My buitelandse beleid

img_2017-02-23_11-01-21

Dit lees soos iets uit ‘n Mills en Boon-liefdesverhaal. ‘n Vrou van Afrika. ‘n Man van Europa. ‘n Eiland. Betekenisvolle kyke en glimlagte. Dans op die strand. Stap in die maanlig. ‘n Passievolle eerste soen. Romanse.

En dit, my liewe vriende, is alles waar van my onlangse vakansieromanse in Zanzibar. Gun my my eie Mills en Boon-oomblik.

‘n Paar van die clichés soos hierbo genoem was wel teenwoordig in alle glorie. Ek was inderdaad die hoofkarakter in my eie persoonlike rom com.

Maar…

Ek was nie ‘n jong, lewenslustige vrou in my vroeë twintigs nie. Ek het nie ‘n wilgerlatlyf en ‘n baar borste wat reg onder my ken sit nie. Ek is nie sonbruin en atleties en opsoek na avontuur en liefde nie. Ek het nie op my eie na die eiland gevlug om myself te vind nie. Ek was nie opsoek na ‘n man om my te red nie.

Nee.

Ek was ‘n 29-jarige, siniese , hardegat joernalis. Ek was op die rand van ‘n senuwee-ineenstorting. Ek was moeg vir mans en leë beloftes. Vir werksverpligtinge en onregverdigheid. Vir verwagtinge. Ek was beangs vir dertig word. My hart was bitter seer. Ek het presies geweet wie ek is en ek was nie baie gelukkig of tevrede met dit nie. Ek moes wegkom, ek moes my eie bestaan ontvlug. En ek moes gaan rus.

Hy was nie ‘n sakeman in sy vroeë dertigs wat pas ‘n liefdestelleurstelling oorleef het nie. Hy het nie sy pa se miljoene van die hand gewys om ‘n kunstenaar te wees nie. Hy was nie die beeld van menslike perfeksie nie.

Nee.

Hy was ‘n 25-jarige metal head wat besluit het om vir ‘n paar maande by sy oupa se hotel in Zanzibar uit te help. Hy het ‘n man-bun en bril en vreemde tattoos. Hy rook ‘n pakkie camel ‘n dag en het bietjie van ‘n BDSM-fetish. Hy is pragtig, daarmee stry ek nie, maar nie op die manier wat al die mans in rom coms is nie.

Dit was nie ‘n liefde met die eerste oogopslag situasie nie. Dit was nie die perfekte ontmoetting nie. My hare het nie oor my gesig geval en in die son geglinster nie. Hy het nie ‘n spierwit gebit gewys en ‘n armspier laat spring nie.  Ek was warm en natgesweet en het ‘n hele hand vol grondboontjies in my mond gestop toe die man vra of hy by my kan sit. Ek moes klaar kou en hom vra om te herhaal want sy aksent was swaar op my oor. Toe het hy ‘n sigaret doodgedruk, vooroor geleun en oor sy brilraam vir my geloer. Ons altwee het gelag vir die “language gap”, maar almal praat lyftaal.

En van daar het ons eie Mills en Boons oorgeneem. En ek het oorgegee en toegelaat dat dit met my gebeur. En dit was wonderlik.

Die swaar Italiaanse aksent het ek vining gewoond geraak. En toe het dit gedrup van sexy. Hy het uitgevra oor my en toe hy hoor ek is alleen daar, aangebied om die volgende dag met my saam te stap na die plaaslike mark. En hy het. Hy het vir my ‘n reusagtige bier gekoop en ons het gelag en gesels. Toe hy hoor ek wil gaan duik het hy self die duikskool gebel en gereël dat ek gehaal word om op die mooiste plek te duik. Toe hy hoor ek verjaar het hy gesorg vir vars blomme in my kamer, ‘n eg Suid-Afrikaanse aandete en ‘n sjokolade koek wat singend aangedra is. Hy het my na die plaaslike “disco” geneem. Ons het met ons tone in die sand gedans en kort voor middernag het hy my gesoen. Van daar het hy my elke dag gesoen. Elke dag was daar blomme in my kamer. Elke keer wat ek aanstap is my mengeldrankie van keuse aangedra. Elke aand het hy met my gedans in die maanlig. Romanse was nog nooit so soet soos in Zanzibar nie. En na ‘n week in die paradys was dit verby. En dit is reg so. Dis perfek so.

So nee, ons was nie die wenresep van ‘n liefdesverhaal met al die clichés nie. Dit was soveel beter. En van nou af sal ek almal wat enkellopend is aanraai om alleen met vakansie te gaan en ‘n vakansieromanse aan te knop. Die redes?

Die opwinding.

Ek was alleen met vakansie op ‘n asemrowende eiland en ek het gevoel of niks my kan onderkry nie (behalwe die Italianer wink, wink).  Dit was of elkeen van my sintuie op aandag gestaan het. En toe ek opwinding met ‘n beeldskone strand, vitamine son, mengeldrankies en ‘n Italiaanse aksent in ‘n mengbak gooi, het ek ‘n wenresep ontwikkel.

Jy leer ‘n ding of twee (of tien).

Na baie vrysessie met, wat voel soos, ‘n generiese weergawe van mans op eie bodem, ag ek myself as ‘n kenner op die gebied. Ek was verkeerd. Jy weet nie wat is plesier tot ‘n Italianer jou op die strand soen, sy hand deur jou hare trek en met daai aksent in jou oor fluister dat jy vir hom mooi is nie. Hy het dinge kwyt geraak wat my so 10 jaar terug sou laat bloos het. En toe doen hy dit!

Geen verpligting of verantwoordelikheid nie.

Met ‘n plaaslike knaap is daar altyd die moontlikheid dat een van julle “meer” gaan wil he. ‘n Verhouding en al die drama daarmee saam lyk onafwendbaar en dit plaas druk op jou. Met ‘n vakansieromanse is daar nie hierdie druk nie. Ons was altwee bewus van die vervaldatum van hierdie gedoente en dit het my  die vryheid gegee om te doen watookal natuurlik kom. Want al oordeel hy jou daarvoor, maak dit nie saak nie. Hy gaan vir niemand wat jou ken vertel nie en na die week van passie vat jy pad na die suide van die kontinent en hy kies koers na Europa. No fuss. Geen drama.

Die beste van beide wêrelde.

Ek het alleen meet vakansie gegaan juis sodat ek kon doen wat die moer ookal ek wil doen. Maar ek was ook bang dat die stilte gaan skree en dat ek deur eensaamheid oorval sal word. Deur die dag was my tyd my eie, net ‘n knipoog of drukkie so in die verbygaan. Want hy het gewerk. Saans het hy wel die dreigende eensaamheid verdryf.

Geen ongemaklike oomblikke nie.

Ek het geweet as ek iets belaglik doen, sal ek nie ‘n maand later in hom vasloop nie. En hy het dit ook geweeet, Daarom kon hy my vertel van die BDSM (Fifty shades of fucked up) vibes, en ek kon uitvra en daaroor lag. En weier. Ek kon daai ding wat ek in ‘n hygroman raakgelees het probeer en toe hy ‘n gilletjie gee kon ons altwee daaroor lag. Want more vlieg ek vêr weg. En ons wou net die tyd wat oor is saam geniet.

Ek weet nie of ek die man ooit weer gaan sien nie, en dit maak nie regtig saak nie. Want in een week het hy my so bederf en soveel plesier verskaf, sonder om iets terug te verwag, dat ek heel teruggekom het Suid-Afrika toe. En net soos ek elke man wat my hart gebreek het en elkeen vir wie ek hartseer veroorsaak het onthou, sal ek daardie week ook onthou. En altyd daaroor glimlag.

Suck it, Mills and Boon. My weergawe is soveel beter.

Advertisements

Doodsnikke van 20’s

30

Ek sit hier en tik op my my selfoon op ‘n spierwit strand met ysblou water in Zanzibar. Dis ‘n vreemde plek met vreemde mense, vreemde kos, vreemde drankies, vreemde tale en vreemde mense. En dis so gepas vir die laaste dag in my twenties. Want dit is hoe ek die afgelope, amper 10 jaar van my lewe sal beskryf: VREEMD.

Dié tydperk in my lewe was inderdaad vreemd. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is vir my geensins ‘n negatiewe verbintenis aan die woord vreemd nie. Inteendeel. Dis ‘n tydperk in my lewe wat, buiten vir uiters vreemd, ook ongelooflik wonderlik en opwindend was. En as jy my ken sal jy weet ek verwelkom die vreemde dinge in die lewe met ope arms en ‘n oop gemoed.

Op 20 was ek ‘n tweede jaar kommunikasie-student. Ek het in ‘n koshuis gebly en was meer gereeld as soms dronk. Op 21 was ek min of meer op dieselfde plek (darem nie akademies nie, maar wel sosiaal). My grootste bekommernis was semestertoetse, my pligte as huiskomiteelid en of ek genoeg geld het vir die toegansfooi by die kuierplek, Midnights. Op 22 het ek my studies voltooi en my loopbaan as joernalis begin. Dit was ‘n warrelwind van onsekerheid en moord- en ongelukstonele en spertye en wyn. Goedkoop wyn. Op 23 het ek op my eie gebly en op my eie na ‘n vreemde dorp getrek. Weg van alles en almal wat vir my bekend was. My hart was op ‘n ander plek en ek wou nie meer my hart in my borskas hê nie. Op 24 het ek die stad aangedurf. Nagte omgehuil en ‘n giftige verhouding (uiteindelik) verbreek. Op 25 het het my geboorte land plat gereis, ander se stories vertel en weer van werke gewissel. Ek het die gedrukte media vir radio en uitsaaiwese verruil. Op 26 het ek alles begin bevraagteken. Op 27 was ek bang dat ek nooit die liefde van my lewe sal ontmoet nie. Ek het. Ek het hom ook verloor. Op 28 het ek myself leer ken en besef dat niemand my iets skuld nie en dat party mense net boos is tot in die murg. Op 29 het ek begin om my eie storie ook te vertel op die einste blog wat jy nou lees . En hier sit ek nou. Die laaste dag van 29-wees het aangebreek.

Dit voel of 20 ligjare vêr weg in die verlede lê, terwyl 30 letterlik in my nek blaas (dit kan dalk ook die kelner wees wat nog ‘n cocktail bring of die Italianer wat betekenisvolle kyke gee).

Ek het vêr gekom. Student teenoor vrou. Gemeenskapsjoernalissie (ek maak dit met opset ‘n verkleining) teenoor radio-joernalis wat al programme op ‘n nasionale stasie aangebied het en twee keer in tydskrifte verskyn het. Moer. Ek het vêr gekom. Al klink dit nou vir my of ek vol van myself is, wil ek dit sê. Want hierdie is net die opsomming, die laaste tien jaar was woes.

Ek het eenmaal raak gelees dat jou twenties die tydperk is waarin jy foute gegun word. En die hemele hoor my: ek het foute gemaak. Groot foute, klein foute, onbelangrike foute, voetfoute, lewensveranderende foute, oordeelsfoute. Maar as ek moet teruggaan en vir 20-jarige Hanri raad gee, sal dit wees: “vergewe jouself vir elkeen van die foute.” Ek het kak aangejaag. Baie kere, maar ek het dit oorleef en myself uit dit getrek – of dit kniediep of nekdiep of verdrinkdiep was – ek het uitgekom. En ek swem steeds.

En ek wil ook vir daai jonge Hanri sê: “Fok hulle en fok dit!”  Ek het soveel kere al toegelaat dat mense my opinie oor myself skeef trek met hulle verwagtinge. Wat maak dit tog saak wat ander mense van jou dink? Ek het nie ‘n man, kinders, ‘n groot huis of baie geld nie. Maar ek het stories. Stories wat jou tone sal laat omkrul en jou bek sal laat oophang. Ek het selfs stories wat jou sal laat kwyl. Ander wat jou sal laat huil. Ek lééf.

More oggend gaan ek wakker word en ek gaan 30 wees. Meer as net dit, ek gaan 30 en trots wees op dit wat ek in my 30 jaar op aarde vermag het. Bliksem, as ek terugdink is ek eintlik redelik beindruk dat ek hoegenaamd oorleef het.

So vanaand klink ek hier, in die vreemde, ‘n glasie op Hanri wat 29 is. More gaan ek ‘n glasie klink op Hanri wat 30 is.  En dis dieselfde Hanri. Ek gaan vriende maak en lag en dans en tien teen een more aand my naam iewers op die sand verloor. Ek het op 29 ‘n helse opskop gehou om die laaste jaar van  twenties te vier. Ek het gekies om 30 te word op my eie – my verjaardag, my reëls en dis ongelooflik om op my eie te reis. En as ek net een ding geleer het, is dit genoeg. Want ek het weer geleer dat ek genoeg is.

Daar waar jy is – sit asseblief jou glas in die lug en drink op my en die volgende 10 jaar. Mag dit net so ‘n poespas wees soos die vorige tien.

Groete , vir oulaas, van Hanri in haar late twenties.

 

 

 

‘n Seerste seer

0e9b4b5acb57e8cd06f9c79dc3a8856b.jpg

‘n Gebreekte hart is die seerste seer. Seerder as om jou kleintoontjie teen die koffietafel te stamp. Seerder as om op ‘n lego te trap. Selfs seerder as wanneer jou blindederm bars. Die heel seerste van alle seer is ‘n seer hart.

My lewe lank het ek probeer om my hart te beskerm. Juis uit vrees vir die einste seer. Ek het ‘n muur gebou (nie een soos Donald Trump nie, een wat beskerm en nie beskadig nie). Met elke teken van seer, selfs net daai klein bietjie seer, het ek my muur hoër gebou. Elke man wat my telleurgestel het, het ‘n baksteen bygesit.

Tot op ‘n dag wat ek besluit het om ‘n gat in die muur te skop. Die gat was in die vorm van net een man. Net hy kon daarin pas. En ek wou so graag hê hy moet inklim – ten spyte van die vrees vir daai seer. Ek het hom ingelaat en gesê presies hoe ek voel, al was ek nie seker van sy gevoelens nie. Ek het gehoop. Gedroom. Gewens. Gewaag. Hy het nie dieselfde gevoel nie. En daar is my hart aan flarde. En vandaar die seer. So ongefokkenlooflik seer.

Vriendinne gee drukkies. Vriende bring wyn. Woorde van bemoediging stroom by die regteroor in en die linkeroor uit. Clichés. Goed bedoel, maar holruggery en dit help nie.

Toe wend ek my na die internet. Raadop met my stukkende hart. Die internet het mos gewoonlik antwoorde. Daar is self ‘n tien punt plan. En ek probeer volg.

  1. Praat met iemand wat omgee.

Dankie, Captain Obvious. Dit is wat ek nog die heeltyd doen. Maar nou voel ek soos ‘n plaat was vashaak en ek voel selfs skuldig omdat ek daagliks in my vriendinne se ore salk. Hulle het ook hulle eie oorloë om te veg.

  1. Vat jou hart na God toe.

Asof my hart nie uit die staanspoor by hom was nie. En nou het ek hom stukkend terug gekry en ek weet nie of ek mag wees nie, maar ek voel kwaad vir God dat hy my deur hierdie emosionele hel sit. God het nie die keuse gemaak nie, die man het.

  1. Gee vir jouself tyd om te genees.

Gaaf, maar hoeveel tyd is te veel tyd? Wat as ek oor ‘n jaar, of drie, steeds voel soos ek nou voel? Moet ek dan nog tyd gee?

  1. Leer lesse uit die ervaring.

Die enigste definitiewe les wat ek geleer het is dat dit minder seer is as jou hart agter daardie muur is. Miskien het ek ook geleer dat nie alle mans “man” genoeg is om ‘n kans te waag nie. Ek het geleer dat ek dalk regtig nie die verhouding-tipe of van die regte materiaal vir liefde gemaak is nie. En dis ‘n duur les en ‘n bitter pil.

  1. Wees versigitg en moenie weer aandag gee aan mans wat jou so laat voel nie.

Uhm. Nee. Die enigste gemene deler in die situasie van mans in my lewe, is EK. So dalk is hy nie die problem nie. Ek is. Ek is dalk die destructive een.

  1. Moenie oorreageer en ‘n aap van jouself maak nie.

So… om eerlik te wees is ‘n oorreaksie? Om niks te sê nie is nie genoeg aksie nie. Moenie my verkeerd verstaan nie –  ek gaan nie sy kar met ‘n sleutel krap of verf oor sy klere uitgooi nie. Ek gaan ook nie bel en in sy ore huil nie- al is dit al wat ek wil doen. Ek gaan nie ons gemeenskaplike vriende afskryf net om hom te vermy nie – al kan my hart dit nie oorleef om hom te sien nie. Maar wat presies is dan nou ‘n oorreaksie. Kan die internet meer spesifiek wees?

  1. Moenie te veel dink en ontleed nie.

Duidelik het die internet my nog nie ontmoet nie. Ek is ‘n dinker. Ek kan nie anders as om elke woord wat uit sy mond gekom het weer en weer en weer na te gaan nie. Ek hou aan dink dat daar fout is met my en – om die waarheid te sê – is dit presies hoe hierdie verwerping my laat voel. So ek gaan dink en ek gaan ontleed en tensy ek ‘n persoonlikheidsoorplanting kry, gaan ek nie ophou nie.

  1. Moenie “rebound” met ‘n ander man wat niks vir jou beteken nie.

Wag. Wat? Beteken dit dat my vriend se siening “the only way to get over someone, is to get over someone” is nie reg nie? Grappie. Asof ek op die oomblik genoeg van ‘n selfbeeld oor het om te glo dat enige man in my rigting kyk. Gmf. Die raad is dalk geldig as jy 21 is. Op amper-30 lyk dit anders. Daar is slim-pickings en seksueel oordraagbare siektes daar buite. Nee dankie. Die raad was oorbodig.

  1. Pas jou liggaam op, oefen en eet gesond.

Wie het hierdie raad geskryf? ‘n Man wat soos ‘n griekse god gebou is. Oefen en reg eet is nie hoe vroue met ‘n stukkende hart deal nie. Wel dis nie hoe ek met dit deal nie, en toe ek laas gekyk het was ek ‘n vrou. Ek wil in die fetusposisie lê. Verkieslik in ‘n donker kamer. Ek wil soppy movies kyk en sjokolade in my gesig druk. Ek wil heeldag in my sweetpakbroek wees en nie my hare kam nie.

En dan besef jy dat jy ‘n volwassene is. Dat jy nie heeldag kan lê en movies kyk en vreet nie. Jy moet jou dapper gesiggie opsit. Jy het ‘n beroep en jou persoonlike probleem hoort nie op kantoor nie.  Jy het nie tyd, krag of geld om in kroeë rond te hang sodat mans vir jou kan flikkers gooi om jou selfbeeld ‘n hupstoot te gee nie.  Jy het nie eers regtig tyd vir dink nie, maar as jy dink gaan jy aan hom dink.  Jy gaan oorreageer en jou selfoon gaan soos ‘n gevaarlike wapen, waarvoor jy nie ‘n permit het nie, word. Die kanse dat jy man gaan kry wat anders is as al die ander, is baie skraal. En selfs al ontmoet jy hom, gaan jy tien teen een die lesse wat jy veronderstel was om te leer, vergeet. Jy gaan dieselfde foute maak.  Jy het nie tyd om te genees nie, want jou lewe gaan aan. Jy het dinge om te doen. En jou verhouding met God gaan verbrokkel.

Dan sit jy met jou hande in jou hare en jou hart steeds in ‘n duisend stukkies op die vloer. En dan lees jy die een ding raak wat jou vertroue in die internet weer herstel.

10. Laat jouself toe om mens te wees en die seer te voel.

En dan voel jy dit.

image: HealthShire.com