Dis jou eie skuld…

download (1)

Ek wil nou nie hoes, proes of paniek saai nie – maar ek is nou net mooi gatvol vir mense se gekla en gekerm. En by mense sluit ek myself in. Hierdie jammergat-maniertjies moet einde kry.

Dit is alles waar. En dis nie feetjieland nie. Dis jou lewe.  As jy dink jou lewe suig ou, harige balle… dan is jy reg. As jy dink iemand kom jou te na … dan is jy waarskynlik reg. As jy dink jy verdien beter… dan is jy tien teen een ook reg. En die enigste rede hoekom jou lewe balle suig, mens jou te na kom en jy beter verdien, is JY. Alles is jou eie skuld. Want net jy kan verantwoordelikheid vir jouself neem.

Jou houding is bepalend in die lewe. En ek gaan nou nie een of ander hippie filosofie onder jou neus vryf nie. Ek praat uit ervaring. As jou houding stink, stink alles. Want jy kyk deur poefbrille na alles en almal en die negatiwiteit is soos petrol op ‘n vuur van pessimisme wat reeds brand. As jy toelaat dat negatiewe gedagtes (en mense) jou gedagtes beheer, gaan dit jou lewe beheer en die slegte in die lewe kraai koning.

As jy jou werk haat – bedank. Makliker gesê as gedaan. Ek weet dit baie goed. Maar as jy nie kan bedank nie, stuur minstens jou CV uit. Hou op lui wees! Maak jou lessenaar skoon en gooi ‘n koue skouer na daai simpel verskoning van ‘n mense wat jou werksomgewing versuur.

Moenie drome droom wat jy nie gaan verwesenlik nie. As jy droom om te reis. Reis. Pak jou tas en ry. Jy hoef nie na Parys in Frankryk te vlieg nie. Jy kan na Parys in die Vrystaat ry. Maar laat toe dat jou leefwêreld verbreed word deur die vreemde en wonderlike mense daar buite. Jy kan nie alles beheer nie en jy moet ook nie.

Jy gaan nooit gewig verloor as jy aanhou om tee eet soos ‘n vark nie. So hou op om jouself te kritiseer en wees vet. Of hou op gemors eet en wees maer. Maar weereens gaan negatiwiteit jou nêrens bring nie. Jy gaan nie gesond voel as jy heeldag voor die TV le nie. Gaan stap. Of lê voor die TV maar hou op kerm oor jou gesondheid. Lees sommer ‘n boek ook.

Hou op om jouself te vergelyk met ander. Jou lyf lyk anders, jou hare voel anders, jy dink anders. Anders wees is awesome!

Jy is die rede hoekom jy ongelukkig is en hoekom jy vashaak in die negatiewe plek. Dis jou skuld. So hou blerrie op met dit man. Jy staan in jou eie pad. Jy is jou eie vyand. Die lewe skuld jou niks en as jy nie aan die werk spring en jou kop swaai nie, gaan jy sit waar jy sit.

Niemand gaan uit die bloute vir jou miljoene rand gee nie. Jy gaan nie een oggend wakker word en ‘n blokkies-maag en stywe boude he nie. Jy gaan nie in jou droom-pos aangestel word as jy nie aansoek doen nie.

Werk jou gat af. Letterlik en figuurlik. Offer die drama op en druk deur al is dit nie maklik nie. En glimlag meer!

Hou op om vir ander die skuld te gee vir die leë gevoel in jou hart. As jy wil he dinge moet beter word, doen dan iets aan dit wat sleg is. Verander dit wat jy kan verander.  Drink daai voel-fokkol-pilletjie as jy in daai gat van depressie vassit. Doen net iets.

Niemand gaan vir jou help of uitkyk of “daar” wees as jy nie dieselfde vir jouself doen nie. So dien iets!

 

 

 

Advertisements