Nuwejaarsvoorneme…

rtss

Ek het onlangs ‘n Abraham Kriel Kinderhuis besoek. Ek het vir die kinders gevra wat hulle nuwejaarsvoorneme vir 2017 is. Die meeste van die kinders het nie ‘n benul gehad wat nuwejaarsvoorneme is nie. Ek het verduidelik. Hulle het gedink dis heel belaglik en gesê hulle dink nie dis nodig om sulke voornemens te maak nie.

Ek stem saam. So daarom het ek raad vir die sotte wat dink 2017 gaan beter as 2016 wees. Nie noodwendig nie. 2016 was gagga. 2017 gaan waarskynlik ook wees. So hier is ‘n reality check.

Kom ons neem voor om dinge toe doen wat ons gaan doen. Doen weg met die stront-stories wat jy weet net vir ‘n week of twee geldig gaan wees.

Kom ons neem nie voor dat ons “nie meer gaan toelaat dat hy my omkrap nie”. Kom ons neem nie voor dat jy “hom uit my lewe gan sny” nie.  Erken teenoor jouself dat jy nogsteeds gaan antwoord as hy bel en dat jy steeds gaan opdaag as hy jou nooi en dat jy nogsteeds gaan toelaat dat hy jou lyf gebruik.  Maak eerder die voorneme dat jy nie daaroor gaan lieg nie en dit gaan sien vir wat dit is. Neem jou voor om vrede te maak met die situasie.  Aanvaar dat jy dalk so effens terterig is en dat dit ook reg is om te doen net wat (of wie) jy wil.

Kom ons neem ons nie voor om ‘n streng dieet te volg terwyl ons weet ons vet lyfies hou van kos nie. Jy gaan nie skielik ophou om stysel te eet nie. Jy gaan nie dadelik suiker uitsny nie. Jy jok vir jouself en dis selfs erger as om vir ander mense te jok. Jy is Pumba, nie Puma nie. Jy hou van spek en sjokolade en pizza. Jy gaan nie skielik lus raak vir spinasie en blare nie. Neem jou eerder voor om lief te wees vir jou eie lyf.  Neem jou voor om minstens te probeer om daardie lyf gesond te hou.

Kom ons jok nie verder vir onsself ek neem voor om ses dae ‘n week te oefen nie. Die lewe was besig in 2016. Dit gaan besig wees in 2017. Jy was ‘n lui couch potato in 2016. Jy gaan nogsteeds daai mens wees in 2017. Neem eerder voor dat jy gaan probeer om meer aktief te wees en dalk twee keer ‘n week (of maand) in die gym uit te kom en dat jy die trappe eerder as die hysbak gaan gebruik. Dis meer haalbaar. ‘n Varkie verander nie oornag in Usain Bolt nie.

Moenie maak of jy op 1 Januarie gaan ophou rook nie. Jy gaan tien teen een wingerd griep hê en dan gaan jy daai nikotien nodig he. Jy gaan soos ‘n skoorsteen wil voel as jy besef jy was giseraand gesuie en het (alweer) jou eks gevry.  Almal weet dat jy slegs ‘n aangename mens is as jy aan satan se stokkies suig, so wees maar aangenaam. As jy dit wel regkry om op te hou rook – lekker handeklap vir jou. Maar wees realisties. Jy is verslaaf, ophou gaan tyd en wilskrag vat.  Dieselfde geld vir daai alkoholiese verversings wat jy in die keelgat afgooi. As ‘n keelbedrfie jou gelukkig gemaak het in 2016, geniet hom ook in 2017. Jy kan dalk besluit matigheid voor oë, maar om te maak of jy skielik net ‘n groentee gaan geniet as jou ongeskikste pel 30 word is belaglik.

Jy gaan al jou skuld afbetaal en geld spaar. Nee. Jy gaan nie. Jy is die een wat jou armgat in die skuld gedompel het om mee te begin. Jy gaan nie skielik jou inner-Bill Gates oproep en ‘n motiveringspreker oor spaar word nie. Maak eerder ‘n voorneme dat jy van jou skuld sal afbetaal en al jou vyf rande in ‘n spaarvarkie gaan gooi. As jy ‘n kerkmuis was in 2016 is die kans dat jy ‘n kerkmuis gaan wees in 2017 groot. Jy kan dalk dit regkry om ‘n kerkmuis met beter kaas te wees, maar that’s about it.

Dalk neem jy voor om al jou vrye tyd by familie te bestee. Moenie. Stop die lorrie. Almal weet jy kan nie jou familie kies nie. As hulle jou binne drie ure nadat julle Kersvakansie in 2016 begin het teen die mure uitgedryf het, gaan hulle dieselfde doen in 2017. Ja, maak tyd vir hulle, maar net soveel soos wat jy kan vat.

As jy dan nou MOET nuwejaarsvoorneme maak, maak hulle. Maar moenie jouself vir ‘n mislukking uitlênie. Maak voorneme wat moontlik is. ‘n Nuwe haarstyl. Een koppie koffie ‘n dag minder. Reistyd. Stilte tyd.

Maar my wens vir ieder en elk is dat 2017 minder van ‘n teef sal wees as 2016. Laat dit juig!

 

foto: The Olympian

 

 

 

 

Advertisements

My ma se groot gil

Die vrouens in ons gesin het sterk stemme. Daarvan kan die mans (soms moedeloos en geïrriteerd) getuig. Ons het deelgeneem aan redenaars, ons praat hard en duidelik. Hel, ek het sommwer ‘n loopbaan uit praat gemaak. Wondergem rym met Wonderstem. En as ons skree… dan bedek jy jou ore en hoop jou oordromme hou.  My ma het jare gelede haar stem laat hoor op ‘n heel vreemde manier en daaruit spruit vandag se vertelling.

Jare gelede, nog voor my pa die skoolhoof geword het, was hy die koshuisvader. Al wat ons woonstel van die meisieskoshuis geskei het, was ‘n deur.

Een nag, so net na middernag, lui die huisfoon. Ma spring op want ‘n oproep in die onchristelike uur kan net een van twee dinge beteken: dood in die familie of siekte.  Aan die anderkant fluister die juffrou wat koshuisdiens doen. Sy bel uit die woonstel op die eerste verdieping. Twee snippe het kom klik. Daar is ‘n man in die koshuis.

Buiten vir ons kragtige stemme, is die vrouens in ons gesin ook redelik hardegat. (Ek dink nie eers ‘n verduideliking is hier nodig nie. En redelik is dalk die understatement van die jaar.) Toe my pa aan die gangdeur vat om ondersoek in te stel, staan my ma neffens hom. Sy loop saam. Klaar.

Die wat ‘n koshuis ken sal weet ‘n donker koshuisgang is genoeg om enige dapper muis na sy gat te laat kruip. Maar daar stap die twee. Die eerste stel trappe is in die middel van die gang. My pa beduie vir my ma dat sy moet stilstaan, hy gaan na die eerste verdieping.         Sien, op die eerste verdieping bly twee matriekdogters in ‘n woonstel “sodat ons meer kan leer, meneer”, en my pa vermoed die manlike besoeker het deur dié woonstel se venster ingekom.

My ma staan seker vir ‘n sekonde voor die ongeduld (en nuuskierigheid, die vrouens in ons gesin is nuuskierig ook. Ek is immers joernalis) haar inhaal. Sy stap aan. Verby die tweede stel trappe sluip sy suutjies. Sy loer om die muur van die studie-saal… en kyk reg in die man se gesig vas.

“Ons was letterlik gesig teen gesig,” vertel sy. Sy gaan aan’t gille. Maar behalwe om te vlug nadat sy gillend gal afgaan, sit sy die gevaar agterna. Hulle hol op met die trappe, ma steeds aan die gil. Die man pluk die woonsteldeur oop. Ma gil voort. Hy spring by die venster uit. Ma gil steeds. Hy land, soos ‘n kat, op sy voete in die blombedding. Ma gil. En hy kies die hasepad. En Ma gil.

Teen die tyd wat my pa by my ma aangekom het, was sy hees geskree en die man lankal in die niet.

Die volgende dag gons dit onder die koshuiskinders. Nie so seer oor die man in die gang nie, maar oor die bloedstollende gille wat almal (behalwe die onnie in die woonstel by die studiesaal, hy slaap asof hy in ‘n koma is) wakker gemaak het.

Die hoof, wat oorkant die pad bly, laat kom selfs die koshuisvader die volgende dag kantoor toe om uit te vind wie so skree.  Want hy en vroulief het die gille gehoor.

Wie die man in die gang was is tot vandag toe nie bekend nie. Een van die dogters het wel haar lyf speurder gehou. Sy het na die voetspoor wat die man in die nat bedding gelaat het gaan kyk en dit met haar eie voet vergelyk. So loop die kind toe vir weke en plak haar poot langs al wat ‘n jongman in die dorp is s’n neer.

Sy het later met ‘n verdagte vorendag gekom. “Die seun van die mense van die pienk huis.” Die pienk huis was, wel, ‘n pienk huis so drie bloke van die koshuis af. Die seun het by een van die matrieks gekuier en almal was oortuig dat dit hy was wat my ma aan die gil laat gaan het.

En vra jy my ma wat sy dink die vent in die koshuis gesoek het, is haar antwoord eenvoudig: “’n Aand van passie, my kind… wel, soveel passie soos ‘n koshuiskamer toelaat.”

En het sy ooit weer gegil soos daai aand.

Nee. “In my hele lewe nooit weer nie.”

Maar die stembande van die vrouens in ons gesin is vandaar nooit gering geskat nie.

Vry is soos fietsry

original

“Vry is soos fietsry. Jy verleer dit nie,” kom die gerusstellende antwoord van ‘n vriend. Sekondes vantevore het ek kommer uitgespreek oor hoe lanklaas ek iemand gesoen het. “Ek dink ek het dit dalk al verleer.”

Die daad van soen is daarom my onderwerp en ek dink aan ‘n Sex and the City-episode waarin een van die karakters, na ‘n slordige soen, geskree het: “he raped my face!” Ons was al almal daar, suster. Dan dink ek aan my eerste soen. Nie piksoen nie. Behoorlike soen. Ek was 12 jaar oud en by ‘n leerlingraadskamp. Ons het buise vol tandepasta gevreet en spin the bottle gespeel. Dit was ‘n vuurdoop tot vry en dit was aaklig.

Ek het jare gewag voor ek dit weer durf waag het.

Sedertdien het baie jare en vele soene verloop. Ek weet nie of daar ‘n regte manier van soen is nie. Maar ek weet sekere soene voel net nie vir my reg nie…

Dit voel nie reg as ‘n tong soos die van ‘n reptiel in-en-uit jou mond beweeg teen ‘n verbysterende spoed nie. Dis ook nie aangenaam as daar soveel tong in jou mond geprop word dat jy seker is jou mangel is raakgesoen nie. Dan is daar die aaklige dik tong wat soos ‘n lui slak in jou mond gelé word. Ek gril sommer by die gedagte. Te veel tong wat verwoed gebruik word maak my naar. Daar is ook die totale gebrek aan tong. Dan voel dit of jy ‘n miniatuur grot soen. Die vis-lip is net so erg. Die mond gaan oop en toe maar verder is daar niks. Net NIKS. Daar het eenmaal ‘n jongman die vlies tussen my bo-lip en tande met sy tong probeer verken. Hy is weggestamp. Dan was daar die knaap wat oënskynlik nie genoeg van my soene kon kry nie. Ek moes hom amper dwing om asem te skep en my rou ken (van sy dag-oue-baard) met gesigroom in die badkamer gaan vertroetel, en toe ek uitkom het hy ronde 440 aangekondig en verder gesoen.  Die bebaardes is ook ‘n klas van hulle eie. Ek is mal oor ‘n man met gesighare. Daar is wel ‘n pyn-tyd – as die stoppels soos skuurpapier teen jou sagte gesigvel skuur tot daar niks oor is nie.  Daar was ook al een waarna ek verwys as die vrousuier. Jip. Die menslike weergawe van ‘n stofsuier. Daar was  ook al ‘n byter. My lip, my tong, my wang. Sy tande is in alles geslaan. Asof hy my gesig wou eet.  Telkemale was daar al die slordige soener. Die soener het te veel spoeg in sy mond of net geen beheer daaroor nie. Dit voel asof jy ‘n ruitveër vir jou gesig nodig het vir ‘n vry-sessie met hom.

‘n Soen is ‘n risiko en die kans vir ‘n flop is goed. Soos as mens nie heeltemal op dieselfde vlak is nie. Jy beweeg in vir ‘n piksoen, maar mannetjie se mond is wawyd oop… Dan voel dit soos ‘n legkaart wat nie pas nie en altwee kyk maar ongemaklik vir mekaar.  Dit kan ook voel of mens skielik te veel tande in jou mond het en dan kry jy die soen-gelyke van ‘n kop-teen-kop-botsing, maar dis tand-teen-tand.  Monde is ook sinoniem aan asem. As daai mond oopgaan en dit ruik of hy skielik omgeswaai het en nou ‘n ander holte in jou gesig druk… dan gooi jy hom met ‘n peppermint en maak spore. En dan is daar die dronk-soen. As jy dit self doen, kom jy dit nie agter nie. As jy dit aanskou is dit gelykstaande aan twee katte wat mekaar probeer skoon lek. En dis genoeg om jou soen-lus vir eers te blus.

Dan besef ek – net soos met fietsry, kan almal nie ewe goed soen nie. Almal doen dit nie dieselfde nie. Die basiese beginsels geld. As jy fietsry het jy ‘n saal, twee wiele en jy trap. As jy soen het jy twee monde, vier lippe en twee tonge. Akkedis sal lekker soen vir ander akkedis – dieselfde geld vir slakke, suiers, byters, groot tonge, stoppelbaarde, vrot-asems ensovoorts.

Oliver Wendell Holmes het geskryf: “The sound of a kiss is not so loud as that of a cannon, but its echo lasts a great deal longer.” En daar was darem al soene wat my knieë lam gemaak het en my maag vol vlinders laat skiet het.

Dit het my geloof in soen herstel. Lippe wat spreek van gereelde “Lip Balm”. Daar was net die regte hoeveelheid tong en passie. ‘n Goedversorgde baard wat streel eerder as krap of skoongeskeerde bakkies.  Die byt was dit saggies en net een keer – dit was nie seer nie, dit was speels. Sy tande het nie gestamp nie. Vars asem en arms net styf genoeg om my lyf.

Sug.

En al die slegte soene is skielik die moeite werd om te waag as mens minstens weer een so soen kan kry.

 

foto:weheartit.com