100% Hanri

Processed with VSCOcam with c1 presetVan kleintyd af al voel dit altyd vir my of my naam gekoppel is aan iets wat deel van my, maar nie heeltemal ek is nie. Nie 100 % Hanri is nie.

Op skool was dit Hanri-die-hoof-se-kind. Surprise! Ja, ek was die skoolhoof se dogter. Ek is lief vir my pa en ek was nog altyd trots op hom en die feit dat hy kon klaar studeer terwyl hy drie woelwaters gehad het. Maar Hanri-die-hoof-se-kind het dit nie altyd so lekker gehad nie. Elke keer wat ek stout was (En ek was lekker stoud. Dis seker nie ‘n verrassing nie), was dit “hoe kan jy dit doen, jy is die hoof se kind”. Elke keer wat ek iets bereik het, was dit “dis omdat jy die hoof se kind is.” Die een was ‘n doring in my vlees. Want my pa was nie die beoordelaar by die redenaars nie. My pa was nie die keurder by netbalproewe nie. My pa het nie een enkele vraestel van my gemerk nie. Maar ek was vir 12 jaar lank Hanri-die-hoof-se-kind.

Op universiteit het ek vir ‘n rukkie deur ‘n fase gegaan waar ek veronderstel was om net Hanri te wees. Maar toe het ek self nie lekker geweet wie Hanri is nie. En toe word ek verkies tot die koshuis se huiskomitee. Toe word ek Hanri-die-HK-lid. Elke keer wat ek my wangedra het (wat gereeld was), was dit “hoe kan jy jou so swak gedra? Jy is dan ‘n HK-lid”. Elke keer wat ek ‘n jongman omhels het, was dit “het jy dan geen skaamte nie, jy is dan ‘n HK-lid” of “het jy geen selfrespek nie, jy is dan ‘n HK-lid”. Asof dit nou inelkgeval ooit ‘n bepalende faktor in my besluitnemingsproses moes wees.

Toe begin ek werk. Met my intrapslag in die arbeidsmark het ek “Hanri-van-die-Herald” geword. Dit was nie ‘n slegte aanhangsel aan my naam nie. Ek was verslaaf aan adrenalien en het vining in ‘n “ambulance chaser” verander. Die joernalis-baadjie het gepas. Al wat ‘n nooddienspersoneellid was het my as “Hanri-van-die-Herald” geken. Daar is ‘n moord. Die polisie bel vir Hanri-van-die-Herald. Daar is ‘n liederlike motorongeluk. Die paramedics bel vir Hanri-van-die-Herald. ‘n Gebou brand af. Die brandweermanne bel vir Hanri-van-die-Herald. Toe is dit Hanri-van-die-Laevelder. En toe is dit Hanri-van-Rapport.

Nooit net Hanri nie. Deesdae is dit RSG-se-Hanri. Iets wat ook vir my baie genot en trots verskaf. Ek hou van my werk. Maar dit is wat ek doen, nie wie ek is nie en as iemand my voorstel is dit nie net Hanri nie.

“Dit is Hanri… Hanri Wondergem…” en dan kom die vraag: “RSG se Hanri?” (En dan natuurlik die geskerts oor hoe ek nie Johannesburg so lekker kan uitspreek  nie). Dit pla my nie as dit verband hou met my werk nie, maar in ‘n kroeg of koffiewinkel wil ek nie dààrdie Hanri wees nie. Ek wil sommer net Hanri wees.

Maar toe begin ek blog. Meer as 7000 keer het mense al die moeite gedoen om te loer na die dinge wat ek kwyt raak. Dit maak my gelukkig. Want die blog is net Hanri. Alles van dit is Hanri.  Elke idee en woord is dinge wat met Hanri te make het. En die belagstelling is soos ‘n kloppie op die skouer en politoer wat die (soms brose) ego sommer blink poets.

En toe staan ek, nadat ek die heelaand RSG-se-Hanri was, by ‘n glansgeleentheid. My gedagtes hol ver.  ‘n Man staan langs my en vra :”Is jy nie dalk die skrywer van Grootmensspeletjies nie?”

Die trots. O, die trots. My bors swel want nou is ek in my noppies. Ek kyk vir hom. My keel trek toe. Ek vries. Ek kry ‘n sweetsnor en ‘n bewerasie in my bene. Dit is ‘n sanger van ‘n musiekgroep wat die temaliedere vir my universiteitsjare geskryf het. Ek weet nie eers mooi wat ek geantwoord het nie, maar al het my tong kurkdroog aan my verhemelte geplak (dalk ook omdat ek wou fan-girl), was dit vir my so ‘n genotvolle oomblik. Want Grootmensspeletjies is Hanri. Net Hanri.

En toe-uit die bloute- kom nog erkenning uit ‘n onverwagse oord. Die vrou wat waargeneem het as my Graad 2-juffrou. Sy stuur ‘n sms. En daarmee sluit ek die blog-inskrywing af, want dit sê meer as wat ek kan. Ek kan wel sê dankie, want my beker loop oor.

“Liewe, lief Hanri. Ek voel nou omtrent soos Liewe Heksie wat per ongeluk haar perd Griet toor. Dis so verskrikklik droog en die weer steek wonderlik op. Ek kom sit hier in die sitkamer onder die waaier en kyk op die selfoon facebook se goed. Skielik, sommer vanself, is jou Skoolhoof-storie oop en toe nog stories op stories op dagboek tipe stories. ‘n Verskriklike waar, eerlike en besondere een oor jou ma. Ek onthou die langsteel roos, witkop-dogtertjie in my klas en die wete: Dis werklik ‘n begaafde kind. Ek het ‘n ekstra diploma gaan leer oor die begaafde kind. Een ding wat ek onthou is dat so ‘n mens die hoogtes en laagtes van die lewe skerp ervaar. As so ‘n persoon ‘n opregte vriend kry is dit die wonderlikste ervaring van haar lewe. Dit gebeur egter selde. So bid ek vir jou dat die regte mense op die regte wyse en die regte tyd in jou lewe sal kom. Ook dat die regte woorde jou sal binne skiet as jy so dikwels moet praat in volmaakte verband en volmaakte orde. Vat jou wonderlike stukke skryfsels…laat jou ma dit redigeer en maak daarvan ‘n weggee- of verkoopboek op jou eie. Die dierbaarheid, eerlikheid en deurskynendheid en skreinheid het my hart met deernis en vreugde geraak.  Loop weg hierheen of na Groot Marico se skrywershuisie toe en laat ons jou met liefde en hulp ondersteun.”

 

Advertisements

Die skoolhoof…

935063_10151698910114374_407779526_nAs mense die woord “skoolhoof” hoor, is daar gewoonlik nie ‘n goeie reaksie nie. Ek luister hoe mense om my van “Die Skoolhoof” praat. Daar word woorde soos kwaai, beneuk, militaristies, pakslae en streng gepraat.

Maar daar word ‘n heel ander prentjie geskets oor die destydse skoolhoof van Swartruggens Gekombineerde Skool. ‘n Reus van ‘n man wat moet buk as hy by die deur inloop. Maar ‘n hart van goud.

In plaas van vrees inboesem by die kleintjies, het dié skoolhoof die grondslagfase se harte gewen met ‘n glimlag. Ek onthou hoe ek eendag gestaan en kyk het hoe drie graad eens om sy bene hang en hoe lekker hy gelag het toe hulle skril stemmetjies “my meneer, my meneer” geskree het.

Ek onthou hoe hy ‘n reuse soektog begin het vir ‘n vermiste graad drie seuntjie. Die knapie het pad gevat toe hy hoor hy word inge-ent teen griep. Na ure se soek het die skoolhoof hom in die boom aangetref. Die skoolhoof moes paai en mooi praat oor “hoe sterk seuns nie bang is vir ‘n ou dun naaldjie nie” en “hoe hy niks sal voel nie want hy is ‘n groot meneer” om die knaap uit die boom te kry.

Anders as ander skoolhoofde het hy nie bevele geblaf nie. Hy het dit sommer self gedoen. Soos om die décor vir elke skoolkonsert en matriekafskeid self te verf. Kunssinnig, kan mens hom amper noem. Die man het talent met ‘n verfkwas en vir elke leerling was dit ‘n moerse eer as jy saam met die skoolhoof kon verf.

Ek hoor hoe vriende vertel  hoe kompetisie- en wengedrewe hulle skoolhoofde was. Hoe die skoolhoof die eerste rugbyspan altyd eerste gestel het en basta met die res. Dis vir my vreemd, want my skoolhoof was nie so nie. Hy het al die sportsoorte ondersteun en moed in gepraat. Maar hy het self die “vis en chips-span” afgerig. Die netbalspan. En as daar ‘n speler by ‘n netbaloefening gekort het, het hy self ingestaan en die doele een na die ander gesink. En die reus van ‘n man kon ‘n voetfout sien soos min ander skeidsregters.

As die atletiekseisoen aanbreek het hy in die koelte op die paweljoen gesit saam met die ander skoolhoofde nie. Hy was langs die hoogspringmatte. Want hy was die hoogspringafrigter. En die hekkiesafrigter. En hy het op  en af gespring vir elke atleet – al kom die atleet laaste. Dan kry jy steeds ‘n vryf op die rug en ‘n “mooi my kind, jy het jou bes gedoen.”

Toe ons matriekgroep Wiskunde en Aardrykskunde bank, het hy ons nie verskree nie. Hy het probeer raas, maar dit was duidelik hy het gesukkel om sy lag te hou. Soveel te meer omdat hy die Aardrykskunde-onderwyser was.

Hy het deelgeneem aan die verskeidenheidskonserte vir fondsinsameling. Een keer het hy sy twee meter lange lyf in ‘n aandrok gesit, sy trots in sy sak, en hy het op die verhoog gestap en ‘n aangepaste weergawe van Freddy Mercury en Montserrat Caballé se Barcelona gesing. Hy het balonne as borste gehad en in plaas van Barcelona, het hy “bars balonne” gesing toe dié borste bars.  Hy was eenmaal op die verhoog in sykouse en ‘n tutu vir ‘n balet-nommer wat almal laat skaterlag het. ‘n Ware bok vir sports. ‘n Lieflike skepsel inderdaad.

Hy glimlag en  tree met sagmoedigheid op. Hy was nie net die skoolhoof nie. Hy was elke kind se vertroueling.

Vir my was hy ook ‘n meneer – maar net in skoolure. Na dit was hy Pappa.

En Pappa was selfs beter as die skoolhoof.

Vandag is daardie skoolhoof van Swartruggens Gekombineerde skool ‘n pensioenaris. Hy is vir niemand meer “meneer” nie. Maar vir my is hy steeds Pappa en steeds die beste skoolhoof en pa wat bestaan.