleen daar was nie. Dit sou ook nogal aangenaam wees as iemand saam met my kon lag vir die stuk brood wat op die oom se ken vassit of as iemand my op die rug kon slaan as ek (soos gewoonlik) verstik.

Ook kan ek nie “halfies” gaan met iemand nie. Dit laat my verlang na ‘n man as ek sien hoe mense die rekening/pizza in twee deel en ek sit daar en vreet die hele ding soos ‘n vraat op want ek het niemand om dit meet e deel nie. En dan moet ek die hele rekening self betaal.

As iets breek. Of ‘n gloeilamp blaas. Of my nommerplaat val af. Of ek  moet meubels rondskuif. Ek is in die algemeen redelik handig. Maar ek kan “ek is ‘n sterk, onafhanklike vrou” gil tot die voorvaders my hoor, dit gaan nie help nie. Ek gaan nogsteeds nie daai gloeilamp bykom nie, ek het nie ‘n boor nie en ek kan nie die swaar meubels alleen optel nie. En dis nie so lekker om dan vriendin-se-man vir die tiende keer te bel nie.

As ek ‘n man in my lewe gehad het sou ek nie belaglike stellings soos “jy is te kieskeurig”, “die regte een sal kom”, “jy is seker so eensaam” of “wees net geduldig” moes aanhoor nie. Niemand sê daai stront vir iemand wat in ‘n verhouding is nie.

Been(en ander)hare skeer. Dit maak geen sin vir my om ‘n driekwart van my lyf te skeer as niemand daaraan gaan vat nie. Tog moet ek dit doen want ek gril vir harrerige gedoentes – selfs meer as dit aan my eie lyf is. Ek dink net dit sou beter motivering wees as iemand my gladde lyf kon waardeer.

Blind dates. Yuk. As jy iemand in jou lewe het, sal niemand dit waag om te probeer om jou aan die enigste ander enkellopende mens wat hulle ken te probeer afsmeer nie. Net omdat ons altwee single is, beteken dit nie ons gaan oor die weg kom nie.

As jy nie die rits op jou rug toekry nie. Hierdie laat my glo in evolusie. Aanvanklik was dit ‘n moerse probleem en het dit gelyk of ek ‘n priester nodig het om die geeste uit te dryf soos my lyf buig en draai. Intussen het ek ‘n mate van ‘n letterlike rubberarm ontwikkel wat oral kan bykom. Maar nie sonder pyn nie. As iemand byderhand was, om moeiteloos die rits toe te trek sou my lewe makliker gewees het.

Valenteinsdag. Rooi hartjies en teddie-bere en sjokolade en rose. Bliksemse Valenteinsdag.  Ek maak elke jaar of ek nie omgee nie, maar daar is iets depressing daaraan as almal ‘n romantiese aand beplan en jy sit in jou slaapklere op die bank en kyk rom coms en haat jou lewe vir daardie 1 aand. Dan sal ‘n man om dit mee te deel welkom wees.

Vir al die ander dinge het ek oplossings. Maar daar is sekere #singlegirlproblems wat net ‘n man kan oplos. En dan vervies ek my – want ek dink nie enkellopende mans het dieselfde probleme nie.

foto:boredpanda.com

 

 

 

 

 

 

 

Advertisements

Hanri en Metgesel

10414386_10204475485155070_6976206976278427064_n

Ek was al telkemale ‘n strooi-nooi, ek vang die ruiker gereeld en ek was al male sonder tal ‘n gas by ‘n troue.

So staar ek (weer) verslae na die uitnodiging, gerig aan Hanri en Metgesel.  Metgesel met ‘n hoofletter soos ‘n eienaam want dit moet ‘n mens wees.  Goed bedoel, ek weet, want om alleen te wees by ‘n bruilof as jy slegs die bruid ken en by daai ongemaklike “singles tafel” te sit is op sy beste ook nie aangenaam nie.

Dit is egter elke enkellopende vrou se grootste nagmerrie. En hoe ouer jy word, hoe meer vreesaanjaend word die Metgesel-gedeelte van ‘n uitnodiging. Veral na ‘n troue toe. Want skielik is romanse en die belofte van ewige liefde en danspassies en oornagkamers in die lug.

As jy jonger is, is dit heel eenvoudig. Die meeste mense is enkellopend en daarom is dit nie ‘n probleem om ‘n mede-enkellopende op te saal met die taak van Metgesel nie. Maar soos jy ouer word, word dit net al hoe moeiliker. Want jou go-to-guy is skielik getroud/verloof/in ‘n ernstige verhouding met die bruid van Satan wat jou haat met ‘n passie van sewe duisend vlamme/ vasgevang in ‘n werksituasie wat hom verhoed om jou te vergesel.

So hoe nou gemaak? Jy weet ook die probleem lê eintlik by jou en jou hoë standaarde. Sien, ‘n metgesel na ‘n troue moet amper aan al die kriteria voldoen wat jy opgestel het vir ‘n trouman of beste pel.

  1. Hy moet kan dans. Daar is niks erger as om die muurblommetjie te wees as mense die nag om dans nie. Veral as jy self iemand is wat met die ritme in jou voete en die skud in jou agterstewe gebore is. Hy hoef nie eers te langarm nie, maar hy moet bereid wees om te dans soos ‘n student wat vir die eerste keer uitgaan.
  2. Hy moet drink. Judge my maar, maar hierdie is belangrik. Ek wil nie die stinkoog kry as ek tequila na tequila in my keelgat afgooi omdat ek probeer vrede maak met die feit dat nog ‘n vriendin haar man as verskoning gaan gebruik om nie in die toekoms saam met my tequila te drink nie. Ek moet ook die verlamende gevoel dat ek alleen gaan oudword wegdrink. En ja, ek ken die storie dat jy nie alkohol nodig het om jouself te geniet nie. Jy het ook nie tekkies nodig om te draf nie… maar dit flippen help.
  3. Hy moet pret wees. ‘n Partytjiedier. Soos ek. Anders gaan een van ons (en met een van ons bedoel ek hy) nie die aand vreeslik geniet nie. (Omdat ek drink gaan dit vir my lekker wees.)
  4. Hy moenie die partytjiedier-gedeelte oordoen nie. Hy moet my nie in ‘n erge verleentheid stel nie. As hy sy twintigste dubbel brannas en coke in die bruid se ruiker verloor omdat hy nie die drank kan hanteer nie, gaan dit nie goed wees vir enige iemand nie. Ook moet hy nie kaalgat in die visdam spring kort na die toesprake nie, hy moenie die bruidegom se nuwe skoonpa met ‘n koue hoenderboud gooi of strip as Leeu Loop speel nie.
  5. Hy moet darem ‘n mate van social skills Ek was al in ‘n situasie waar Metgesel nie twee woorde agtermekaar in ‘n sin kon gooi voor vreemde mense nie. Ek het geweet hy is skaam, maar liewe genade, dit was net te erg. Maak geselsies, bra. Dit maak dit minder akward vir almal. Ook is van die troues baie ver en as ek die hele naweek in jou bakkies gaan vaskyk moet daar woorde uit jou mond kom.
  6. Omdat ek van geselsies hou, met almal, moet die man ook op sy eie kan aangaan en my nie nodig he om hom op te pas soos ‘n kind nie.
  7. Hy moet verkieslik nie snork nie. Ons gaan ‘n kamer deel. Nie omdat ek ‘n broek vol planne het nie, maar omdat ek nie genoeg geld het om nog ‘n kamer te bespreek nie. Ek moet immers die petrol, die geskenk en my uitrusting betaal. Ek is te arm om te maak of ek omgee om lepel te lê. Ek slaap lig, as hy balke saag gaan ek van my kop af raak. (Hierdie is egter onderhandelbaar as ‘n goeie paar oorpluisies beskikbaar is).
  8. Dit is belangrik. Hy moet ‘n kwinkslag gereed hê vir as iemand vra: “hoe lank is julle al saam.” Die vraag kan kom. Hy moet daaroor kan lag.
  9. Hy moet redelik sag op die oog wees , want foto’s is vir ewig en mense raak snap happy as die trouklokke lui. So al is hy nou nie vreeslik welgeskape nie, moet hy minstens fotogenies wees. Hierdie punt is egter onderhandelbaar as die knaap aan al die ander vereistes voldoen.

Ek skiet myself in die voet. Want ‘n troue is om die draai en ek weet nie van ‘n enkele enkellopende man wat homself wil blootstel aan my keuringsproses nie. Maar as hy bestaan, asseblief maak dit aan my bekend. Dat ek jou kan vra.

En as ek hom kry gaan ek dit sterk oorweeg om ‘n hemp te laat druk met die woorde “Metgesel is my metgesel, dankie!” sodat ek nie elke keer wat ek met die bruid kuier ‘n lang verduideliking hoef te gee oor wie my na haar groot dag gaan vergesel nie.

 

Ek straal (glo) slet uit.

funny-pics-slut-a-woman-with-the-morals-of-a-man

Ek voel half ek moet sensitiewe lesers, ou tannies wat my van kindsbeen  af ken, mense wat nie slaapkamerstories geniet nie en enige iemand wat dalk aan die ander kant van konserwatief as ek staan waarsku: Die volgende leesstof mag jou dalk ontstel. My gebruik van kragwoorde ook. My deel is dan nou in die verband gedoen.

Dis geen geheim dat ek enkellopend is nie. Dis ook algemene kennis dat ek baie gemaklik in my vel is en niks fout kan sien in iemand wat seksualiteit met dieselfde normaliteit as eet of asemhaal beleef nie. Ek doen.  Ek is al vertel dat ek oor alles wat seksueel van aard is meer soos ‘n man dink. Daar is nie emosie betrokke nie. Ek sien nie iets fout daarmee nie – ek hou immers van mans.

Ek is nie voller van myself as die volgende persoon nie, maar ek dink ek het nogal baie om te bied. Ek is slim… sarkasties, maar slim. Ek weet so bietjie van die wêreld en aktuele sake. Ek is baie liefdevol en ek doen baie moeite met mense. Ek luister as mense praat. En ek kan lekker vry. So ek verstaan nie hoekom ek nog nie van die rak af is nie. Al is ek gemaklik op die rak, is dit nogal iets wat my pla (al maak ek soms of dit nie doen nie).

En toe kom die gewaarwording. Dis nie ‘n nuwe ding nie – ek is al bewus van die ding van my tienerjare af. Maar hy klap my toe soos ‘n slegte stiefma ‘n rooikopstiefkind sal klap. Hard en onnodig.

Lank voor die wêreld my geklap het, het my ma eenkeer vir my gesê: ”Sussie, jy is lekker koketterig.” Ek moes die woordeboek nader sleep. Ek was 16 en die woord was nie in my woordeskat nie.

“’n Meisie/vrou wat haar (op ‘n spelerige manier) so teenoor ‘n man gedra dat dit duidelik is dat sy hom (seksueel) aantreklik vind, al stel sy nie regtig in ‘n verhouding belang nie; flirt.”

Bliksem, ek weet nie of my ma so moerse baie wys is, of dit ‘n voorbode was en of sy onbewustelik my realiteit as vrou op daardie dag geslyp het nie.

En baie onlangs het iemand wat my nie eers so goed ken nie die volgende kwyt geraak: “Hanri, jy is nie die tipe girl met wie mans trou nie. Jy is die girl wat mans laat wens hulle het nooit getrou nie . Wat hulle laat wens vir een aan wat jy hulle laat voel of hulle in die hemel is. Jy is basically seks op bene. Walking seks. Daar is hierdie rou seksuele energie wat jy uitstraal. Jy is net nie troumateriaal nie.” En die vreemdste sin oooit: “Jy kom sletterig voor, maar op die beste moontlike manier.”

Wel fuck. En dis nie die eerste, tweede of derde keer wat iemand in die rigting van my praat nie. Dit is die reel.

So braak ek gal oor die man se seining van my by ‘n ander vriend. Sy reaksie spreek boekdele.                                                                                                                                               “Moenie jou steur aan wat hy sê nie. Jy is sexy. Jy is hot. Dis wat die meeste vroue wil wees”                                                                                                                                                             Bevestig hy gou daai ou se seining met sy woordkeuse.

En nee, dit is nie wat die meeste vroue wil wees nie. Dis dalk ‘n kompliment as jy dit nie verder ontleed nie. Almal wil seker in een of ander stadium sexually desired  of some shit wees.  Maar ek wil meer wees. Want eendag is ek 40 en my borste sit nie meer waar hulle moet nie en my boude pas nie meer in ‘n nommer 10 denim nie en dan? Wat dan? Dan sien mans my nie meer as sexy of hot nie en dan is ek alleen want die goeies is getroud met die “goeie, mooi vroue”.  Niemand het my al ooit as ‘n trouvrou gesien nie. Obviously nie.

Ek dink nie ek is onooglik nie, maar ek is definitief baie ver van model-mooi af. So as die sexy en hot gedeelte van my looks af kom maak dit nie sin nie. Ek trek nie gewaagd aan nie, ek is nie juis mooi gebou nie. Ek is doodnormaal (behalwe vir die pienk hare, dis seker nie so normal nie).

“Dit gaan nie net oor hoe jy lyk nie, dit gaan oor hoe jy is.” Verduidelik vriendjie homself net verder in ‘n hoek vas. Hoe ek is? So ek is sexy, ek is hot, ek is seks op bene? En dis al? Ek straal slet uit?

Dis nie wie en wat ek wil wees nie!

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek hou my nie onskuldig nie. Ek is nie ‘n onskuldige engeltjie nie en ek het al gebruik wat ek het om mans te manipuleer. Maar bliksem, ek voel ek is meer as dit.

So nou sit ek in Strontstraat want ek weet nie watter kant toe nie. Ek wil nie he dat DIT moet wees wat mans van my dink nie. Of minstens wil ek nie het dit moet AL wees wat hulle dink nie. Maar ek weet duidelik nie hoe om die regte boodskap oor te dra nie.  Ek weet nie hoe om enige iets anders te wees as wat ek is nie, maar ek het geen beheer oor hoe mense dit ervaar en hulle eie maak nie.

So nou dra ek maar die slet-benaming met trots. Want iemand moet dit seker doen.

 

Vroegskof: die boemelaar en die drawwer

11807220_10153591290164374_3275953485849053558_o

 

Almal wat my ken weet nou al dat ek vroegskof werk. My wekker gaan vier uur elke oggend af, dan kry ek myself vir minstens 15 minute jammer en maak traag klaar om net voor vyf die pad SAUK toe aan te durf.

Behalwe vir die voor die handliggende dinge, soos ‘n agterstevoor of onderstebo hemp, mascara aan net een oog se wimpers, pantoffels op kantoor en sulke dinge, gebeur daar ook ander dinge so dou voor dag.  En dis lekker om die dinge te vertel.

Een oggend stop ek by ‘n verkeerslig in Aucklandpark. Die SAUK is in sig. Langs die pad le ‘n hoop, wat lyk na, gemors. Dis kartondose en swartsakke en koerantpapier. Niks te aardig nie.

Van voor kom ‘n knaap aangedraf. Terwyl ek sy kuite waardeer dink en dat die knaap nogal uitgevat is in duur  Nike-tekke en hy het een van daai goeters wat jou hardklop monitor om die kaal borskas. Hy hardloop ernstig. Ek verstaan dit nie, ek dink net die godelose hardloop as niks hom jaag nie, maar ek het waardering vir mense wat ernstig kan wees oor enige iets.  En die knaap is ernstig oor hardloop.

Die knaap maak al die regte draf-geluide en slaan vervaard met sy vuiste in die lig. Fiksheid, 2,3!

Die volgende oomblik beweeg die hoop karton, koerant en plastiek langs die pad. Dis iets soos Lasarus wat uit die dode opstaan, maar niemand het geweet waar sy lyk lê nie.  Dis ‘n boemelaar wat onder die hoop goed geslaap het en nou brul soos ‘n leeu om die oggendstond te verwelkom.

Nie ek of die drawwer was bewus van sy teenwoordigheid nie. Ek hou die gedoente uit die veiligheid van my kar dop. Die drawwer is nie so gelukkig nie.

Hy skrik himself skoon in ‘n nuwe rekord in. Spiere bultend gee hy ‘n gilletjie wat ‘n hoërskoolmeisie by ‘n Justin Bieber konsert sal laat skaam kry. En hy hardloop. Nee, nie hardloop nie. “Hy snol!” soos my sus sal sê as iemand goed spoed vang.

Ek vou dubbeld oor die stuurwiel soos ek lag en net hakskene sien. Ek weet nie hoe lank die robot groen was voor ek myself tot bedaring kon bring nie, maar ek was daardie oggend laat. En daardie oggend se laatkom was die moeite werd.