Die binnekring van my menswees

download (2)

Teen die tyd weet almal al dat ek enkellopend is. En dit is waar van die grootste gedeelte van my volwasse lewe. En om dit te verander gaan ‘n man hare op sy tande moet hê (om dit sag te stel).  My ma sê nog altyd: “Jy is nie ‘n katjie wat mens sonder handskoene aanpak nie.” Ek is nie trots daarop nie, maar dit is definitief die waarheid. Want ek is vol draadwerk.

Ek moes onlangs weer so bietjie selfondersoek doen. ‘n Aangename knaap het sy opwagting in my lewe gemaak. Dit was vir my ‘n moerse verrassing. Want die knaap is ‘n spesie wat ek amper oortuig was aan die uitsterf is. Ek is gewoond aan mans wat hulle vrouens (probeer) verneuk (met my). Mans wat jok. Mans wat nie weet wat hulle wil hê nie. Mans wie se harte so toe soos klei-osse se holle is. Ek het begin dink dis al mans wat oor is.  Dierbaar en romanties en emosioneel beskikbaar en eerlik het na ‘n lugkasteel gelyk. En toe daag die knaap met dié eienskappe op. Glad nie die gewone Hanri-tipe-wat-simpel-speletjies-speel-en-jou-aan-die-wonder-hou nie.

Tog het ek vasgeskop en paniekaanvalle gekry toe die lieflike skepping in my spasie begin inbeweeg. Ek kon dit self nie verstaan nie. Dis immers die tipe man wat mens hoop jou drumpel sal deurtrap.

So vandaar die selfondersoek. Die volgende sin is lame – maar waar… Intimacy beteken vir my nog altyd in-to-me-I-see. Mens moet opreg en eerlik met jouself kan wees voordat jy enige ander mens sal kan toelaat in die binnekring van jou menswees.

Aanvanklik het ek gedink dat ek verslaaf geraak het aan die aandag van verskillende mans. Ek is immers die pret-slet. Toe besef ek almal hou maar van aandag en dat  ek baie lanklaas ‘n los gelukkie opgetel het en emosielose vrysessies ingewerk het. So dit kan nie dit wees nie.

Toe dink ek dat ek dalk nie wil afsien van my mansvriende nie. Want ek het baie mansvriende. En die helfte van hulle het ek al in een of ander stadium warm gevry. Geen man sal mos gemaklik wees daarmee nie? En ek is nie gemaklik om hulle aft e skryf nie. Ook verkeerd. Want my verlede maak nie juis so vreeslik saak nie en het eintlik niks met enige iemand uit te waai nie.

Toe dink ek dat ek dalk net bang is. Want ‘n seer hart is die seerste seer. En na die laaste seer weet ek nie of ek nog ‘n keer ‘n seer hart sal oorleef nie. Maar toe besef ek dat ek in die verlede elke keer wat ek gedink het ek is sterwend van die hartseer, oorleef het. En weer probeer het. En weer seer gekry het. Weer oorleef het. So hoekom sal ek dan nou nie weer probeer nie?

En toe kom die gewaarwording… Die rede vir my angstigheid, het ek besef, is omdat ek daarvan hou om alleen te wees. Vreemd vir ‘n uiterse ekstrovert? Dalk. Maar dis die waarheid. Want as ek alleen is het ek 100% beheer oor wat om my aan die gebeur is. En dit maak my gelukkig en gemaklik. En as ‘n man my wil oortuig om hom in my lewe toe te laat gaan hy beter moet wees as my “solitude”. En dis ‘n baie tall order. Want die man sal nie in kompetisie wees met ‘n ander persoon nie…  Hy is nie in kompetisie met iets tasbaar wat hy kan duifkyk en vloek en uitoorlê nie. Hy sal in kompetisie wees met my gemaksone. En my gemasone is baie gemaklik.

Ek klim maklik self uit daardie gemasone uit – maar ek laat selde mense daar binne toe.

En asof die gemaksone nie erg genoeg is nie – is daar ook die ander draadwerk.

My standaarde is hoog. Baie hoog. Daarmee bedoel ek nie ‘n man moet Sun City besit of soos Ryan Gosling lyk nie (hoewel ek dit baie sal geniet). Maar ‘n man moet sy lewe agtermekaar hê en deeglik bewus wees van die gevare om met ‘n vurige vrou (soos ek) deurmekaar te raak. Onder geen omstandighede kan ek iemand se mamma, oppasser of beursie wees nie.  Daarby is ek nie lus vir kak nie. Nie van die oënskynlike wonderlike man of sy vriende of sy familie nie. Ek is oud genoeg om te weet wie ek is – en as iemand iets daaroor te sê het moet hy/sy maar daai skoentjies uittrek en saggies moer toe stap.

Ek kan nooit die “damsel in distress” wees nie. Ek mag dalk ‘n oulike minnaar wil he… maar ek gaan hom nooit nodig he nie. Ek kom al vir baie jare op my eie reg, dit gaan nie nou skielik verander nie. Ek verander nie in ‘n sagte marshmallow net omdat daar ‘n man in die omte is nie.

Boonop sukkel ek om ‘n man “nommer 1” te maak. Want ek is nommer 1 in my lewe. Daarna kom die mense wat al vir jare vir my baie beteken. ‘n Nuwe liefde moet nooit dink hy gaan inwals en die top prioriteit wees nie. Get in line, son.

Ek sal nooit “needy” kan wees nie. Want wat ek ookal nodig het kan ek vir myself kry. En ek is selfversekerd. Ek weet wie ek is. Ek kan nie deal met stage 5 clingers nie. En ek is ook nie een nie. Moenie jou onsekerhede op my afdwing of probeer om myne uit te lig nie.

Soms kry ek “introvertsies”. En as iemand liggeraak is, gaan dit hom pla dat ek skielik van die aardbol af verdwyn. Maar dit is hoe ek is. Soms wil ek alleen wees en in my onderklere op die bank le en my gesig vol springmielies druk. En ek wil dit doen sonder ‘n gehoor. So los my uit! Ek skuld niemand enige iets nie – veral nie my tyd nie.

Ek gaan altyd pynlik eerlik wees. So moenie vrae vra en dan omgekrap wees oor die antwoord nie.  “Praat jy nog met jou ex ouens?” Ja, gereeld. “Het jy nog gevoelens vir jou ex?” Ja, Baie, en dit sal altyd daar wees. “Was daar baie ouens in jou verlede en in jou kooi?” Ja, meer as wat nodig is. “Het jy al daai vriend gevry?” Jip, telkemale. Moenie vra as jy gaan fout vind met die waarheid nie.

En ek sal altyd my eie lewe he. En dit sluit jou nie noodwendig in nie. Ek wil die horrie-piep kry as mense aan die heup vasgewerk is. Ek sien geen rede om ‘n man saam te sleep as ek by ‘n vriendin gaan koffie drink nie. Dalk het sy iets belangrik om vir my te sê. Ek kuier lekkerder by werksfunksies en troues as ek nie ‘n metgesel hoef op te pas of in te sluit nie. Dit is net hoe dit is. Dit is nie ‘n belediging vir jou nie, dis eerder ‘n karaktereienskap van my.

En my onafhanklikheid is nie onderhandelbaar nie en ek sal altyd liewer wees vir myself as vir ‘n man.

So in opsomming – hoewel ek nou weet daar is nog goeie, betroubare mans daar buite, is ek nie seker of hulle goedheid so ver strek dat hulle aan iemans soos ek se sy sal pas nie. Maar vir die knape wat wil probeer: ek verwelkom die effort en wens jou alles sterkte toe.

 

foto: askideas

Advertisements