Verniel, verwoes, verbysterd

My hart het in stukke gespat. En ek is kwaad. Woedend. Verbysterd. Vir die eerste keer in baie jare het ek vir die bronne van een van die stories wat ek vertel het, gevoél. Ek gaan nie vreeslik verveel met te veel besonderhede van die agtergrond nie en ek wil byvoeg dat ek ‘n skuilnaam gebruik.

Die hooggeregshof het beslis dat artikel 18 van die strafproseswet ongrondwetlik is. Dit beteken die “verjaringsperiode” van 20 jaar vir seksuele misdrywe moet opgehef word. Monitor word oorval met sms’e van luisteraars. Honderde sms’e van mense wat slagoffers was.

Die mense is dapper, hulle praat met my. Die enigste voorwaarde is dat hulle name nie genoem word nie en stemme vermom word. Elkeen van hulle sê: “om my familie die besonderhede te spaar.” Nie een sê “om myself te beskerm,” nie. Want die skade is reeds gedoen.

Elke storie is soos ‘n vuishou op my krop, elke storie ‘n mes in my hart. Die een se seer is nie seerder as die ander nie. Maar van die mense praat makliker as ander. Met meer besonderhede.

“Die vark het my kindwees gesteel,” vertel ‘n man wat as 12-jarige seuntjie deur ‘n man in sy 30’s verkrag is.

“Vandat ek my verstand gekry het, vandat ek kan onthou, lol my pa met my,” vertel ‘n vrou en voeg by dat hy ook haar sussies gemolesteer het.

“Eers net gevat en gevroetel. Eers net met my gepeuter. Later het hy my gepenetreer. Ek was vier toe dit begin het,” vertel nog ‘n vrou van haar pa. Sy sê haar pyn “verjaar” nie. Anders as die misdaad, soos die wet dit voorgskryf het tot nou.  Al was dit 40 jaar terug.

Klinies. Op die man af. Niemand draai doekies om nie.

Nog ‘n vrou vertel dat dit eers haar ma se broer was. Later ook haar pa se broer. Sy is as volwasse vrou ook verkrag.

En toe bel ek vir Marie.

Sy vertel dat haar pa vroeg dood is. Haar ma was ‘n volslae alkoholis. Om die verslawing te bevredig het mens geld nodig. Daar het mans by hulle gebly. “Soos ‘n losieshuis.” Daar was baie drank. “Die een oom het my gegryp en in sy kamer ingevat. Hy het vir my lekkergoed aangebied. En my toe begin vryf. Dit het gebrand. En toe het hy my hand gevat en op hom gesit. Ek sal daai reuk nooit vergeet nie. Nooit. Ek dink ek was drie of vier jaar oud.”

Sy vertel dat hy nie die enigste een was wat haar kinderlyfie misbruik het nie. “Daar het mans kom drink en kaart speel saam met my ma. Hulle het my op hulle skote getel en dan onder die tafel met my gevroetel. Ek het gedink dis maar hoe dit is. As jy nie van beter weet nie, kan jy nie jouself beskerm nie.”

Ek luister. Dis al wat ek kan doen. Marie wil haar storie vertel. Sy is 69, maar in my geestesoog sien ek die dogtertjie. Sy vertel nog baie dinge uit haar kinderjare. Ek wil nie eers oor alles skryf nie. Ek dink dit is vreeslik. Ek voel die kind se vrees en die mans se optrede walg my. Dis soos ‘n vuil hand wat ‘n wurggreep op my strot kry.

Toe vra Marie of sy maar vir my die ergste storie kan vertel…

Sy was vir behandeling vir haar rug. ‘n Ma van twee jong dogters. Na die behandeling kon sy nie saam met haar man terug plaas toe nie, sy het te seer gehad. Hy het haar op die dorp by haar broer afgelaai. “Ouboet is so 15 jaar ouer as ek”. Sy het ingesluimer op die bank. “Toe gryp hy my hard tussen die bene en vra of ek nat is.” Marie sê sy was uit die veld geslaan. Sy het haar vererg. Toe sy opkyk sien sy “’n vieslike blou-film” op die televisie. “En ek kon die brandewyn ruik.”

Sy vertel hoe haar broer haar oorrompel het. “Hy was net so sterk, ek kon niks doen nie. Niks.” Sy vertel dat hy haar oor die bad se rand gebuig het. “En so het hy my bewerk. In elke gat wat hy kon.” Toe ek dink dit kan nie erger word nie, deel Marie met my haar seerste seer. “Ek het gehoor hoe ‘n bottel breek. Toe ek opkyk sien ek dis ‘n bierbottel. Hy het die gebreekte bottel met die skerp punt voor en agter ingedruk. Hy het my oopgeskeur. Dit was so seer. Maar hy het net aangehou. En aangehou. Vir ure.”

Ek sit my mikrofoon af want ek wil nie he Marie moet my snikke hoor nie. Hierdie is haar storie. Sy vertel hoe sy “handdoeke in die gate gedruk het”. Want daar was baie bloed. Hoe sy doodstil gesit het toe haar man haar kom haal. Al die pad plaas toe nie een enkele woord nie. By die huis het sy die handdoeke uitgehaal. “My man het die baie bloed gesien en die ambulans laat kom.”

Sy vertel van operasies en hoe die vel van haar heup gebruik moes word. “Om my toe te werk.”

Sy sê sy is nie meer ‘n vrou nie. Hy het haar verwoes.  Sy kon nooit weer seks he nie.  En nou, dat die wetgewing moet verander gaan sy haar broer aan die pen laat ry. Hy moet nou boet vir wat hy aan haar gedoen het. “Want hy het nooit verduidelik nie. Nooit jammer gesê nie.”

Maar hoekom het Marie dan nie ‘n saak gemaak nie? Ek moet dit vra. Dit is my werk om vrae te vra.

Daar is ‘n lang stilte. Sy sluk trane. En probeer verduidelik.

Sy sê sy het net doodeenvoudig nie krag gehad om in ‘n hof te staan en getuig nie. Hoe vertel mens vir vreemdelinge wat jou eie bloedbroer aan jou geslagsdele te doen? Hoe hy jou privaatste dele verniel het? “Dit was te seer om daaraan te dink, wat nog van praat…” Sy vertel dat hy twee jong seuns gehad het. Sy wou nie hulle drome aat flarde skiet met die wete dat hulle pa ‘n verkragter is nie. En haar eie dogters wou sy beskerm. Hulle hoef nie hulle ma se seer te ken nie. En dalk het hy as kind dieselfde misbruik ervaar deur daardie vreemdelinge in die huis.

Maar nou is die kinders groot. Nou moet die man boet.

As joernalis is dit nooit maklik om die dinge te hoor nie. Maar mens sit afstand tussen jou en die bron. Die keer kon ek dit nie regkry nie. Ek het gedink hoe vreeslik dit moet wees as ‘n wildvreemde vrou jou bel en vra om jou seerste herinnering en trauma met haar te deel. Ek wil sê ek haal my hoed af vir die mense. Maar dit voel nie genoeg nie. Hulle is almal ongelooflik. Ek kon vir jare nie oor my eie trauma praat nie. Wat nog van praat met ‘n vreemdeling.

Toe ek vir Marie groet lê die trane vlak. Ek sê vir haar dankie dat sy so dapper is. Dankie dat sy haar storie met my gedeel het. Dankie dat sy die moed het om oor die seer te praat. Haar antwoord laat my stomgeslaan.

“Dankie dat jy wou luister.”

Hier is ‘n skakel na die storie as jy self wil luister… https://iono.fm/e/444148

Advertisements