Reënweer op ‘n Sondag

images-1

Ek onthou nog hoe ek laas die wyse woorde van ‘n vriend aangehaal het. “Jy weet nie presies hoe single jy regtig is, tot jy die dag baie siek is nie.”  Hierdie woorde is steeds wys en waar. Vandag het ek agter agtergekom dat nog iets jou mooi gaan laat verstaan presies hoe single jy is.

Reënweer op ‘n Sondag.

Dit klink amper soos die volgende romatiese komedie waarvoor Afrikaanse mense te veel geld gaan betaal om te gaan kyk. Dan gaan dieselfde Afrikaanse mense ook die hand diep in die sak steek vir springmielies. En dan selfs dieper om die rekening vir die sielkundige te betaal omdat hulle sukkel om te verstaan hoekom hulle lewens nie soos die romantiese komedie,  Reënweer op ‘n Sondag, kan wees nie.

Ek is ook daai Afrikaanse mens, maar hierdie is toe nou nie die romantiese komedie wat die idilliese prentjie skets van die perfekte balans tussen hormone en hartsake nie.

Reënweer op ‘n Sondag is my lewe terwyl ek hier tik en ek wil teruggaan en op vriend se “Jy weet nie presies hoe single jy regtig is, tot jy die dag baie siek is nie,”-stelling antwoord met: “Jy weet nie presies hoe single jy regtig is, tot jy stoksielalleen is op ‘n Sondag as dit reën nie.”

Bliksem. Ek is darem maar vreeslik single. En die selfbejammering steek vandag nie net kop uit nie, maar sommer poephol en pens ook.

Gewoonlik geniet ek my eie geselskap. Ek het dit selfs nodig. Dit (en ‘n magdom slegte gewoontes aan my kant) is een van die redes vir my keuse om alleen te bly in my voëlhokkie. Maar met die reënweer op ‘n Sondag voel dit skielik soos ‘n slegte idee.

Ek het nou al alles probeer. Ek het laat geslaap. ‘n  Uitdaging vir iemand met ‘n belaglike roetine, maar ek het minstens later as gewoonlik gelê.  Ek het joga op my mat (probeer) doen. Ek het ‘n vet geskeur (daar is nie ‘n spier waar ek nou pyn ervaar nie).  Ek het my boek gelees. En besef ek het weer nuwe leesstof en daarom ook ‘n groter salaris nodig. Ek het springmielies geskiet en ‘n reeks kant en klaar gekyk. Ek het kos gemaak en ook verorber. Ek het my kas reggepak (dis wys dat my vlak van desperaatheid nou in die rooi is). Ek het Facebook, Instagram en Twitter reeds 5 keer gecheck. Ek het in my kop opsies oorweeg. Gedink om iemand te nooi vir koffie, besef dan moet ek klere aantrek en die opsie ook laat vaar. Ek het myself jammer gekry dat niemand aan my dink en my nooi nie. Al sal ek nie noodwendig gaan nie, want ek wil nie klere aantrek nie. Ek het selfs probeer mediteer. Epic fail. Ek is nie zen en centred of watookal nie. Ek is in ‘n put van selfbejammering.

So le ek toe op die naat van my rug op die mat (na die mislukte joga-poging is dit al wat gemaklik-ish voel). Ek kyk by die oop-deur uit en verbeel my ek is in ‘n Celine Dion musiekvideo vir ‘n tranetrekker-treffer. En toe tref dit my. Pannekoek.

Ek vlieg op en maak meer skottelgoed as wat ek wil was. Maar ek bak pannekoek. Almal flop.

More skyn die son weer, maar vandag sal ek myself en my enkellopende status bejammer. Want vandag voel ek nie net alleen nie, ek voel eensaam. Of dalk… dalk is dit net die reënweer op ‘n Sondag.

Advertisements

Die droomwêreld van monogamie

love-triangle-readings

foto: cqmsjt.com

Ek is sinies. Dalk selfs bitter. Ek het opnuut tot die skokbesef gekom dat ons in ‘n droomwêreld leef as ons dink monogamie bestaan.

Mo-no-ga-mie’ s.nw. Huwelik van een man met een vrou op ‘n keer; by diere , besit van een mannetjie of wyfie op ‘n keer; teenoor poligamie. [G. mono + gamos huwelik ] monogamis’.

Ek gebruik die woord monogamie by gebrek aan ‘n beter woord. En elkeen kan die definisie maar sy/haar eie maak. Dit kom vir my daarop neer dat jy in ‘n romantiese verhouding, hetsy emosioneel of seksueel of altwee, met net een ander mens op ‘n slag is. En na my mening bestaan daar nie juis so iets nie.

Daar is seker, soos in die meeste gevalle, die uitsondering op die reël. Daar is daarom mense wat van my sal verskil (my hart smeek:”asseblief, verskil van my en bewys my verkeerd.” My kop weet van beter.)

Dis nie ‘n skokbesef  vir my dat dit nie bestaan nie – eerder ‘n proses van vrede maak met die idee dat die meeste mense hulle lewens lank lugkastele bou oor daai een mens wat lojaal gaan wees teenoor jou in alle opsigte. Ek het self so ‘n lugkasteel gebou. Toe word ek groot en keer op keer bewys mense my verkeerd. En met een mens kan dit jou man/vrou, minnaar/minnares, jou kêrel/meisie, jou lewensmaat of wat ookal jy die ander persoon in jou verhouding noem, wees.

Vir die soveelste keer het ‘n getroude probeer om my in die kooi te kry. Dit gebeur meer gereeld as wat ek vir lank wou erken. En hoe sal ek nou ook weet of al die mans met wie ek in die verlede geflikvlooi het eerlik was ook hulle huwelikstatusse. Die mans is deesdae meer skaamteloos daaroor, seker ook omdat ek nie onskuld uitstraal nie. Dis nie meer ‘n onskuldige flirtasie om seker te maak hulle is nog aantreklik vir die teenoorgestelde geslag nie. Dis ‘n klipharde, geen-doekies-omdraai aanslag om van my “die ander vrou” te maak.  Dalk is ek ‘n sagte teiken omdat ek reeds volkome vrou, maar steeds enkellopend is. Ek weet nie. Maar die aanslae kom uit talle oorde. Nie alle oorde nie, maar talle. En om een aan te haal “’n geringde voël kan steeds vlieg” of meer vulgêr “’n ring maak nie ‘n gat toe nie.” En ek bieg, dis met tye vir my ook maar moeilik om die versoeking te weerstaan.

Hiermee bedoel ek nie dit is net mans wat so maak nie.  Ek moes onlangs trane afdroog by ‘n vriend omdat die “liefde van sy lewe” nie haar verlowing wil verbreek nie. Ondanks die feit dat sy al vir etlike maande ook met die vriend in ‘n verhouding is. Al is dit net emosioneel – daar is beloftes gemaak. En emosioneel voel amper erger as fisies.

Ek moes al hoor hoe ‘n vriend se vrou hom “ingeruil” het vir sy beste vriend. Selfs toe hy haar wou vergewe, het sy dit duidelik gemaak dat hy “ou nuus” is en dat sy nie in vergofnis of haar huwelik belangstel nie.

Die gedoente is nie eie aan een geslag nie.

Ek self het al in die strik getrap. Of die strik gestel. Hang af hoe jy daarna kyk. Daar was nog nie beloftes van vir ewig of verloofringe of ‘n troukoek in my geval nie. Maar my kêrel het gedink ek is lojaal teenoor hom. Ek het ook so gedink. Maar toe is die verbode vrugte net te aanloklik.

Ek was al die “ander vrou” ook.

Nou is dit maklik om te sê mens moenie oordeel nie en almal maak foute en elkeen moet doen wat vir hom/haar reg voel. En ‘n gunsteling: wat iemand nie weet nie, kan hulle nie seer maak nie. Ek preek dit self daagliks om baie van my eie lewensbesluite te regverdig.

Maar is die basiese beginsel van ‘n decent human being nie “do no harm”nie? Ek het die seer gesien wat my en die een minnaar se oor-die-tou-trappie veroorsaak het.  En ek weet die seer wat sal kom as die waarheid by die ander betrokkenes se wederhelftes moet uitkom. So ek swyg. Of dit uit selfsug vir selfbehoud is en of dit is om ‘n ander vrou se hart te beskerm, weet ek nie.  Ek weet wel dat ek huwelike en verhoudings kan vernietig deur net ‘n skermgreep van gesprekke op whatsapp te neem. Of ‘n foto aan te stuur.

Ek sit so en tob eendag toe ‘n vriend, met jare se ervaring as pastorale berader, my vrese beaam. Hy sê die oorgrote meerderheid van mense wat al by hom kom aanklop het, het al ‘n lewensmaar verkul. Verneuk. Rond gefok. Hy self het al die verbode vrugte gesmaak. En dis mense van wie jy dit nie noodwendig sou verwag nie.

Hier en daar is daar nog verhoudings en huwelike wat vir my ‘n tikkie hoop gee dat monogamie steeds bestaan, maar hulle is vêr in die minderheid. Baie vêr. So nou wonder ek, is dit nie tyd dat ek uit die droomwêreld klim en aanvaar dat monogamie, of watookal jy dit roep, nie noodwendig vir my beskore is nie? Sal ek dalk dan in ‘n verhouding kan ingaan en die sogenaamde “trust issues” (waarmee ek vir ooglopende redes hierbo genoem worstel) laat vaar?  Is dit nie beter om uit die staanspoor oop kaarte te speel en eerlik te wees oor die afwesigheid van monogamie nie? Of het mense die droomwêreld nodig om in verhoudings te staan?

Ek weet nie. Die gedagte maak my bang. Die proses van aanvaarding het nou by my begin. Verstaan nog nie so lekker nie. Maar aanvaar. En dis vir my ‘n bitter pil om te sluk.

 

 

Siek-en-single

1557110_origfoto: mrsfaella.weebly.com

 

“Jy weet nie hoe single jy regtig is, tot jy die dag baie siek is nie.”  Die wysheid van my vriende laat my soms stomgeslaan. Die spesifieke vriend ken die stryd. Ek ook.

Dis erg genoeg om Vicks Vapo Rub op jou eie borskas te probeer smeer as jy jou long uithoes. Ek hoor (by my mansvriende) dat die sogenaamde man-flu ook baie liefde en aandag verg voordat die betrokke man ten volle kan herstel. Hoendersop smaak beter as iemand anders dit aandra. Selfbejammering is is minder hartseer as daar iemand is om dit te aanskou en met simpatie ‘n klam lappie oor jou voorkop te vee.

Die wyse vriend het vertel dat sy nagrus onderbreek is dou voor dag met ‘n steekpyn. Hy het ge-google en homself spoedig gediagnoseer. Sy blindederm het die gees gegee. Hy het voor ‘n keuse gestaan: bel sy pa of maak sy huismaat wakker. Hy het op sy pa besluit, maar met ‘n skok besef sy kamer is te deurmekaar. Hy was glo dubbeld gevou van die pyn maar die kamer is opgeruim. Hy het die trappe aangedurf. “Twee ure later het ek die grondvloer bereik, steeds sterwend van pyn.” So het hy my oor ‘n glas wyn vertel. Onder gekom het hy die televisie aangesit (hierdie deel maak nie vir my sin nie, maar hy is sy eie tipe mens). Daar sien hy toe die Olimpiese Spele is aan die gang en ‘n Suid-Afrikaanse atleet gaan deelneem. Die blindederm moes maar wag. Die atleet het ‘n medalje ingepalm en sy steekpyn het gewyk.

Ek was nie so gelukkig nie.

Ek was een aand olik. Ek het steekpyne gehad en naar geword. Ek het in sweet uitgeslaan en teen 5uur die oggend my baas laat weet ek gaan eerder die dokter as die kantoor besoek. Ek het aanlyn ‘n afspraak by my huisdokter gemaak en op die badkamermatjie aan die slaap geraak. Twee ure later was ek weer wakker en steeds in pyn. Dit was asof my binnegoed skielik die toneel van ‘n mesgeveg geword het. Ek het my sawwe lyf hande-viervoet na die kamer geneem vir skoon klere. In die kombuis het ek my teen die kas opgetrek en my kar se sleutel gevind. Hoe ek dit tot by die kar gemaak het, weet ek tot vandag toe nie. Ek weet wel dat ek nie die koppelaar kon intrap nie. En daar sit ek toe. Siek en single en 100 % alleen. Ek het deur ‘n lys name in my kop gegaan, maar besef teen die tyd wat ‘n vriend opdaag mag ek dalk al beswyk het aan die mesgeveg in my binneste. Toe bestel ek ‘n Uber.

Manny was die uber-drywer se naam. Hy was geduldig en het my na die huisdokter gehaas. Heelpad besorg na my geloer en aangekondig hy wag in die kar terwyl ek die dokter sien. In die wagkamer sak ek inmekaar. Ek kreun van die pyn en die dokter kondig aan hy gaan die ambulans bel. Hy dink my blindederm gaan bars. Ek protesteer – Manny wag en ek wil eers my tandeborsel en skoon onderklere gaan pak. Daar is die “uber-ambulans” gebore.

Die huisdokter het die hospital gebel en laat weet ek is op pad. Manny het my huis toe gevat. Hy het my uit die kar gehelp en op die bank gesit en wag  terwyl ek pak. Kort-kort gevra “Miss Hanri, are you okay.” En toe het hy my na die hospitaal geneem.

Op pad kon ek daarin slaag om ‘n paar vriende te laat weet wat broei – almal wou weet “wat kan ek doen.” Een gebarste blindederm en ‘n noodoperasie later word ek wakker met geliefdes om my bed.

Die een is net so kwaad soos die ander “omdat jy nie gebel het nie”. As ek nie bedwelm en gepynig was nie het my ma my sweerlik oor haar skoot getrek.  Ek het toe nie so alleen gevoel nie. Maar in die 24 uur voor dit was vriend se woorde: “Jy weet nie presies hoe single jy regtig is, tot jy die dag baie siek is nie,” my realiteit.

Ek het geleer ek mag maar vir hulp vra, maar ek kan steeds nie ‘n kat as troeteldier aanhou nie. Want ek is steeds te bang ek gaan dood, niemand weet nie en my kat begin vreet aan my lyk.

 

 

Ek ken ‘n vrou

293200_10150317966184374_1080031426_n

Ek ken ‘n vrou.

Ek ken ‘n vrou wat gebede soos poësie laat klink. ‘n Vrou wat liefhet met elke sel van haar bestaan, sonder vrees, sonder voorwaarde, sonder vrae. Sy weet hoe om ‘n kinderhart rustig te maak, ‘n tienerhart van vergifnis te leer, ‘n volwasse hart aanmekaar te plak as dit weereens in stukke spat.

Ek ken ‘n vrou wat vertroosting bring deur net aan ‘n hand te vat. ‘n Vrou in wie se oë “verstaan” geskryf staan. Sy gun ander hulle menings, al verskil dit hemelsbreed van haar eie.

Ek ken ‘n vrou wat nog nooit haar rug kon keer op hulpbehoewendes, minderbevoorregtes op afvlerk-enige-iets nie. ‘n Vrou wat moeite doen met elke taak wat sy aanpak, ongeag hoe groot of klein. Sy leer jou nie net om ‘n taal te praat nie, maar om daardie taal te lééf.

Ek ken ‘n vrou wat jou sal glo as ander jou bevraagteken. ‘n Vrou wat jou help, al glo jy self jy verdien dit nie. Sy is die verpersoonliking van omgee. Die gesig van liefde.

Ek ken ‘n vrou wat haar knieë nerf-af bid vir ander. ‘n Vrou wat haar lewe sal opoffer om haar gesin te beskerm. Sy is alles wat elke vrou streef om te wees.

Ek ken ‘n vrou wat belangstel in hoe jou dag was, al het niks opwindend gebeur nie. ‘n Vrou wat wil weet of jy gesond is, al is sy self ongesteld. Sy stel belang in jou geluk, al knaag die eensaamheid soms aan haar.

Ek ken ‘n vrou wat dadelik vergewe as ek onredelik is. ‘n Vrou, die enigste vrou, voor wie ek nog nooit my trane hoef te sluk nie. Sy laat my toe om die woede uit te woed en gee dan eers raad. Altyd goeie raad.

Ek ken ‘n vrou wat alles wat swaar is met ‘n drukkie ligter maak. ‘n Vrou wat jou optel as jy val. Sys al jou nooit skop as jy lê nie, sy sal verheug wees as jy vlieg.

Ek ken ‘n vrou wat voor my eerste asemteug reeds lief was vir my. ‘n Vrou wat my nie net in die lewe gebring het nie, maar elke dag vir my lewe gee. Sy is die vrou na wie ek opkyk vandat ek kon staan.

Ek ken ‘n vrou wat deur ander mense  “staatmaker”, “engelmens”, “formidabele vrou” genoem word. ‘n Vrou wat ek “Mamma” roep. En sy is die beste ma wat bestaan.

Eendag as ek groot is sal ek dalk genoeg woorde hê om vir haar dankie te sê vir alles van haar wat ek so goed ken en soveel meer waardeer. Eendag sal ek dalk vir haar kan wys dat sy verniet bekommerd is, want sy het my reg geleer. Eendag  sal sy dalk weet dat sy die beste rolmodel is en dat my liefde vir haar geen perke ken nie. Eendag sal sy dalk weet dat ek trots is op haar, trots om haar  “my ma” te noem.  Maar daardie dag is nie vandag nie, want vandag is daar nog te min woorde in my woordeksat om haar reg te beskryf.

Vandag kan ek net vir haar op my eenvoudige manier sê : “Dankie ma.”

En haar herinner dat sy my soos klei gevorm het in die vrou wat ek vandag is. Ek hoop ek kan haar trots maak – soos wat sy my elke sekonde van elke dag trots maak.