Moeders, staak dit asseblief!

annoying-parents-annoying

Almal wat my ken sal weet dat ek goed is met kinders. Niemand kon nog ooit aan my verduidelik hoekom kinders van my hou nie. Dit was net nog altyd so. En ek het ook nogal ‘n sagte plekkie vir die jonges. Maar… (daar is altyd ‘n maar) is dit werklik nodig dat ek gespam word met kinder-dinge op sosiale media?

Ek vra, want ek weet nie. Is dit soos ‘n ingeboude optrede vir (sommige) ma’s om elke 20 minute iets te plaas wat met die kroos te doen het? (Ek praat nie hier van die elke-nou-en-dan-se-foto nie, ek praat van mense wat letterlik niks anders ooit deel nie.)

Deel is goed. Dis wonderlik. Ek wil weet wat aangaan in jou lewe. Ek sal selfs die oulike foto van die oulike kind elke nou en dan like. Dalk selfs love. Maar die oversharing kry my onder. Ek wil nie sien hoe jou kind ontbyt, middag- en aandete eet nie. Ek wil nie op dieselfde dag jou kind eers in die modder en dan in die bad sien nie. Ek wil nie weet wat in jou kind se doek gebeur nie en ek wil nie sien dat jou baba ‘n uitslag onder die derde rol het nie. Dis te veel.

Ek verstaan ook nie hoekom daar ‘n hele string foto’s van jou en jou baba geplaas word wat elkeen net effens anders is nie… In die eerste foto kyk julle vir mekaar, dan glimlag net jy, dan glimlag net hy, dan trek hy jou hare, dan skree hy. En so gaan dit aan. Wat van jy deel net die beste een van die duisend foto’s? Dan sal ek nie voel ek wil daaroor blog nie.

Hoekom voel (weereens sommige) ma’s ook dit is nodig om ouerskap in elke liewe gesprek in te gooi? Ek lees in die week ‘n ander vriendin se status op Facebook. Sy vertel hoe sy sukkel om kop bo water te hou met ‘n voltydse werk terwyl sy besig is om haar meestersgraad te verwerf. Een van haar vriendinne se reaksie hierop is: “Wag tot jy ‘n ma word, dan sal jy eers verstaan hoe moeilik kop bo water hou regtig is.” Toevallig ken ek die ander vriendin. Sy het ryk getrou, haar werk bedank en maak nou kinders groot. Wat reg is. Dis haar besluit. Maar etter, hoekom so flippen neerhalend wees teenoor iemand anders se struggle? Dit geld ook vir wanneer ek sê ek is moeg (want my skof begin nog voor die hane kraai, ek het insomnia, ek vryskut tussendeur, ek probeer my verhouding en vriendskappe lewendig hou en ek oefen). Om dan te sê “jy weet nie wat moeg is tot jy borsvoed of ‘n siek kind het nie” gaan my nie minder moeg maak nie. Dit is nie ‘n kompetisie van wie die moegste is nie.

Ek wat is dit met die oordrewe lof vir prestasies op Facebook? Gaaf, so jou kind het goud gewen in die 10 meter kruip. Good for her! Post as jy wil. Maar een foto is genoeg. Hoekom die oggend ‘n foto post op pad na die skool. Dan nog een soos jy die kleinding neersit om weg te spring. Dan ‘n video van die actual event. Dan ‘n foto van die medalje. Dan ‘n foto van die roomys omdat die kind gewen het. Dan ‘n foto van die kind wat slaap omdat sy moeg is omdat sy gewen het? Het jy even vir die kind laat weet jy is trots? Of was jy te besig om foto’s te neem?

En terwyl ek nou so lekker gal braak – verduidelik asseblief vir my hoekom niemand die moer in raak as ‘n ma op Facebook tekere gaan oor hoe leeg en sinneloos mense se lewens is voordat hulle kinders het nie? Maar as ek sê ek is bly dat my bababoks nog in onbruik is, word my kop afgebyt en daar word sommer in hoofletters getik?

Dieselfde geld vir die oordeel. Niemand kan so hard judge soos ma’s nie. “Daai een gee vir haar kind te veel hoesstroop.” “Daai een vryf nie winde reg uit nie.” “Daai een se kind se ontwikkeling is agter want die ma is lui.” Wie het jou die kenner gemaak na jou een ervaring?

Ek het op instagram maar liefs ‘n paar ma’s unfollow. Ek het gaan tel (want ek is dalk kleinlik en ook om my punt te staaf): Meer as drie honderd foto’s van die kind. Niks anders nie. Ek is nie vriende met die kind nie, ek is vriende met die ma. Bygesê die verkleinwoorde was vir my een te veel. En as mense post asof hulle namens die kind praat wil ek my shit verloor.  “Ek word so mooi groot.” “Ek kan al sit.” “Ek is kwaad want ek moet groente eet”.  Verskoon my, Susan. Almal weet daai kind kan nog nie praat nie so moenie aanneem dis wat die kind dink nie. Stating (and statussing) the obvious is nooit oulik nie, selfs nie met ‘n baba daarby nie.

Goed. Ek is klaar. Ek reken as jy die post op Facebook sien is dit veilig om te weet jy het my nog nie so geirriteer dat ek jou unfriend het nie (dalk net unfollow, dalk nie).

Gaan geniet jou ma-wees sonder om my daarmee te spam. Asseblief en dankie.

 

foto: makeameme.org

 

 

 

 

 

 

Advertisements