Ek het toestemming

hanToestemming om Hanri te wees.

Vandat ek kan onthou word ek voorgesê hoe ek moet wees. Gevolglik het my enkellopende, kinderlose, losbol-leefstyl in ‘n stadium vir my erge angstigheid veroorsaak.

Ek was een van daardie mense wat die bullshit quizzes op facebook gedoen het om uit te vind “when will I get married”. Die antwoord was op 25. Ek was toe reeds 27.  Ek het my kop vol leesstof geprop wat my net al hoe meer laat glo het dat ek agter is in my ontwikkeling as vrou, as volwassene, as mens. Dat ek in sekere opsigte ‘n late bloomer is.

En toe… toe besluit ek: nie meer nie. En daar en dan gee ek vir myself toestemming om net myself te wees. Want jy is immers wat jy is. Tot jy besluit om dit nie meer te wees nie.

Daar is iets bevrydend in die besef dat jy kan wees net wat jy wil wees, maar dat jy bittermin beheer het oor wat om jou gebeur. Jy het slegs beheer oor hoe jy dit hanteer.  Dit is selfs meer bevrydend om dit te aanvaar.

Ek het aanvaar dat ek nie ‘n masjien is nie. Ek is nie geprogrammeer om te gaan sweet in die gimnasium as ek die dag nie energie het nie. Ek het nie ‘n “energy-boost” knoppie nie. En dis reg. Party dae sweet ek, ander dae lê ek op die bank en eet ongesond. Ek noem dit balans.  En die wêreld gaan nie vergaan as ek ‘n kilogram of twee swaarder is nie. Inteendeel, daar gaan net meer van my wees.

Ek het aanvaar dat die tydsberekening soms net nie reg is nie. Ek kan elke dag 4uur opstaan, my afsloof by die werk, meer doen as wat in my posbeskrywing staan, my persoonlike lewe aan die agterspeen laat suig… en steeds nie daardie bevordering kry nie. Want die tyd is nie reg nie en oor sommige dinge het jy nie beheer nie. En ek moes aanvaar dat die lewe nie altyd regverdig is nie.

Ek het aanvaar dat mense in my lewe kom en gaan. Dat net enkeles bly. En dat dit okay is. Partykeer moet mens die belangrikste hoofstuk in jou lewe op ys hou omdat die hoofkarakter van  die hoofstuk nog nie opgedaag het nie. Ek moes leer om te aanvaar dat ek geen beheer het oor wat ander mense van my dink nie en dat wat hulle van my dink eintlik niks met my uit te waai het nie.

Ek het aanvaar dat ek nie alles in my lewe kan, mag of moet beheer nie. Partykeer gaan ek hartseer wees. Partykeer gaan ek foute maak. Partykeer gaan ek seer kry en seer maak. Ekhet geleer om die onsekerheid te aanvaar en dit eerder as opwinding te sien. Ek het geleer om my nie te laat voorsê deur wat die samelewing van my verwag nie.

Ek het opgehou om lysies met “ontwikkelingsdoelwitte” te maak. Ek gaan nie getroud wees voor my dertigste verjaardag nie. Ek gaan nie kinders he terwyl ek nog bloedjonk is nie. Ek gaan (nog) nie my eie program op radio aanbied nie.  Ek gaan nie ‘n huis besit nie want ek is arm. Ek gaan nooit kan vakansie hou sonder om daarvoor te begroot en dan te spaar nie. Ek gaan nooit in ‘n nommer 8 broek pas nie.  Ek gaan nooit 10km wil hardloop nie. Ek sal nooit ‘n oggend-mens wees nie.  My hare gaan nooit lê soos ek dit wil he nie en ek gaan nie ‘n afro kan groei nie.  Ek gaan nog baie paddas soen en die prins gaan dalk nooit sy opwagting maak nie. Soms gaan ek alleen, selfs eensaam voel. En ek aanvaar dit.

Al hierdie dinge gaan so wees tot die dag wat dit nie so is nie. Ek kan net doen wat reg voel in die oomblik. En dit is reg so. Ek gee myself toestemming om elke sekonde van my lewe te ervaar, sonder om die wa voor die perde te span. Eg gee myself toestemming om Hanri te wees soos wat Hanri is – nie soos wat ander mense en Hanri-van-die-verlede van my verwag nie.   Ek gee myself toestemming om dinge te laat gebeur waaroor ek geen beheer het nie – en dan daarop te reageer soos wat ek goeddink.

Net omdat my lewe nie presies is soos wat ek gedink het dit gaan wees nie,  beteken nie my lewe of leefstyl  is verkeerd nie.  Ek het nie meer plek vir jalousie, selfverwyt, selfhaat nie.

Ek hoef nie slimmer, mooier, maerder, meer suksesvol, gelukkiger te wees nie.

Ek hoef nie te luister na ander mense se menings dat ek nie doen of is nie.

Dinge gaan gebeur en ek gaan dit toelaat.

Want ek het toestemming om Hanri te wees. En Hanri is genoeg.

 

 

Advertisements

Is dit nou dit?

yesthatsit

“Is dit nou dit?” ‘n Vriend sê-vra dit en sy woorde tref my soos ‘n ystervuis op die krop van my maag.

Hy vertel dat hy onlangs in sy motor gesit het en die vraag het by hom opgekom. Vriend raak-raak aan vyftig en het nie kinders nie.   “Ek het nou alles gedoen wat ek kon en wil en nou voel dit of daar ‘n leemte is. Ek dink vir die eerste keer verstaan ek presies hoekom mens kinders moet hê. Want wat nou? Is dit nou dit?”

Die ystervuis wat my tref, tref my omdat ek werklik na dié vriend opkyk. Hy is ‘n baie jong amper-vyftig en ek het myself al menigte male betrap dat ek dink: “jis, ek wil so wees as ek sy ouderdom bereik.” Ek wil eintlik nou al soos hy wees. Hy is ‘n lekker bra.

Ek het gedink vriend het die tipe leefstyl wat ek wil he. Omdat hy nie die verantwoordelikheid het wat met kinders gepaard gaan nie, kan hy doen net wat hy wil. Wanneer hy wil. Hy en sy vrou (vir wie ek net so lief is), het na my mening ‘n vol lewe. Hulle reis en duik en reël musiek-feeste en is suksevol in hulle loopbane en lag en kuier. Dis soos ek – maar met meer rand in die bank en meer lewenswysheid. Meer ervaring.

Vriend gaan voort. “Toe ek jonger was het ek altyd die mense mee kinders so bekyk. Dan is dit hierheen ry vir sport. Dan daarheen vir iets anders. Dan is dit geld vir skooldrag. Dan kom universiteit. Dan het ek gedink my lewe is lekkerder want ek hoef nie geld uit te haal vir enige van die kinder-verwante dinge nie. Maar nou het ek alles gedoen wat ek kan en wil. Vir die res is ek in elk geval te arm. Nou wat nou? Is dit nou dit?”

Daar daal ‘n stilte neer oor die kinderlose klomp. Hel. Die woorde tref. Daar is niks wat ons kan sê wat die gevoel vir hom gaan beter maak nie. Ook nie vir ons nie.

Ek dink aan my ouers en hoe ons kinders, en die kleinkinders by my sibbe, vir hulle vreugde verskaf nou dat hulle afgetree het. Hulle lewens draai letterlik om kuiers by ons.  Op hulle oudag voel hulle nie of daar niks oor is nie.

Vriend lees die situasie en glimlag. “Toemaar, ek het net vir daai oomblik so gevoel en toe gaan ek aan met my dinge.”

Maar ek kry dit nie reg om net aan te gaan met my dinge nie. Ek wil nie eendag daardie gevoel he nie. Sy woorde spook by my.

En daar en dan besluit ek (opnuut) dat ek ‘n kind gaan he. Nie binne die volgende nege maande of self twee jaar nie. Maar in die toekoms. Ek hoop van harte die kind van my gaan ‘n pa hê wat betrokke is, maar ek het geleer om nie op “prinse” te vertrou nie. Maar daar is manier om die dinge te doen sonder ‘n lewensmaat aan jou sy.  Want ek is bang vir die dag wat ek wonder “is dit nou dit”. En ek wil nie daardie dag laat kom en dan laat my lyf nie meer toe dat ek die leemte vul nie.

As dit so vir my beplan is, gaan iemand vir my “Mamma” sê.

Original…

the-original-and-profitable-business-today-1856hq5

“I am very good, my friend, because I am still original.” So groet een van die sekuriteitswagte by die SAUK my een oggend net na vier.

Kom ek neem so paar tree terug. Minute vantevore het ek in my brawa in die parkeer-terrein gesit en gewonder hoe ek my daar bevind. Ek moes op “auto pilot” gevlieg het. Dis nie buitengewoon nie. As jy min slaap en skuins na die sonde-uur weer moet wakker wees, dan is jy op auto pilot. Jy doen dinge meganies.

Ek het op auto pilot in die wankelrige hysbak (waarin ek al tot my groot onsteltenis vir twee ure vasgesit het) geklim en van vloer G na vloer A gery.

Ek was op auto pilot toe ek deur die draaihek geloop het en het nie eers opgelet dat die wind alweer slegs by die SAUK waai nie.

Ek was op auto pilot toe ek deur die metaalverklikker geloop het. Ek was op auto pilot toe ek voor die roltrap (wat meer gereeld net ‘n trap is, want die blêrrie ding werk selde) gestaan en sug het omdat my bene nie wil saamwerk nie.

Ek was op auto pilot toe ek my toeganskaart weereens teen die skandeerder gedruk het. Ek was op auto pilot toe ek meganies, sonder enige opwinding of entoesiasme, die spesifieke wag gegroet het met die generiese: “Good morning, how are you?”

Maar toe hy my teruggroet en my vraag werklik antwoord, het hy my knoppie gedruk en auto pilot afgeskakel.

“I am still original”

Original. Oorspronklik. Nie oor-of afgedruk nie. Wat eie idees het. Wat nie ander navolg nie.

Wat nie op auto pilot is nie.

En net daar besef ek hoe eentonig, alledaag my lewe geword het. Hoe min ek poog om die “original” te behou.

My hare is gewoonlik ‘n vreemde kleur, ek het ‘n buitengewone werk en ek het interessante mense in my lewe. Ja. Maar ek gaan deur elke dag sonder om moeite te doen om iets besonders, uitsonderlik selfs, te beleef. En ek waardeer niks en niemand nie. Auto Pilot is gerieflik, maar ondankbaar.

En net daar – toe die sekuriteitswag my auto pilot afskake,l neem ek die besluit om die “original” in my lewe te koester.

So daarom sê ek selde “nee” as mense my vra om iets opwindend te doen. Ek glimlag vir vreemde vreemdelinge – eerder as om net verby te loop en te wonder wat hulle menswees dryf. As ek iets doen – doen ek dit behoorlik. Ek let op as ek lees. Ek luister aandagtig as mense praat. Ek neem my tyd om elke geur en smaak van my kos werklik te ervaar. Ek drink my goeie koffie stadig. As ek strek, strek ek tot ek lekkerkry. En ek gun myself Hanri-tyd.

Ek gesels toe oor die dinge met my moeder. Sy is my klankbord en in baie opsigte “original”. “Maar my kind,” paai my ma. “Jy kon van die dag wat jy gebore is dit nog nooit regkry om doodgewoon te wees nie!”

Volgens haar sal ek met ‘n kapperjol doodgaan eendag. Ek sien my original raak. Sy weet nie van auto pilot nie, en ek hoop sy vind nooit uit nie.

foto: www.design.sabs.co.za