‘n Engel by Engen

Progress Bar Uninstalling with the text: Bad Day

Ander dag sit ek in my kar en die selfbejammering loop weer diep deur my are. My slaappil van die vorige nag het teen middagete steeds nie uitgewerk nie. Ek is soos ‘n lyk wat lewe ingeblaas is, maar net-net nie genoeg om heeltemal lewendig te wees nie. Ek het die slegste haardag in ‘n lang tyd. Vir een of ander onverklaarbare rede het ek ‘n klossie hare in my nek wat net nooit wil saamwerk nie. Nooit. As my hare vas is, dan wil hulle los. As my hare los is, dan wil hulle regop. My kuif staan punt in die wind.  Boonop het ek die oggend nie tyd gehad om behoorlik grimmering aan te sit nie, so ek lyk soos ‘n siek 12-jarige. En moenie nou vir my kom preek oor “elke vrou is mooi” en “jy het nie make-up nodig” nie. Ek het. Ek lyk sleg sonder dit. Vroegskof het jare gelede al gesorg vir permanente blou kringe onder die oogballe. Boonop het ek ‘n ernstige aanval van PMS. So die buste beur pynlik teen die bustelyfie (dis my dramatiese woord vir bra).

Die werksdag was nie fantasties nie. Daar is ‘n nare nadraai van ‘n traumatiese jaar wat in die kantoor hang. Die lug is so vol negatiwiteit soos wat Emalahleni se lug vol swart wolke hang (blykbaar hoes die voëltjie mens daar wakker soggens).  Iemand het ook besluit dat die regte klimaat in die kantoor gelyk is aan die van die hel. Dis warm en my armpitte sweet.

En ek verlang en ek wil net ‘n drukkie het. En ek is platsak. En honger. Ek is die donder in Donderdag.

Nou gewoonlik as ek so voel, moet ek lekker musiek luister en nie mense om my he nie. Ek klim in die brawa en sit Meatloaf en Cher se “Dead Ringer for Love” op repeat. Dit laat my altyd beter voel.

My kar se brandstofliggie gaan aan en my gemoedsbekakking verdiep – want ek is net onder ‘n kerkmuis en neffens ‘n boemelaar en mense moenie nou aan my blootgestel word nie. Maar ry moet ek ry.  By die vulstasie aangekom, blêr Meatloaf en Cher voort. Ek draai die venster af en sing kliphard saam – in die gesig van ‘n petroljoggie wat ongesiens nader gedraf het en reg by my venster staan.

Ek bloos my ore rooi want nootvas was ek nie.

“Unleaded 93, please sir.”

Hy kyk my met ingenome oë aan en ‘n glimlag bars oor sy lippe.

“Madam, can I give you a compliment today?” Ek knik en dink hoe nodig ek ‘n kompliment het.

“You are very beautiful!” Sy glimlag is aansteeklik en die kompliment tref my in die gevoelens (al dink ek nie dis waar nie). Ek glimlag terug.

“Oooooooooh,” gee hy ‘n gilletjie, “and your smile is like a sunrise!”

Ek klim uit vir sjokolade (want PMS) en besluit om vir die gawe petroljoggie ‘n koue koeldrank te koop.  Toe ek vir die brandstof betaal gee ek die koeldrank aan en bedank hom vir sy vriendelikheid.

“Madam, not only are you beautiful with the smile of a sunrise… but also… You are every generous. “

Ek ry weg, Meatloaf begin weer sing, maar skielik voel die dag mooier en my hart aansienlik ligter.

Daar is engele om ons…

 

foto: DuckboardsAndStilts.com

 

Advertisements