Sielsgenote en susters in verknorsing

BeFunky Collage

“Maybe we can be each other’s soul mates and then we can let men be just these great, nice guys to have fun with.”

Net soos talle ander vrouens, het ek vasgenael gesit voor die televisie-reeks, Sex and the City. En hoewel ek my keer op keer pap gelag het en selfs ingeleef het, is dit die aanhaling wat vir my uitstaan.

Ek beleef dit. Ek lééf dit.

Ek het nie net een goeie vriendin nie. Ek is uit my sokkies geseën met vele. Maar baie van die vriendinne het reeds die guys of girls vir fun in hulle lewens en dan suig die soul-mate-vriendin aan die agterspeen. En ek verstaan dit. Dit is reg so.

Maar dan het ek ‘n vriendin wat nie daardie pad stap nie. Wat, net soos ek, enkellopend is. Een wat verstaan waardeur ek gaan in die speletjie wat ons “Die Lewe” noem.  En dis hier waar daardie aanhaling uit Sex and the City so van toepassing is. Want hierdie vriendin is ‘n sielsgenoot. Sy het dit weereens bevestig toe ons onlangs vir ‘n langnaweek die pad vat. Net ek en sy.

Ons doen baie dinge saam. Ons leef so naby en is so lief vir mekaar dat ons seksuele oriëntasie al telkemale bevraagteken is. En vra maar. Dit pla my nie. Jy gaan my nie beledig as jy my ‘n lesbiër noem nie. Ek het vriendinne wat dit met trots is. Maar ek is nie een nie. Ek hou van mans. Baie. Maar hulle het my al soveel kere telleurgestel. En vir die vriendin van my is ek lief. En al is ons verhouding glad nie seksueel van aard nie, is dit steeds hands down die beste verhouding waarin ek al ooit was (buiten die lieflike verhouding wat ek met myself het).

Ek en vriendin praat dieselfde taal… Daardie taal is sarkasme. Ek dink die meeste van die tyd verstaan mense in ons geselskap nie wat de moer aangaan nie. Want ons het ‘n spesiale tipe sarkasme. ‘n Sarkasme wat deur jare van enkellopend wees so diep gewortel is dat diegene wat in feëverhale glo nie ‘n cooking clue sal hê van die vlak van sarkasme wat ons gebruik nie.

As ons saam is, hoef ek nooit te maak of ek ‘n nice mens is nie. Want, kom ons wees eerlik, almal het al probeer om hulle love interest te beïndruk met hoe donders lieflik hulle is. Of jy het extra nice gespeel om sy/haar pa se balle politoer te smeer. Of jy het aanstaande skoonma in die kombuis gaan “help”, hoewel jy voor jou heilige siel weet jy haat kosmaak en die kombuis is vir jou soos ‘n gevaarsone wat jy liefs wil vermy. Ja? I knew it. Sien al daai nonsens is oorbodig as ek saam met my sielsgenoot is. Ek kan op die bank lê soos die luidier wat ek is en karakters in ‘n sepie op die kassie skel. Sy doen dit saam met my.

Ook verstaan sy  my vlakke van mal-wees. Sy weet wanneer dit PMS, net ‘n lang dag of dronkverdrietig is. Selde is ‘n verduideliking nodig. En hoewel ek dit vlakke van mal-wees noem, het sy my nog nooit “mal” genoem nie. Wat meer is as wat ek van ‘n man of twee in die verlede kan sê. En as ek voor elf uur die oggend al ‘n bottel wyn oopmaak en dit begin regverdig, maak sy my stil met ‘n: “Doen dit. Doen net wat jy wil. Life is hard, you know…”

Ons kan oor enige iets praat. Letterlik enige iets. En doen net wat ons wil. Nog nooit was dit nodig om bolle toiletpapier in die toiletbak te stop sodat “hy my asseblief tog net nie moet hoor pee nie.” Nope, die stroom kan sterk vloei, met ‘n oop deur, sonder om eers die storie te onderbreek. Ek kan vertel van my gunsteling bra wat my verraai het toe die draad in my sy gesteek het. Ek kan praat oor die man wat my hart uitgeruk het. Oor die vertroueling wat my vertroue in die asblik gegooi het. Sy kan praat van die gemengde tekens wat sy sien by ‘n kollega of die puisie wat dreig om op haar kennebak uit te kom. Sy kan vertel van die seksistiese buffel wat haar sleg behandel net omdat sy ‘n vrou is. Ons praat oor die wicked itch kort na ‘n wax en die een lang haar wat op my wang groei. Geen onderwerp is taboe nie. Want ons gaan mekaar nie oordeel nie. Dis ‘n onvoorwaardelike verstaan en ondersteun.

Ons lag. Baie. Die heeltyd. Ons is eintlik so snaaks dat ek jammer voel vir ander mense wat nie die geleentheid het om ons gesprekke aan te hoor nie. Want dis iets om te beleef.  En soms is woorde nie eers nodig nie. Daai skop onder die tafel. Die beduie in ‘n rigting.  Die stil word in die natuur as ons gaan stap (en die stilte is nie net omdat ons uit asem is nie). En nie een van ons sit en wonder of die stilte ‘n ander betekenis het nie.

Ons kan saam met vakansie gaan en ek hoef nie een keer my beenhare te skeer nie. Ek kan die heeldag in my slaapklere wees as ek wil.

Ek kan sing in die kar. Van die noot af. En sy sing saam. Ons skree saam op padvarke. Verorber meer peuselhappies as wat nodig is, maar mens voel minder skuldig as jy nie alleen aant vreet is nie.

Die verhouding is nie moeite nie, inteendeel. Dit is so natuurlik, gemaklik. As ek na haar verlang, dan sê ek so. En ek hoef nie bekommerd te wees dat sy gaan dink ek “beweeg te vinnig” of “verwag te veel” nie. As sy met my wil praat, dan sê sy so. En sy hoef nie bekommerd te wees dat ek my eie afleidings vooraf gaan maak of myself gaan probeer verontskuldig of haar as swak sien nie.  Niks word ge-ooranaliseer nie. Want ons vriendskap is solid en sonder mixed signals.  As ons baklei, dan baklei ons klaar en sê jammer en los die ou koeie in die sloot.  Die murgwaarheid is al wat ons van mekaar verwag. Niks met ‘n suikerlaag nie, alles met goeie bedoelings.

Sy weet wat sy vir my beteken. En andersom. En ons verwag presies dieselfde van mekaar: vriendskap.

En daarom is dit die beste verhouding waarin ek my al ooit bevind het. Want vriendinne soos dié is sielsgenote en mans is… wel mans is mans… en dalk net mense met wie ons pret kan hê dan en wan.

 

 

Advertisements

Ander se boeke is duister

00c9d28

“Ander mense se boeke is duister.” My ma laat my gereeld stomgeslaan met haar wyshede. En sy is alweer reg. Ander mense se boeke is inderdaad duister. En dit is reg so. Dit hoort so. Ek verkies dit so.

Ek is onlangs ontnugter deur mense wat probeer lig werp het op my eie, persoonlike duister. Sonder dat hulle enige besonderhede oor my beweegredes het. Hulle neuse is in my sake gedruk, en daai was vir jou vreeslike ongenooide neuse. Die neuse is ook nie eers skoon nie. En die flitslig waarmee hulle my duister wou verdryf se battery was pap of die gloeilamp geblaas. Want wat die idiote gesien het, was vêr van die waarheid en realiteit.

Dit is ‘n aaklige gevoel as jy ‘n gesprek hoor wat nie vir jou ore bedoel is nie. Veral as jy die onderwerp van daardie gesprek is. Dan besef jy mense is besig om jou kliphard te oordeel en die seerste, persoonlikste inligting te deel met ander. Of hulle dink vir een of ander onverklaarbare rede dat jy in kompetisie met hulle is. So asof jy die energie het om met enige iemand anders as jou eie ek te kompeteer. Wat die gevoel selfs aakliger maak is as die mens aan die woord iemand is wat jy eens op ‘n tyd vertrou het. Iemand aan wie se kant jy nog altyd was. Iemand wat jy aangeneem het aan jou kant ook is. En dan stap jy weg met die mes in jou rug. En jy dink aan die cliché: as iemand by jou skinder, gaan hulle van jou skinder. Truthbomb.

Maar ongeag die aaklige gevoel, voel ek ook ‘n mate van dankbaarheid. Want die enigste kleure wat ek wil sien, is ware kleure. Al is dit ook hoe lelik. En hoor vir my, as die vernis afkom kan dit beeldskoon wees – maar die wat eens beeldskoon was kan ook lyk soos die duiwel uit die kinderbybel.

Ek gaan nie myself verontskuldig nie. Ek het ook al ore gespits vir skinderstories. Ek het al saam gepraat. So dalk verdien ek dit dat my persoonlike lewe onder ‘n soeklig geplaas word. Dalk verdien ek dit dat ander dink hulle kan vanuit een of ander moral high ground na my afkyk (hoewel hulle moral high ground eintlik net ‘n hopie mis is). En ek is “hard” soos my vriendin sal sê. Maar ek is eerlik en nie agteraf nie en ek bedoel nooit om mense skade te berokken nie.

Ongeag of dit my verdiende loon of nie is nie, dit brand steeds soos ‘n mofo.

Daarom sal ek my nie weer daaraan skuldig maak nie. Want niemand het die reg om te oordeel as daar stront op sy/haar eie stoep le nie. Niemand het die reg om in my of enige iemand anders se verhoudings in te meng nie. Om afleidings te maak oor mense se bedoelings is ‘n simpel ding om te doen. Dis dom. Want op die manier gaan jou eie bedoelings dalk ontbloot word. Dit is niemand se morele plig om die besonderhede van ander mense se lewens te loop en verkoop nie.

En ai, weer met ‘n cliché, maar mense wat in glashuise woon moet liefs nie klippe gooi nie.

Elke mens is net verantwoordelik vir hom/haarself. Jy moet doen wat reg voel vir jou en hoop jy kan snags slaap. En selfs al lê jy wakker met ‘n gewete wat jou kou… wel dan is dit nogsteeds net jou probleem.

En vir die persone wat gedink het dis wys om my in die rug te steek – moenie vir een oomlik dink my stilswye is omdat ek salig onbewus is van jou los tong nie.  Stilbly is ook ‘n antwoord. Jy verdien nie my woorde, energie of tyd nie.

En nooit weer sal ek jou naby aan my lewe toelaat nie.

My universiteitsvriendin het so lekker manier gehad om te sê : “ag, outvolve jou tog net!” wanneer mense hulle nie by hulle eie hopies stront wou bepaal nie. Dis dalk die beste besluit ooit, want ander se boeke is duister, en as jy nie in die donker kan sien nie, moet jy liefs nie jou mening daaroor lig nie.

 

foto: media.licdn.com