Welkom, lief-dierbare Winter

download (1)

So… die winter is (uiteindelik) hier.

Toe ek (verlede jaar al) 30 tref, het ek besef die somer kom met uitdagings. Hierdie jaar is ek ’n paar kilogram swaarder en die uitdagings van die sogenaamde lieflike maand van somer, word net meer.

So daarom, met my serpie om die nek en my jas wat alles wat dril en hop en skud toemaak, het ek besluit om my somer-irritasies neer te pen.

Ek dra nie sommer iets wat my kuite wys nie. Bloot omdat ek nie kuite het om te wys nie. Maar ek is mal oor lang rokke. Ongelukkig is my bobene ook deesdae mal oor mekaar. My ma verwys daarna as my “privaat frikkadel”. Daai vet dele van die binnebene wat teen mekaar skuur soos twee tieners wat binneboud by die skoolsokkie dans. En dan kom die vreesaanjaende “chub rub”. Wrywing, jou ou teef.

Weens die “chub rub” het ek toe besluit om maar kortbroeke te gaan aanpas. Ek het baie vinnig besef dat kleremakers die “kort” in kortbroek baie letterlik opneem. Die meeste van die broeke het nie eers my boudflappe toegemaak nie. Die ander was net ‘n asemrowende tentoonstelling van my lemoenskilvelle. Die res kan ek eerder as belde dra. Daarom terug na rompe en die frikkadel-wrywing.

Rokke en wind is vrinne, blykbaar. Want elke keer wat ek ‘n rok of romp dra, is daar ‘n mannetjieswind wat my nooit genoeg tyd gun om vas te hou nie. Die uiteinde is ‘n blosende Hanri wat haar wasgoed-dag-onderklere (ja,ja, almal het die ou onderklere met die blomme en rek wat nie meer kan rek nie wat hulle dra as niks ander skoon is nie) probeer bedek met haar lunchbox.

Dan die beenhare. Dis glo vir baie vroue ‘n probleem. Veral as hulle kortbroeke of kort rompies dra. Vir my is dit ‘n probleem as my minnaar besoek aflê of ek moet swem. Dan kom ek tot die skokbesef dat dit somer is en dat my bene ten toon gestel gaan word en dat die mooie man daaraan gaan vat. Die uiteinde is Hanri wat oor die bad se rand hang, haar droeë bene met ‘n stomp lem skeer en dan sulke rooi kolletjies (wat brand soos ‘n kool vuur) op die non-existent kuite rock.

En dan – terwyl ek oor die bad se rand hang om die swart woud van die bene af te verwyder, vererg ek my vir myself omdat ek die belaglike verwagtinge van vroue om so glad te wees straf navolg. Ek wonder hoekom ek nie my beenhare toelaat om, saam met my romp, in die wind te wapper nie.

Maar dan onthou ek hoe lekker dit is om met gladde bene tussen skoon lakens in te gly. En dan doen ek dit maar volgende week weer.

Elke somer beloof ek plegtig om by die waks – groei- waks roetine te hou. Want dit maak ingroeihare minder. Maar dan onthou ek dat ek arm is en dat ‘n waks duur is. En ook seer is. So dan herhaal ek net die aaklige skeer-roetine (ook, want harverwyderingsmiddels ruik soos ‘n drein).

In die somer besluit ek altyd dat ek mooi gaan lyk met ‘n sonhoed. Dan koop ek een. Want die meisies van Instagram lyk so cool. Dan wil ek nog een koop. Dan besluit ek dat ek ‘n hoed-mens is en dat elke hoed wat ek op my kop plaas my soos ‘n mode-godin laat lyk so ek moet alles koop. Dan lê dit in my kas en stof vergaar want niemand lyk regtig goed met ‘n sondhoed nie (behalwe natuurlik die meisies van Instagram).

In die somer is dit ook moeilik om die binne-buite-balans te kry. Die binne in die kantoor teenoor buite in die somerson balans. Dan trek jy jou somershempie aan met jou nuwe, kant bra. En dan stel iemand die lugverkoeling op -1 en jy loop rond met tepels wat as coat racks gebruik kan word. En mense staar.

Omdat mense staar gaan koop ek toe die goedkoopste truitjie wat ek kan kry. Die trui hang dan die hele somer oor my ruglening want ek vergeet dit daar en ek het my les van die tepels geleer op dag 1 van -1. Maar ek het nie my les hard genoeg geleer nie. Want ek het net rokke gekoop vir die somer. Maar die verdomde lugverkoeler dwing my om elke dag met ‘n jean te werk.

En daar is dan ook niks warem as daardie einste jean as jy by die kantoor uitstap nie.

Ek weet nie of ek alleen staan nie, maar ek het al menigte mental break downs in aantrekkamers gehad. Amper elkeen van hulle as ek swemklere aanpas. Dis aaklig. Maak hulle alle swemklere vir vroue wat nie borste het nie? Of wat strykplankboude het? Want dit voel so. En dit bedek nie die dele wat ek wil bedek nie. En dit het toue en stringe en voue en dinge wat slegs ‘n dieselmotorwerktuigkundige sal kan uitfigure.

En is ek die enigste mens wat vassit aan ‘n plastiekstoel in die somer? Dis asof my sweet insmelt en deel word van die stoel en dan moet ek alle velle aftrek in ‘n poging om op te staan. En as ek dan weer gaan sit klap daai privaatfrikadelle teen mekaar so asof ek ‘n lekker handeklap kry vir my vet wees.  En as ek dan weer opstaan is daar holsweet. I kid you not. ‘n Definitiewe lyn van my spleet op die stoel.

En kan iemand asb vir my sê of ek my sonroom onder of bo-oor my onderlaag moet opsit? Want ek kan nie sonder een van die twee nie.  Ek brand rooi en seer en goudbruin is nie vir my beskore nie. Ek kan ook nie sonder dry shampoo nie. Want in die somer is my hare soos ‘n oliebol wat op my voorkop vasgeplak word.

En dan: my ergste somer vrees… die kombinasie van sand, nat swemklere en ‘n vagina. Dis net die ergste ooit.

En dis ook die hoofrede vir my om veel eerder ‘n winterdier te wees.

 

foto: beckybarnicomics

Advertisements