Valentysdag-waarhede

1518510306382_70b05de006794deb8b3149b3886da1046830de71ee8c6ace8134e6948833463a 0.gif

So… dit is Valentynsdag. ’n Dag wat sorg dat sommige winkels ryk word omdat mense rondskarrel om sjokolade en teddie-bere en hartjie-balonne te koop. ’n Dag waarop ek vir 30 jaar vir myself, en die wêreld, gejok het oor hoe ek regtig voel.

Ek sê nie om Valentynsdag te vier is reg nie, ek sê ook nie dis verkeerd nie. Maar ongeag hoe hard ek probeer maak het asof dit my nie pla nie, as (destyde) chroniese enkellopende was dit elke keer ’n dolk in die hart. En hoewel ek nie namens elke mens op die aardbol kan praat nie, kan ek namens myself praat. En elke keer wat ek gesê het dis simpel en eenvoudig en ’n geldmaakstorie en ek voel ’n veer, het ek gejok. Of soos ’n kollega sal sê: “Jy praat loutere, onverdunde, makoukak!” En is is amper doodseker ek is nie die enigste mens wat al oor my gevoelens oor Valentysdag gejok het nie.

En ek het nie gejok omdat ek diep telleurgesteld was omdat die man van my drome my nie gevra het om te trou nie. Ek het nie gejok omdat my man-crush nie op Valentysdag sy ewige liefde aan my verklaar het nie. Ek het gejok om myself te beskerm. Omdat ek alleen was. Omdat ek om my gesien het hoe mense ’n klap van die romance weg het op die dag en ek nie ook geklap is nie.

Ek het gejok omdat ek nie kon deel in die opwinding nie. Omdat reklame uitgebassuin het dat rose op afslag is en soetgoed en romantiese etes en wegbreek-naweke beskikbaar is. Ek is ’n sucker vir ’n spesiale aanbod en ek kon nie deel daarin nie, want ek het niemand gehad vir wie ek dit kon koop nie. Ek het nie voordeel daaruit getrek nie omdat niemand dit vir my wou koop nie.

Ek was heel voor in die koor van enkellopendes wat so hard geskree het dat Valentynsdag nie saak maak nie dat dit toe eintlik heel ooglopend was dat ek oorreageer want dis ’n seer toon wat met ’n hakskoen getrap word.

Ek het ook gemaak of 14 Februarie net nog ’n dag is, dat dit nie spesiaal is nie… Ek het sovêr gegaan om teen-Valentysdag-planne te beraam. Enkellopendes gebel om saam met my te gaan dronk word. En hoe meer ek aan die 14 Februaries van my lewe dink, hoe meer besef ek hoeveel ek regtig eintlik omgegee het.

Self toe daar wel ’n man in my lewe was, het ek gemaak of ek nie omgee nie. Nie omdat ek regtig nie omgegee het nie, maar uit pure vrees dat ek soos ’n idioot sal voel as ek met sy Valentysbederfie opdaag en hy staan daar met leë hande. Want dit het al gebeur.

Na my mening het ons elkeen iewers ’n plekkie in ons harte waar ons wel omgee oor Valentysdag. ’n Plekkie wat wens iemand wil genoeg omgee om ons darem net so bietjie te bederf. Al is dit net ’n handgeskrewe briefie en net eenkeer ’n jaar.

En vir diegene wat dit nou oorweeg om heeltemal aapkak te gaan en vir my te vertel hoe min jy omgee – ek kyk vir julle – ek weet julle gee die meeste om. En ek weet dit want ek was in julle skoene. En al die negatiewe goed oor dié dag is waar. Dit is eintlik nogal silly. Dit is ’n geldmaakstorie om meer rose en sjokolade te verkoop. Dit is ’n kans vir vroue om mans te dwing om The Notebook en A Walk to Remember en Titanic te kyk. Dit is alles waar. Maar jy gee steeds om. En dis okay.

Maar op 14 Februarie 2018 gaan ek nie jok nie. Ek gee om. Ek het reeds ’n geskenkie (verkleining want dit is niks duur of groot nie) vir my minnaar gekoop. EK het ook ‘n kaartjie (met die hand gemaak… want ek het nul rand in die bank). Ek gaan ’n piekniekkombers op my grasperk gooi. Daar sal witwyn op ys wees en ons sal pizza bestel. En ons sal vir mekaar betekinsvolle kyke gee en (hopelik) lekker vry. En al daag hy met leë hande op (want ek weet nie sal gebeur nie want hy is die heel beste minnaar ooit), sal ek dit steeds doen. Want ek gee om en ek wil hom bederf.

Die lewe is besig en kort en daar is min genoeg tyd vir ’n bietjie bederf en om jou closeted romantic vry te laat.

Viva Valentysdag!

 

 

 

 

 

Advertisements