Nie almal hoef van my te hou nie.

Bl9VWj1CUAI2T4h

Ek het myself nog nooit as ‘n people pleaser gesien nie, maar dis nie ‘n lekker gevoel as jy deur die skinderstories moet hoor hoe ‘n moeilike mens jy is nie (ek dink die woord wat gebruik is om my te beskryf was kak…).

Vir ‘n paar dae het die gedagtes in my kop gemaal, ek het gewonder wat presies ek dan nou so verkeerd gedoen het dat ek die agter-af-skinderpraatjies verdien het.

Ek het selfs gewonder of dit waar is.

En toe besef ek: Dit is, vir daardie persone, die waarheid. En dit is reg so.

Wat ander mense van  my dink het tog eintlik niks met my uit te waai nie…

My lewe lank het ek al die kuns bemeester van ‘n voel-fokol-houding, en dis gewoonlik ons wat die meeste insecurities wegsteek.

Dit het my 32 jaar (‘n paar vetrolle, lagplooie, fronsplooie en krom tone) geneem om uiteindelik te besef dat almal nie van my gaan hou nie, en dat dit okay is.

Dat daar mense is wat my (baie naby aan) haat. En dis fine.

Daar is mense wat nie van my hou nie omdat ek te eerlik, uitgesproke en (soms) tewerig is.

Daar is ander wat dink ek is te loud, ongeskik en my menings is te sterk.

Ek lag te veel, praat te veel, vloek te veel.

Ek is te wit, te liberaal of nie liberaal genoeg nie, te gelowig of nie gelowig genoeg nie.

Ek is nie suksevol genoeg nie, ek is nie mooi  genoeg nie, nie maer genoeg nie.

Ek is te emosioneel en ek is te onemosioneel.

Ek is te sterk. Ek is te swak. Te veel van hierdie en te min van daardie.

Ek neem kennis.

Ek is deeglik bewus van my swakpunte.

Julle hou nie van my nie weens verskeie redes.

En uiteindelik weet nou ek : dit is in die haak.

Nie almal hoef van my te hou nie.

Ek reken dis menslik om te wil hê ander moet van jou hou.

Maar dis ook menslik om nie van almal te hou nie.

Dis so ingewikkeld en so eenvoudig soos dit.

Ek gaan nie verander net om hierdie mense wat nie van my hou nie, se opinie oor my te probeer verander nie. Ek gaan nie. Ek kan nie.  Ek wil nie.

Ek wil eiesoortig wees en my Hanri-wees behou.

Die oomblik toe ek besef het dis okay as nie almal van my hou nie het daar ‘n paar dinge gebeur.

  1. Dit was dadelik vir my makliker om eg te wees met myself (in Engels klink dit beter… be true to myself). Ek tree nie op vir ‘n gehoor van kritici nie, hierdie is my lewe en my maniertjies. Dit maak my wie ek is en ek wéét wie ek is.
  2. Dit gee vir my die mag om nee te sê. As iemand minder van my hou omdat ek verkies om nie op ‘n skoolaand jolig te verkeer nie, dan is dit okay. As ek nie saam met jou skreeuende kroos wil uithang nie, en dit veroorsaak dat jy minder van my hou, is dit ook okay. And so on and so forth.
  3. Ek is gemakliker met wie ek is. Ek hoef nie te maak of ek iets anders is net omdat ek wil hê iemand moet van my hou nie. As ek die moer is in, dan sê ek so. As ek nie saamstem nie, dan sê ek so. En as ek dink jy is aaklig, gaan dit op my gesig geskryf staan, al sê ek niks.

         My face needs deliverance.

  1. Om nie om te gee wat ander van my dink nie, gee vir my ook meer vryheid om deernis met ander te hê en te toon. Maak nie saak of die mense om my dink iemand verdien my deernis nie.
  2. My tyd word baie meer produktief bestee. Eerder as om heeldag te tob oor “hoe kak ek is”, kan ek nou aan dinge ding wat my aandag verdien. Ek mors ook nie tyd om ander te beïndruk nie.
  3. Ek glimlag meer. Dalk omdat ek weet hoe fake sekere mense is en omdat hulle nie weet dat ek weet nie. Dalk omdat ek in die algemeen net gelukkiger voel omdat ek besef het dis fine as nie almal van my hou.

Nie almal hou van my nie. Maar raai wat, nie almal is belangrik vir my nie en om eerlik te wees, ek hou ook nie van almal nie.

Ek het iewers gelees dat jy ‘n oraait mens is as 85% van die mense wat jy teekom van jou hou.

Ek weet nie of ek heeltemal daar is nie, maar ek reken ek het genoeg mense in my lewe wat wel van my hou.

En die res? Hulle kan my emosionele eiers suig.

Advertisements