Die beste raad

 

marie

Die beste raad wat ek nog ooit gekry het, was toe ek ‘n wipgat 17-jarige was. Die wat my ken, weet waar ek vandaan kom. Vir die wat nie weet nie – ek het op Swartruggens groot geword, ons was 19 matrieks is totaal. Nou hoekom dit van belang vir hierdie skrywe is, sal jy spoedig uitpluis.

Net ‘n handjievol van die matrieks van 2005 het Natuur- en Skeikunde as vak geskies. Met handjievol bedoel ek letterlik soos miskien 5.  Die res is almal Bedryfsekonomie toe. Omdat die skool so klein was, is kinders van alle vlakke van verstaan, in een klas gesit. Ek sê nie ek is ‘n akademiese reus nie, maar ek was my lewe lank ‘n onderskeidingskandidaat. Dieselfde het gegeld in die Skeinat- (soos ons daarna verwys het) klas.

Die uiteinde was dat ek (as onderskeidingskandidaat) soms baie gefrustreerd geraak het as ek moet wag tot die skuur-deur-dat-my-gatvelle-aan –die-draad-sit-kandidate die werk verstaan. As ek terugdink besef het dat geduld nnie my sterkpunt was nie en dat ek eintlik bietjie onredelik en onnodig was teenoor die kinders wat op ander vlakke as akademie presteer het.  Maar nietemin – ek was ongeduldig.

My Skeinat-juffrou was ‘n bejaarde vrou. Maar nie sommer enige vrou nie. Sy was my ma se beste vriendin en jare lange vertroueling, amper ‘n mentor. Ek het voor haar groot geword en ek was vir haar lief as Juffrou Botha, maar ook as Tannie Marié.

So sit ons eendag in die klas en die Fisika maak sommer dadelik vir my sin. Die ongeduld skop in. Ek vra vir Juffrou Botha of ek nie maar kan aangaan met my werk nie. Juffrou Botha antwoord, sonder om te kwaai te wees: “Nee, jy moet maar geduldig wag tot almal verstaan en klaar is met die vraag.” Wipgat Wondergem vererg haar en sê: “Maar dis nie regverdig nie!”

En daar kom die beste raad wat ek al ooit gekry het toe.

“Hanri, wie het dan ooit vir jou gesê die lewe is regverdig?”

As 17-jarige het ek nie die volwassenheid of lewenservaring gehad om dié raad werklik te waardeer of te verstaan nie.  Vandag verstaan ek dit aansienlik beter. En dit bly my altyd by.

Want die lewe is nie regverdig nie. Daar is sekere onregverdighede wat mens kan aanspreek, ander moet jy net aanvaar en laat gaan.

Vanoggend sit ek weer en dink hoe onregverdig die lewe soms kan wees. Wat presies onregverdig is, is nie nou ter sprake nie.  Toe spring Tannie Marié se woorde weer in my gedagtes in. Want niemand kan sê die lewe is regverdig nie. Dit is nie.

En asof sy my hoor stuur sy vir my ‘n boodskap. Wat dit so merkwaardig is, is dat sy jare gelede reeds oorlede is. Die boodskap wat sy vandag gestuur het kom deur my ma. My ma het op ‘n briefie afgekom wat Tannie Marié ‘n dekade gelede geskryf het.

Dit lees as volg:

Liewe Larda, (én vir die Pa)

Om ‘n laat geluk te sê, is beter as géén geluk!

Vir Hanri se 21ste: Baie geluk met die produk van 21 jaar: ‘n lieflike, gelukkige mensie wat borrel van lewensvreugde.

Ons is ook dankbaar, saam met julle, vir soveel genade wat julle ontvang het om vir Hanri te kon padwys.

Vir my: ‘n voorreg om haar te ken en van die borrels te kon vang in die klas!

Geniet die borreltjie energie!

Liefde

Marié (ek is seker Ben deel my gevoelens)

Knop in die keel lees ek die boodskap oor en oor. Dat dié wyse vrou dan nou my “borrels” kon raaksien deur my tienerjare. Deur my stink houding en skerp tong. Deur puisies en kniekoppe en stywe poniesterte en hormone.

Ek dink borrel nou meer as ooit – ek wens so Tannie Marié kon die volwasse Hanri ook ken. Die Hanri wat meer geduld het, meer deernis, meer waardering. Die Hanri wat besef die lewe is nie regverdig nie en doen wat sy kan om dit reg te stel. Die Hanri wat kan aanvaar dat sy sekere dinge nie kan verander nie.

Ek wens ek kon vir haar dankie sê vir die goeie raad en dat sy my nooit soos haar mindere hanteer het nie (hoewel ek was).

Maar ek is seker sy sit iewers en glimlag en wéét haar woorde bly my by en die borrels is ook deels te danke aan haar.

 

 

Advertisements