Die ex-files

ex-ex-300x235

Ek weet dalk nie veel van ‘n vaste kêrel/minnaar/spesiale vriend of wat ookal jy die gedoente noem hê nie. Maar ek weet van ex-ouens.  Verhoudings was nog nooit my sterk punt nie. Dis juis hoekom ek so goed weet. Ek ken die veraglikheid wat exe is.  En vir die wat ek nie self van weet nie, het ek vriendinne en vriende wat hulle rillers met my deel.

En ja, ons lag soms oor die absolute dose wat van hierdie mans is/was… maar eintlik is ons almal so bietjie gekwes deur hulle. En dis nie so vreeslik snaaks nie.

En voor jy oordeel en dink: “ja Hanri, jy is ook maar ‘n teef,” ontspan daai boude en weet hierdie is MY mening. Dis 100% subjektief. Lag eerder en leer saam met my uit die foute wat ek (soms oor en oor en oor) gemaak het. Want iewers hier gaan jy jou ex, of jouself, raaklees.  Dalk is jou ex ‘n kombinasie van ‘n paar wat ek hier noem.

  1. Die eerste ex.

Dis die een wat die hoofrede is dat jy die bitter ou suurgat realis geword het wat jy vandag is. Jy het sy hart gebreek of hy dalk joune. Ongeag, dit het elke verhouding wat jy sedertdien gehad het beïnvloed en met agterdog laat bejeën. Al was jy toe net 15 en jy ken hom nie meer nie kan jy nie help on te wonder “wat de hel het ek gedink” nie. Ek kyk vir jou mannetjie wat agter die koshuis met my (en ander meisies) gevry het.

  1. Die een wat jou met reg haat.

Jy het hom verneuk, rooi koeldrank op sy duur bank gemors, gekots in sy nuwe kar of sy playstation gebreek. Watookal die rede mag wees – hy haat jou.  En al is jy vandag ‘n ander mens as toe, jy het vir hom so die moer in gemaak dat jy jou nooit sal vergewe nie. Hy wil jou nie sien nie. Hy wil nie met jou praat nie. Hy wil jou met sy nuwe bakkie raakry, in tru-rat sit en bo-oor jou ry. En dis okay. Almal het so een. Ek kyk vir jou, ou op wie se fancy leerbank ek met kougom in my mond aan die slaap geraak en toe beskadig het toe ek probeer om dit van die leer af te trek…

  1. Die een wat jou los om terug te vat… en weer te los.

Hoekom jy ooit sal dink dinge gaan beter wees die tweede (of derde, of sesde keer) is een van die raaisels van die lewe. Dis elke keer dieselfe poespas. En jy luister nie. Nie na jou vriende se waarskuwings of jou ma se raad nie. “‘n Gelapte kombers hou nie, my kind. ” Ek kyk vir jou, universiteitsliefde wat vir jare hierdie speletjie saam met my gespeel het.

  1. Jy maak of die ex nie bestaan nie.

Denial is not just a river in Egypt, my friend. Jy kry skaam vir die feit dat jy selfs in die flou verskoning van ‘n mens se rigting gekyk het. En nou hou jy jou dom as jou vriende jou oor hom mok en maak of jy nie eers bewus is van sy bestaan (of sy maniertjies) nie. Ek kyk vir jou, ou wat verdagte gewoontes gehad het en, volgens my vriende, kommin is!

  1. Die een wat jy goed seer gemaak het en nou sal jy hom nooit terugkry nie.

Miskien het jy hom sleg behandel, miskien het jy net gereeld malaanvalle gekry. Ongeag – jy het die man te vêr gedruk, so vêr dat jy hom glad nie kan sien nie en ook nie kan sien dat hy ooit sal terugkom vir nog ‘n skop nie. En jy wil hom terughê.  Ek het nie so een nie, maar ek weet van vriendinne wat het.

  1. Die een vir wie jy lief is as jy dronk is.

As jy nugter is, dink jy nie eers aan hom nie. Maar sodra jy onder die prop is, is hy in jou gedagtes. Dit maak nie sin nie. Dit moenie so wees nie. Ek het hom nie meer nie, maar ek het hom gehad… vir jare was dit die dronk-sms’e en oproepe. Toe trou hy. Gelukkig.

  1. Die een wat net nie vir jou closure gee nie.

Julle is al langer uitmekaar as wat julle bymekaar was, maar vir een of ander onverklaarbare rede klou jy steeds en weet jy nog nie lekker presies hoekom dinge skeef geloop het nie.  Het jy iets so verkeerd gedoen? Of was dit klomp klein ietsies? Is daar hoop dat julle weer geluk in mekaar se arms sal vind? Voel hy enige iets? Ek kyk vir jou, knaap wat my as surrogaat vrou gebruik en my al vir ‘n jaar op sleeptou hou.

  1. Die een na wie jy verlang, maar net omdat hy lekker vry.

Die een hoef nie wonderlik of slim of aantreklik te wees nie. Maar hy het net iets gedoen wat jou bene lam (en oop) maak. Jy hoef nie eers regtig van sy persoonlikheid te hou nie.Tone-krul-lekker-man. Ek kyk vir jou knaap wat emosioneel onbeskikbaar is, maar vir wie ek sal toelaat om my weer op te tel en op die kombuiskas neer te sit.

  1. Die een met wie jy nie regtig in ‘n verhouding was nie.

So dinge was nooit amptelik nie, jy het nie op facebook gesit dat jy “in a relationship” is nie en jy het steeds op afsprake met ander mans gegaan.  Maar omdat julle nooit amptelik saam was nie, kon julle nooit amptelik uitmekaar gaan nie. So toe is dit van “verhouding-ish” na “niks” in 24 uur en jy wonder steeds wat daar gebeur het. Weer ‘n vriendin se vertelling.

  1. Die een wat jy al vergeet het omdat jy nie weet hoekom jy belangestel het om mee te begin nie.

So elke dan en wan noem iemand sy naam en jy bars uit van die lag. Niemand weet wat is so snaaks nie, maar jy weet. Jy dink terug aan die vreemde verhouding en jy weet nie hoekom jy in dit was nie. Daar is nie kwadegevoelens van jou kant af nie, maar dit maak net nie sin nie. Ek kyk vir jou, ou wat so baie gehuil het dat dit my brein gebreek het en toe skielik van geloofsoortuiging wou verander om my tevrede te hou.

  1. Die een wat jou ouers gehaat het.

En dit was ook die enigste rede dat jy in hom belang gestel het. Jou ou rebel, jy! Ek kyk vir jou, ou wat 5 jaar ouer as ek was en my, as skooldoggie, opgelaai het in jou lelike Ford en dan gespin het tot my ma se ontsteltenis.

  1. Die een wat jou hart gebreek het.

‘Nough said. Ek is nog nie reg om hieroor te praat nie.

  1. Die een met wie jy sal trou as jy op 35 nog enkellopend is.

Julle is uitmekaar met goeie rede. Maar julle is nie kwaad of lelik daaroor nie. En as jy niemand anders kry nie is hy steeds ‘n goeie plan B.  (Ek het nie so een nie, ek het plan A, maar sien weer 12.)

  1. Die vriend.

Voor julle in ‘n romantiese verhouding was, was julle goeie vriende. Dis nie sommer net ‘n vreemdeling wat jy opgechat het in ‘n kroeg nie. Julle het ‘n goeie begin-punt gehad. En nou lê die verhouding in die kakhuis en jy is angsbevange dat die vriendskap gaan volg. Hierdie is ‘n obvious een vir almal wat my ken.

  1. Die ex na wie se familie jy verlang

Jy verlang nie na die ex nie. Nie eers bietjie nie. Maar ai, sy ma was dierbaar, sy sussie jou vriendin. En jy het langer in die verhouding gebly as wat jy moes want jy wou so graag in daai familie introu. Dis net jammer hy was ‘n idioot…en ja, ek kyk vir jou bra wat die wit lyn op die pad sal snuif as hy nie sy fix kry nie.

  1. Die een met wie jy steeds vry

Die verhouding is verby. So wat is die doel van in kontak bly met ‘n ex? Sodat jy met hom kan vry, natuurlik. Jy is warmbloedig en het dit nodig. En jy vertrou die persoon reeds, hy weet waarvan jy hou . Dis maklik (en dis ook ‘n moerse probleem as jy dan weer ‘n gevoel ontwikkel en dan moet jy maak of dit jou glad nie pla nie want jy het die vry voorgestel).

So daar is my lysie van exe…. En ek is jammer as jy jouself raaklees, maar dis nie my skuld dat jy ‘n skrywer wou date nie.

foto : Better After 50

Advertisements

Die kuns van trane

images-2

Ek is nie ‘n huiler nie. Nie meer nie. Ek was eens op ‘n tyd. Dalk het my trane opgedroog. Dalk het ek alles uitgehuil. Dalk het ek net hard geword.

“Ek het jou nog nooit sien huil nie.” My byderweste vriendin sit oorkant my. “Ons ken mekaar al jare en jy huil net soos nooit.” Ek kap terug en herinner haar aan “daai een keer”. Toe ek dit noem besef het hoe belaglik dit klink dat ek in 6 jaar nog net een keer voor my hartsvriendin gehuil het nie. Want daar was al genoeg rede vir trane.   “Praat jy van toe die taxi jou kar afgeskryf het?” Ja. “Ag asseblief,” sê sy en snork deur haar neus. “Dit was soos miskien een traan en dit was van skok en daai skok het vining omgesit in briesend.” Daar is nie oordeel van haar af nie. Inteendeel, sy is dalk die naaste aan my wat dit betref. Sy huil ook nie juis nie.

Ek verdedig myself en sê min dinge is vir my so hartseer dat ek wil tjank daaroor. “Of dalk is jy net dead on the inside.” Bliksem. En nee. Ek is nie.

Ek het ‘n groot behoefte aan huil. Want ek voel. Die hemele hoor my, ek VOEL. Ek voel alles so kragtig dat ek myself moes leer om nie altyd te wys wat ek voel nie.

As misdaadjoernalis kon ek nie op moord- en ongelukstonele in trane uitbars nie. Dit sou nie baie professioneel wees nie en ek was daar om my werk te doen. Ek sou geen goeie storie kry as ek in snot en trane voor die slagoffers se geliefdes gestaan het nie.

My eerste, groot liefde het dit gehaat as ek huil. Hy het dit as ‘n teken van swakheid gesien. “Sluk jou trane.” Hy was nogal wreed. Ek was lief vir hom so ek het die trane gesluk.

Toe kry ek te doen met ‘n psigopaat wat almal om haar met trane kon manipuleer. En ek het myself belowe ek sal my nooit daaraan skuldig maak nie.

Sedertdien het ek al met soveel tragiese, hartverskeurende stories te doen gekry dat my eie probleme nie ‘n traan-pik werd lyk nie.

Ek wonder: het ek die kuns van trane verleer? Dalk het ek net ‘n verwronge beeld oor emosie en om jouself kwesbaar te maak voor ander. Ek weet nie.

Wat ek wel weet is dat my hart seer is (daaroor wil ek nie vandag uitbrei nie). Die hartseer lê net onder die oppervlak. Dit bou op en word net erger en ek het geen uitlaatklep nie.

“Ice Queen.” Beledig een van my vriende sonder om dit eers te bedoel. Maar hoe smelt ek die ys sodat die seer kan uitkom?

My kopdok (ja, judge maar. Ek dink in die stukkende wereld waarin ons leef het almal so bietjie berading nodig) is van mening dat ek ‘n negatiewe konnotasie aan sekere emosies het. Asof dit “verkeerd” is om dit te wys. Soos hartseer en woedend. My verdedigingsmeganisme is om dit na onder die oppervlak te stoot sodat niemand dit sien nie. Die gevolg is, ek lyk altyd 100 % kalm en in beheer. Al voel dit of my hart en al my are gaan ontplof. En dan kom die sarkasme en humor.

“Kyk gou na die video,” sê ‘n kollega nou die dag vir my. Hy sê dit wys hoe ‘n vragmotor oor mense ry in Jerusalem en dan in tru-rat sit en dit weer doen. Nee. Ek wil nie kyk nie. “Hoekom nie? Ontstel dit jou?” Nee. Dit ontstel my dat sulke tragiese dinge my nie meer otnstel nie.

En net daar besef ek dat ek iewer, in die jare van net kak en drama en geweld en lelike dinge, my trane en ontsteletnis verloor het.  Dis of ek een oggend wakker geword het en net nie meer myself, of die wêreld waarin ek leef, herken het nie. En net daar besluit ek – ek moet myself, my sagte hart en my trane terug kry.

Die vraag wat bly hang is net: “Hoe?”

 

foto: peterandsharda.com