Grilgatte en gewoontes

when-i-see-all-my-weird-habits-rub-off-on-my-friends-123803

Soos almal wat my blog lees teen die tyd al (hopelik) weet: is ek in ’n verhouding.

Yup. Al vir meer as ’n jaar met dieselfde (wonderlike, obviously) man.

En in die jaar het ek baie van myself geleer.

Nie noodwendig omdat hy dit uitlug nie (hoewel hy dit soms ook doen), maar ook omdat iemand wat vir 30 jaar chronies enkellopend was nie juis ag slaan op hulle gewoontes nie.

En aan vreemde gewoontes het ek nie ’n tekort nie.

Maar as jy baie tyd saam met iemand bestee word hulle blootgestel aan die gewoontes en mag hulle dalk sien dat jy eintlik ’n grilgat is.

Die idee vir dié bloginskrywing het so rukkie terug by my pos gevat toe ek op die bank sit en eet… in my nagklere… met my voete altwee op die bank.

“Wat doen jy?” My minnaar staan in die kombuis en staar na my.

Ek voel soos ’n kind wat op heterdaad betrap is terwyl ek besig is met kattekwaad.

Ek kyk af en besef dat ek die rooiworsie eet.

Nie eet soos wat ander mense eet nie, maar op my eie manier eet.

Dit beteken die “velletjie” op elke sy van die worsie word met my voortande afgeknaag. Dit laat die rooiwors misvormd en amper naak voorkom…

En dan vat ek klomp klein happies tot my kieste volgestop van die rooiwors is.

Nooit het ek eers twee keer hieroor gedink nie – tot iemand vir my gekyk het terwyl ek dit doen.

En kom paastyd gaan hy dieselfde sien met elke paaseier wat ek in die hande kry.

En toe die kwik net duskant die hel gedraai het en ek die waaier op ons wil sit, besef ek dat daar nog ’n gewoonte is.

Die hoop klere op my spieëlkasstoeltjie.

Dis te vuil vir die kas, te skoon vir die was, so dit eindig op die stoel.

En toe op die grond want die waaier moet op die stoel.

En ek het skaamteloos die volgende oggend daai einste bra van die vloer af opgetel en aangetrek…

Dit nadat ek my nagrok uitgetrek het.

 

Ja, jy lees reg, ’n nagrok.

Nie ’n stywe, sexy ene van kant nie.

Nee, daai soort rol op om jou middellyf en laat jou boude soos uitgerysde boerbrode die volgende oggend uitsteek terwyl ’n tepel ook sy verskyning maak deur die loop van die nag.

Nee dankie.

Ek praat van ‘n propperse nagrok. Een wat soos ’n baie groot T-hemp lyk, maar langer is en hase op het en wie se teikenmark tien teen een ou tannies is.

My minaar verwys daarna as “jou groen lap”. Want dis vormloos en lelik, maar dit voel soos liefde.

Dan is daar inkopies. Ek het jare laas ‘n inkopie-lys gemaak. En ek is veronderstel om dit te doen. Want ek gaan altyd om een item te koop. Dan los ek die trollie of die mandjie. Tien minute later stap ek soos ‘n wafferse akrobaat na die kasregister met 4 blikkies opgestapel bo-op ‘n brood en ‘n pak skyfies wat ek tussen my tande vasbyt en ‘n toiletrol onder die arm.

Net om by die huis te kom en te sien daar is reeds 100 toiletrolle.

En dan te besef dit wat ek eintlik moes koop het op die winkelrak agter gebly.

Daar is min dinge so lekker soos om langs ’n geliefde wakker te word nie.

Behalwe vir die feit dat ek soos ‘n nagmerrie lyk as ek wakker word.

My enigste drie hare staan in sewe rigtings, ek het ernstige poepoog en my asem ruik asof ek deur die nag aan die toon van ’n lyk gesuig het.

Boonop is ek beneuk.

Maar wat die wakker word lekker maak is as die minnaar eerste wakker word en ek daarom wakker word met die reuk van koffie wat die monster onmiddelik meer mens maak.

Ek kan nie mens as ek nie eers koffie nie.

Ek is letterlik nie mens nie. Ek grom en brul en kreun en kerm. Tot ek die eerste sluk koffie gevat het. Dan is alles beter.

Mens sou dink as vrou van oor die 30 (meer as 365 jaar oor dit) sou ek weet om my yskas vol lekernye te hou. Ek weet, maar ek doen dit nie.

Daar is klomp random goed daar binne (ek kan nie bevestig of ontken dat dit groen word nie) en die laai is waarheen komkommers gaan om vrot te word.

Tog is my yskas ‘n toonbeeld van volwasse wees elke nou en dan.

En met nou en dan bedoel ek as my ma kom kuier.

Die minnaar het lekker in sy mou gelag toe hy sien hoe my ma stapels vol gevriesde maaltye wat sy met liefde gemaak het uitpak.

Ek oefen, nie soveel omdat ek wil mooi wees of maer wees nie.

Maar omdat ek ook ‘n depressie-monster is as ek dit nie doen nie.

Tog hoop ek dat die mooi en maer saam sal kom.

Daarom is ek elke keer telleurgesteld as ek na 5 squats in die spieël kyk en my boude lyk soos vetkoekdeeg eerder as soos staal.

Ek wil nie eers weet wat deur die minnaar se gedagtes gaan elke keer as hy moet “voel hoe styf is my maagspiere is” nie.

En daar is nie veel spiere nie.

Daar is ‘n rol.

Maar hy speel saam en maak elke keer asof ek ‘n kragkoei is en ek waardeer hom vir die genade.

Ook het ek onlangs (soos die ou tannie in my hart) die vreugde van Dischem-skoene ontdek.

I shit you not.

Ek en my bejaarde moeder koop nou by dieselfde plek skoene. En ek dra dit skaamteloos en giggel vir die jonges wat soos pasgebore kalfies op hulle hakke probeer beweeg.

En die minnaar het ook daaroor gegiggel – maar darem keel skoongemaak en verduidelik dat hy verstaan.

Wat hy nie kan verstaan nie, is hoe baie ek vir oksels gril. Armholtes. Armpitte. Noem dit wat jy wil.

Dis vir my die aakligste deel van die liggaam met geen ander doel as sweet en hare groei nie.

Ek wil ‘n paniekaaval kry as iemand nader kom om my te druk en hulle is langer as ek. Want ek sien daai sweetkol nader kom en ek wil hol.

Hierdie grilgat-gewoonte verskaf vir die minnaar wel genot.

Veral as ek my lê probeer kry en hy druk sy vinger daarin.

Dis ook die maklikste manier om ‘n onderwerp te verander.

‘n Paar ander gewoontes waarvan ek deeglik bewus geword het (of bewus gemaak is) oor die afgelope jaar:

Die baba-poeier wat ek tussen my bo-bene gooi om die gevreesde chub-rub te voorkom.

Die aantal kere wat ek Vaseline op my lippe smeer.

Die feit dat ek elke dag (soms 2 keer per dag_ van my kroon tot my toon met baba-room smeer.

En dan my pote weer smeer as ek in die kooi klim.

Ek gooi eers melk by my koffie en dan warm water.

Ek noem my binne-been-vet ‘n “privaat-frikkadel”.

Ek het steeds ‘n vrees vir die groen-enkel-gryper en daarom moet my bed tot teen die grond kom en geen spasie hê vir iemand om daar weg te kruip nie.

Ek het regtig baie cheese grillers. En cheese griller pies.

Ek drink meer water as die deursnee mens.

Ek luister slaapstories. Soos ‘n 10-jarige.

My onderlip doen snaakse goed (soos word langer, korter of gebyt) as ek konsentreer.

Ek kan enige baba laat glimlag en/of slaap.

Honde en katte sal altyd by my kom sit.

Ek gril nie vir bloed nie. Ook nie harsings of derms nie. Maar snot. Ek kan nie cope met snot nie.

Hier is die verkorte weergawe van al die dinge wat van my ‘n grilgat maak.

Daarom gee ek ‘n shout out vir my minnaar wat al vir ‘n jaar daarmee uithou.

En ook vir my ouers en sibbe wat dit vir 18 jaar gesien het en vir my lief gebly het.

 

Foto: memeguy.com

Advertisements