‘n Dankie vir die verstaan

it-is-both-a-blessing-and-a-curse-to-feel-everything-so-very-deeply

Met die ingang na die derde dekade van my lewe (dit klink way meer dramaties as om net te sê ek is 30 jaar oud), het wysheid en aanvaarding van ‘n ander aard gekom.

Ek gaan nie vandag uitbrei oor al daardie wysheid en aanvaarding nie – maar wel oor twee baie belangrike dele daarvan.

My lewe was nog altyd opwindend. Soms te opwindend. So moes ek seker  geweet het dat die stille waters van die mees onlangse minnaar  met diepe grond (en om die liedjie te voltooi – onder draai die duiwel toe wel rond) gepaardgaan. ‘n Mat word skielik, sonder waarskuwing onder my voete uitgeruk en die man, wat belaglik diep in my hart is, is toe skielik nie meer in my lewe nie. (Moenie vrae hieroor vra nie, ek het nie antwoorde nie en ek is nog nie reg vir praat  nie. Mens krap nie aan ‘n rou wond nie).

Hanri van ‘n dekade gelede sou nou alleen op haar bed gesit en die trane met wyn afgeforseer het.  Sy sou ‘n masker opgesit het en waardelose vrysessies met vreemdelinge en dronk aande nagejaag het. Niemand laat weet het dat sy deur nog ‘n man verwerp is nie. In stilte swaar gekry het en verneder gevoel het om ‘n teken van mens-wees te wys. Die Ice Queen-gesiggie opgeplak het na dae van selfbejammering en stadig maar seker dieper in ‘n gat van selfbejammering gesink het tot depressie haar verswelg het. En niemand sou dit weet nie. Want maskers is maklik om op te sit. Sy sou haarself vernietig het en geweier het om te voel wat sy voel.

Drie-dekades-Hanri het genadiglik ‘n ander aanslag. Die maskers le iewers in ‘n stowwerige laai.

Maar dit beteken dat ek die seer wat ek voel om my gesig dra.

En dit is eintlik waarom ek vandag skryf.  Nie om die seer te ontleed nie, maar om dankie te sê vir die mense wat my gehelp het om tot aanvaarding te kom deur net te verstaan.

Die woord “ondersteuningsnetwerk” is nie vir my ‘n lekker woord nie. Dit klink of dit “beige” is. Maar dit is al woord wat ek het. En ek het opnuut besef hoe belangrik dit is. “Hanri, ryk uit na jou mense toe. Moenie nou binne in jou dop inkruip en alleen swaarkry nie.” My sielkundige weet wat gebeur as daardie donker skaduwee van depressie oor my kop hang en ek in alleen in die swart see swem. Sy weet dat ek al vir twee weke swaar trek. Ek volg haar raad. Want die jongste liefdestelleurstelling kom in ‘n tyd waar ek reeds sukkel om die wolk te verdryf en waar ek besig is om te sink.

Net soos die Voortrekkers van ouds, trek my mense toe laer om my. Nie met gewere en seep van seekoeivet nie. Maar ‘n definitiewe laer om my te beskerm. Ek laat weet die wat moet weet dat ek “nie okay” is nie. Ek hoef nie te veel besonderhede te verskaf nie. Want vir hulle maak dit nie saak hoekom ek sukkel nie, hulle oordeel nie en sê nie ek moet myself “regruk” nie. Hulle is nie onlingeligte idiote nie. Hulle verstaan. Hulle ken my.

Dis boodskappe van bemoediging, wyn, drukkies, koffie, kos, sjokolade en teenwoordogheid wat my oorval. En so saam-saam, sonder dat hulle dit besef, hou hulle my kop bo die water van die swart see. Sonder dat hulle enige iets terug verwag skyn hulle ligstrale deur die donker wolk. Vir die wat nie weet nie (die swart see en donker wolk is my manier om na depressie te verwys. Die wat diagnoses of selfs vermoede van diagnoses het, sal weet waarvan ek praat.)

En hoewel ek nie vandag, more of oor ‘n week “okay” gaan wees nie, is my hart rustig genoeg om te weet ek gaan eendag weer “okay” wees.

En dan kom die aanvaarding. Die aanvaarding dat ek ander mense se dade en gevoelens moet respekteer, al verstaan ek dit nie. Die aanvaarding dat ek nie van ander mense kan verwag om soveel van hulle mensewees vir ander te gee, soos wat ek gee nie. Die aanvaarding dat ons elkeen ons eie oorlog in die hart en kop veg en dat ek nie noodwendig beheer daaroor het nie.

Die aanvaarding dat seer ook deel van die lewe is – en dat dit beter is om seer te voel as om niks te voel nie.

Die aanvaarding dat die gesegde “it is both a blessing and a curse to feel everything so very deeply” my realiteit is.

Die aanvaarding dat ek nie alleen hoef te sukkel nie.

En die dankbaarheid vir die mense wat verstaan en so die aanvaarding aanmoedig.

 

Advertisements