Liewe tiener-Hanri

321059_10150317964899374_2059368997_n

 

Liewe tiener-Hanri

Ek skryf vir jou die brief amper twee dekades later. Want jy, liewe Hanri, leef in jou tienerjare in ‘n lugkasteel in ‘n droomwêreld.  So hier is ‘n paar feite oor jou verwagtingtinge, wat jy dalk eendag met jou eie tiener kan deel.

Jou puisies gaan nie verdwyn die oomblik wat jy jou tienerjare vaarwel roep nie. Daar is ‘n kleine liggie in die donker tonnel van ag-nee-vel…dit word beter. Jy gaan nie soos ‘n roesyntjiebrood lyk nie. Maar dit gaan nie weg nie. Soos ek hier sit en skryf vat-vat ek al aan 31 en op my linkerwang is die Kilimanjaro van puisies. Was jou gesig tog behoorlik.

‘n Duisend rand is nie baie geld nie, al dink jy nou dit is.  Inteendeel. Dis min. Moenie dat die drie nulle jou opgewonde maak nie. Jy blaas dit binne die eerste veraglike aftrekorder. En dan nog ‘n paar duisend daarna. Al wanneer ‘n duisend rand soos baie voel is as jy dit in jou benakrekening het twee dae voor jy betaal word. En dit gebeur amper nooit.

Jy dink almal, behalwe jy, weet presies wat om met hulle lewens te doen. Dit is nie die waarheid nie. Niemand weet regtig waarheen hulle op pad is nie. Daar is mense wat maak of hulle weet. Maar teen die tyd wat jy 25 is sien jy regdeur daai mense. As jy PMS het, het jy  niks tyd vir hulle bullshit nie en sê jy vir hulle jy sien deur die stront. Jy gaan okay wees. Jy gaan 4 keer van studie-rigting verander. Jy gaan werke verwissel. Jy gaan 30 word en steeds nie weet wat om met die res van jou lewe te doen nie. En dis okay. Niemand weet regtig iets nie. Jy is nie alleen nie.

Jy is nie volwasse vir jou ouderdom nie. Die enigste rede hoekom jy dink jy is volwasse vir jou ouderdom, is omdat jy te veel in volwassenes se geselskap is. Hou op daarmee. Geniet jou jong jare. Omhels dit met altwee arms. Jy mag nog giggel en laf wees. Al dink jy nou “dis nie cool nie”, gaan jy later net nie meer omgee nie.

Ek weet jou ma se nou vir jou “dis net ‘n fase” en dan word jy woedend want jy dink: “dis wie ek regtig is”. Maar jy kan haar maar glo. Sy is wys. Jy gaan nie oor ‘n paar jaar dink om jou lippe swart te maak en stewels, wat ‘n prostutuut laat bloos, aan te trek is oulik nie. Jy gaan nie meer gel in jou hare sit nie. Jy gaan nie meer oogomlyner, wat dikker as ‘n Amerikaner wat aan vetsug lei, aansit nie. Dit is regtig ‘n fase. En jy hou baie meer van jou ouers as wat jy nou dink.

Op die oomblik dink jy babbelas is nie so erg soos wat mense sê nie. Dit is. Jy weet net nie nou al hoe dit voel nie. Jou een glasie rooiwyn of skelm sletsappie is nie ‘n goeie maatstaf nie. Eendag gaan jy wakker word en jou mond gaan voel asof ‘n hawelose dwergie daarin geslaap het en sy vuil wolkombers agtergelaat het. Dit gaan voel of dieselfde dwergie teen jou slape skop. Gisteraand se plesier gaan in jou keelgat opkruip en jy gaan die heeldag wil huil. Maar dit gaan jou nie afskrik nie. Jy gaan steeds aanhou wyn drink (gaan kyk maar weer wat ek gesê het oor volwasse vir jou ouderdom wees. Jy is nie. Jy leer nie.)

Oor Kerstyd en verjaardae is jy nou baie lief vir geskenke wat heeltemal over the top is. Iemand gaan vir jou kouse as geskenk gee en jy gaan dink dit is die slegste geskenk ooit. Later gaan jy wel besef dat praktiese geskenke die beste bederf is. O, en net dat jy weet – jy dra nogsteeds daai einste kouse in die winter.

Jy dink nou dat jou lewe agter mekaar sal wees teen jou 21e verjaardag. Dit gaan nie. Jy dink 25 is oud. Dit is nie. Jy noem 30-jarige vrouens tannies. Moenie.

Ek weet deurnag-sessies is vir jou vreeslik opwindend. Geniet dit maar terwyl jy kan. Jy gaan eendag gedwing word om te deurnag en jy gaan dit haat. Jy gaan eendag daarvan hou om te slaap en wens iemand wil vir jou sê: “Jy moet nou bed toe gaan.” En gaan terug verlang na die dae toe jy 8ure elke aand kon slaap.

Jy voel nou erg sleg en soos ‘n loser as jy nie planne vir die naweek maak nie. As jy eers in jou 20’s is gaan jy elke naweek planne hê. Later gaan jy begin om uitnodigings van die hand te wys. En eendag gaan jou idee van die beste naweek wees om in jou slaapklere voor die televisie te le, kitskos te bestel en middagslapies. Jy dink nou mense wat dit doen is sad. Hulle is nie. Jy word een van hulle en dit is lieflik.

My vriende is friends for life. Dis sweet. Jy gaan kontak verloor met 99% van jou skoolvriende. Julle gaan een keer per jaar op Facebook vir mekaar goeie verjaardagwense toewens. En dis al. Jou ware, harstvriende gaan jy op universiteit en later in jou lewe ontmoet. Hulle gaan uiteenlopende persoonlikhede, ouderdomme en belangstellings het. En jy gaan liewer wees vir hulle as wat jy ooit in staat was in jou tienerjare. Daai matching hangertjie wat die een sê “best” en die ander “friend” kan jy maar dra, maar jy gaan dit weggooi en daaroor lag eendag.

Jy dink nou in jou 20’s gaan jy ‘n groot, luukse meenthuis kan bekostig. Nee. Jy kyk te veel televisie, tiener. Dit is onrealisties. Jy gaan in voëlhokkies bly of woonstelle deel met vreemde mense. Jy gaan nie geld hê vir ‘n groot televisie, ‘n spaarkamer of selfs ‘n mooi mat nie. In ‘n stadium gaan jy in iemand se garage bly. Jy gaan nie eers ‘n badkamerdeur he nie. Jou landlord gaan sy valskerm-onderbroeke by jou voordeur ophang.  Jou stortgordyn gaan vasplak aan jou bobeen. Maar dit gaan later beter word. Jy gaan alleen bly as jy 30 is, maar in ‘n gemakliker, eenslapkamerwoonstel. Jy gaan nogsteeds op die bank slaap as jou ouers kom kuier… En terwyl ons oor verlyf praat. Jy dink nou teen die tyd dat jy 30 is gaan jy in ‘n kasarm van ‘n huis teen ‘n heuwel bly. Nope. Not happening.

Jy is nou verlief. Dis puppy love en dis lekker. Maar dit gaan (genadiglik) nie hou nie. Jy gaan nog baie verlief word. En jou hart gaan telkemale in stukke spat. Jy gaan seer kry. Jy gaan moed opgee. Jy gaan weer probeer en weer seer kry. Maar jy is sterker as wat jy nou dink. Dis alles deel van die lewe. Dis nie nodig om nou jou verhoudings so ernstig op te neem nie. Nie een van die ouens in jou tienerjare is jou trane werd nie. En as jy dertig is gaan jou hart weer breek – maar moenie te bekommerd wees nie – ‘n jongman gaan jou so styf vashou dat al die stukkies weer in plek gaan val.

Jy gaan spyt wees eendag. Maar dit gaan te laat wees om iets daaraan te doen. Jy gaan spyt wees dat jy nie meer vir jou Ouma gaan kuier het nie. Jy gaan spyt wees dat jy nie jou ma se raad wou volg nie. Jy gaan spyt wees dat jy sommige mense in jou lewe toegelaat het. Jy gaan spyt wees dat jy ander mense weggestoot het. Jy gaan spyt wees, maar jy gaan ook dankbaar wees en besef dat jou lewe, hoewel dit anders lyk as wat jy verwag het, pretty damn awesome is.

Groete

Amper-31-en-steeds-nie-heeltemal-volwasse-Hanri

 

 

 

 

 

 

Advertisements

‘n Dankie vir die verstaan

it-is-both-a-blessing-and-a-curse-to-feel-everything-so-very-deeply

Met die ingang na die derde dekade van my lewe (dit klink way meer dramaties as om net te sê ek is 30 jaar oud), het wysheid en aanvaarding van ‘n ander aard gekom.

Ek gaan nie vandag uitbrei oor al daardie wysheid en aanvaarding nie – maar wel oor twee baie belangrike dele daarvan.

My lewe was nog altyd opwindend. Soms te opwindend. So moes ek seker  geweet het dat die stille waters van die mees onlangse minnaar  met diepe grond (en om die liedjie te voltooi – onder draai die duiwel toe wel rond) gepaardgaan. ‘n Mat word skielik, sonder waarskuwing onder my voete uitgeruk en die man, wat belaglik diep in my hart is, is toe skielik nie meer in my lewe nie. (Moenie vrae hieroor vra nie, ek het nie antwoorde nie en ek is nog nie reg vir praat  nie. Mens krap nie aan ‘n rou wond nie).

Hanri van ‘n dekade gelede sou nou alleen op haar bed gesit en die trane met wyn afgeforseer het.  Sy sou ‘n masker opgesit het en waardelose vrysessies met vreemdelinge en dronk aande nagejaag het. Niemand laat weet het dat sy deur nog ‘n man verwerp is nie. In stilte swaar gekry het en verneder gevoel het om ‘n teken van mens-wees te wys. Die Ice Queen-gesiggie opgeplak het na dae van selfbejammering en stadig maar seker dieper in ‘n gat van selfbejammering gesink het tot depressie haar verswelg het. En niemand sou dit weet nie. Want maskers is maklik om op te sit. Sy sou haarself vernietig het en geweier het om te voel wat sy voel.

Drie-dekades-Hanri het genadiglik ‘n ander aanslag. Die maskers le iewers in ‘n stowwerige laai.

Maar dit beteken dat ek die seer wat ek voel om my gesig dra.

En dit is eintlik waarom ek vandag skryf.  Nie om die seer te ontleed nie, maar om dankie te sê vir die mense wat my gehelp het om tot aanvaarding te kom deur net te verstaan.

Die woord “ondersteuningsnetwerk” is nie vir my ‘n lekker woord nie. Dit klink of dit “beige” is. Maar dit is al woord wat ek het. En ek het opnuut besef hoe belangrik dit is. “Hanri, ryk uit na jou mense toe. Moenie nou binne in jou dop inkruip en alleen swaarkry nie.” My sielkundige weet wat gebeur as daardie donker skaduwee van depressie oor my kop hang en ek in alleen in die swart see swem. Sy weet dat ek al vir twee weke swaar trek. Ek volg haar raad. Want die jongste liefdestelleurstelling kom in ‘n tyd waar ek reeds sukkel om die wolk te verdryf en waar ek besig is om te sink.

Net soos die Voortrekkers van ouds, trek my mense toe laer om my. Nie met gewere en seep van seekoeivet nie. Maar ‘n definitiewe laer om my te beskerm. Ek laat weet die wat moet weet dat ek “nie okay” is nie. Ek hoef nie te veel besonderhede te verskaf nie. Want vir hulle maak dit nie saak hoekom ek sukkel nie, hulle oordeel nie en sê nie ek moet myself “regruk” nie. Hulle is nie onlingeligte idiote nie. Hulle verstaan. Hulle ken my.

Dis boodskappe van bemoediging, wyn, drukkies, koffie, kos, sjokolade en teenwoordogheid wat my oorval. En so saam-saam, sonder dat hulle dit besef, hou hulle my kop bo die water van die swart see. Sonder dat hulle enige iets terug verwag skyn hulle ligstrale deur die donker wolk. Vir die wat nie weet nie (die swart see en donker wolk is my manier om na depressie te verwys. Die wat diagnoses of selfs vermoede van diagnoses het, sal weet waarvan ek praat.)

En hoewel ek nie vandag, more of oor ‘n week “okay” gaan wees nie, is my hart rustig genoeg om te weet ek gaan eendag weer “okay” wees.

En dan kom die aanvaarding. Die aanvaarding dat ek ander mense se dade en gevoelens moet respekteer, al verstaan ek dit nie. Die aanvaarding dat ek nie van ander mense kan verwag om soveel van hulle mensewees vir ander te gee, soos wat ek gee nie. Die aanvaarding dat ons elkeen ons eie oorlog in die hart en kop veg en dat ek nie noodwendig beheer daaroor het nie.

Die aanvaarding dat seer ook deel van die lewe is – en dat dit beter is om seer te voel as om niks te voel nie.

Die aanvaarding dat die gesegde “it is both a blessing and a curse to feel everything so very deeply” my realiteit is.

Die aanvaarding dat ek nie alleen hoef te sukkel nie.

En die dankbaarheid vir die mense wat verstaan en so die aanvaarding aanmoedig.

 

Die tekens van verliefdheid

6f3f24a3f0b3cfe63d4829ddf3830823e011bca3

Vir die wat my ken (ook die wat my nie ken nie en net my blog lees) sal dit ‘n moerse verrassing wees om uit te vind ek is verlief… SURPRISE! Want ek is. En dis vreesaanjaend en ek sien ‘n deel van myself wat ek vir ‘n geruime tyd iewers op ‘n stowwerige rak in my hart in ‘n kluis toegesluit het.

Maar nou het ‘n jongman sy opwagting gemaak en die verestowwer ingespan en die kluis met ‘n tien-pond-hammer oopgeslaan. Net so groot soos die verrassing vir julle is, is dit vir my.

Aanvanklik wou ek skop teen die prikkels. Ek is mos maar ‘n bitterbek met kanker van die siel na al die klappe wat die liefde en die lewe my al gegee het. Maar ek sien die tekens. Ek het dit altyd by die vriendinne opgemerk – en nou sien ek dit by my. So as jy ooit wonder of jy aan die verlief raak is – hier is jou check list.

  • Jy beraam planne en tref reëling vir die nabye (en nie so nabye ) toekoms. Sonder dat jy ‘n angsaanval kry. Skielik bevind ek myself met kaartjies vir ‘n konsert in Desember. En die 1 kaartjie het die jongman se naam op. November lê vêr… maar as ek die kaartjie vir hom koop dan beteken dit tog seker ek wil hom in my toekoms hê… en ek het ‘n mate van vertroue dat hy dieselfde wil hê (aangesien hy nie vir my sê ek was mal om die konsert-kaartjies te koop nie).
  • Jy verlang. En jy sê dit. En ek sê dit nie sommer nie. Dis omdat ek regtig verlang die oomblik wat die knaap buite sig is. Dis nie sommer net iets wat cute is om te sê nie. Dis ‘n werklike gevoel.
  • Jy voel niks as jy aan jou ex dink nie. Jip. Dis waar. Ons almal gaan deur break-ups. sommiges (soos ek) meer as ander. Dis aaklig en seer en jy dink die heeltyd aan die man wat jou hart uitgeruk het, dit aan die brand gesteek het, op dit gepis het, gewag het tot dit droog word, en dit weer aan die brand gesteek het. Maar nou oorheers jou ex nie jou gedagtes nie. Nie eers ‘n bietjie nie. Want nou het ek ander (en beter) dinge om aan te dink. En selfs al spring die ex in my gedagtes in, is daar nie meer ‘n seer hart daarmee saam nie.
  • Skielik lyk alledaagse take en dinge nie meer so alledaags nie. Die dinge (soos kosmaak), word pret omdat jy dit vir die persoon of saam met die persoon doen. Skielik is ‘n DVD-aand voor die kassie nie meer vervelig nie. ‘n Uitstappie na Spar word ‘n avontuur. Wyn is lekkerder (nooit gedink daai is moontlik nie) as jy dit saam met die persoon drink.
  • Jy is bereid om dinge op te offer. En nee, voor julle my nou aanval en sê ek moenie “myself verloor” nie. Ontspan. Ek praat van dinge soos om eerder in die verkeer te sit vir 2ure om hom te sien, as om alleen op jou mat te lê. Om kos te maak, al is kosmaak nie jou thing nie (ek noem kosmaak weer, want dit was altyd vir my aaklig, maar nou doen ek dit met liefde). Om jou wekker vroeër te stel omdat dit verder van sy plek af is van joune af werk toe. Of om vroeg op te staan, al is dit jou inlê dag, om vir hom koffie te maak en padkos te pak wanneer hy vroeg in die pad moet val.
  • Hy is die goue randjie om die donker wolke. Jou dag is kak. Jou werk is uitputtend. Jy kan nie slaap nie en jy voel vet. Maar… dis alles okay. Want die knaap laat my beter voel en hy beur my op.
  • Jy voel veilig as hy naby is. Hierdie is corny AF. Maar dis die waarheid. Dis moeilik om die gevoel te beskryf. Maar jou hart en jou lyf en jou verstand is rustig as hy in die omte is.
  • Jy is so gemaklik met hom dat jy simpel grappies maak en nie jou vreemde gewoontes wegsteek nie. Jy voel nie jy hoef ‘n goeie voetjie voor te hou nie. Jy kan jou krom tone met jou lelike plakkies voor hou – en hy is okay daarmee. Ek kan my gesig trek, my hobo-klere dra, dans in die kombuis.
  • Alles herinner jou aan hom. Gewoonlik sou ek nie ‘n bakkie opmerk wat soos syne lyk nie, maar nou sien ek dit heeltyd. Ek is nie gaande oor kos wat my bek brand nie, maar as ek geurige kos ruik, dink en aan hom, want hy hou daaravan. Wat gewoonlik net agtergrondmusiek sou wees, laat my skielik aan hom dink omdat hy van die kunstenaar hou. Alles wat Star Wars en Harry Potter is, (al het ek dit nog nie gekyk nie) vang my oog, ook omdat hy al daaroor gepraat het. Sy naam is op alles geskryf.
  • Hy is jou mens. He is your person (dit klink beter in Engels). Jy wil elke klein dinggetjie met hom deel. My kollega vat my in die gesig, ek bel hom. Iets is snaaks, ek vertel hom. Hy is die eerste persoon met wie ek alles wil deel.
  • Jy kan wys dat jy kwesbaar is. Skielik kom die trane as ek hartseer is – en ek dink nie vir een oomlik dat hy gaan weghol nie. Dalk nagmerries kry want ek is nie ‘n mooi huiler nie. Maar hy gaan nêrens heen nie. Hy sal die trane afvee en drukkies gee. Weer voel ek veilig. En corny.
  • Hy irriteer die hel uit jou uit, maar dit maak jou net meer verlief. Ek haat dit as iemand hard aan my voetsool vat. Hy weet dit. En hy doen dit. Elke keer word ‘n groottoon kliphard oor my voetsool getrek. Elke keer kraam ek ‘n rol doringdraad. Maar ek gaan nêrens heen nie. En ek kielie hom. Hy haat dit. Maar ons doen dit steeds.
  • Jy kry nie meer ‘n ligte hoerberoerte as hy nie dadelik op jou boodskappe antwoord nie. Aanvanklik het ek gedink hy ignoreer my. Hy ghost my. Nou weet ek hy kan nie multi task nie en is tien teen een weer in daai droomwêreld van hom waar selfone nie welkom is nie.
  • Sy foto’s is vir jou regtig vermaaklik. Jy fake nie die belangstelling nie. Ek het myself gevang waar ek na sy gradeplegtigheidfoto staar met ‘n belaglike glimlag op die bakkies. Omdat hy so vrek jonk lyk sonder sy baard. Ook het ek al dieselfde reaksie getoon toe ek sy bos hare op sy paspoortfoto gesien het. En so gaan ek tien teen een ook lyk as hy vir my al die foto’s van sy Europa-besoek wys.
  • Jy sal eerder niks doen saam met hom, as iets doen saam met ander mense. Die sosiale vlinder in my het nooit gedink die dag sal kom waar ek een mens se geselskap verkies bo ‘n groep ander nie.
  • Jy wil hom vertel van al jou gunsteling dinge. Nie omdat ek wil he dit moet sy gunsteling dinge word nie, maar ek wil hê hy moet my beter ken as enige iemand anders. Ek wil nie hê hy moet in hoendervelle uitslaan as Freddie Mercury en Montserrat Caballé, Barcelona sing nie. Maar ek wil he hy moet weet dis wat dit aan my doen.
  • Jy wil dinge wat jy reeds gedoen het wéér doen, net sodat hy die ervaring met jou kan deel. Skielik wil ek weer ‘n reksprong by Bloukrans aandurf. Ek wil weer in Zanzibar gaan duik. Ek wil weer ‘n fietstoer deur Soweto doen. Maar die keer moet hy saamkom.
  • Jy voel so trots. Ek wil my minnaar aan almal voorstel en afshow want ek is trots dat so ‘n ongelooflike skepping deel is van my lewe.

 

So… as jy, net soos ek, gewonder het of die gevaarligte van verliefdheid aan die flikeker is – as jy kop knip op al die bogenoemde, dan is dit nou maar so. Jy (en ek) is in jou moer in!

 

foto:glittermotifs

 

 

 

 

Ma’s vs Kinderloses

images

Elkeen van ons stap mos maar ons eie pad in die lewe. Daar is wel diegene wat nie kan verstaan dat al die paaie anders kronkel nie. Daar is die wat glo dat teerpad die enigste pad is. Ek is nie een van hulle nie. Maar na ‘n gesprek met ‘n wildvreemde vrou vandag het ek dit nodig geag om hierdie stuk te skryf.

Ek hou van kinders. Ek hou baie van kinders – seker nog soveel meer omdat ek nie my eie het nie. Ek oordeel ook glad nie mense wat op ‘n jong ouderdom aanteel nie. Teel voort. Maar die hemele hoor my, laat my en my baby-box wat in onbruik is in vrede.

“Dit moet darem maar lekker he om so baie vrye tyd te he,” sê die vrou vir my kort nadat sy uitgevind het ek het nie kinders nie. Vrye tyd… wat de hel is vrye tyd? Ek werk ‘n voldag. Dan het ek ‘n hele hoop take om te verrig om my eie huishouding aan die gang te hou. En ek het sosiale- en ander verpligtinge. Ek het nie baie vrye tyd nie. En net daar, toe ek my bloedig vir die vrou se aanname vererg, besef ek hoeveel keer ek al sulke belaglikhede moes aanhoor omdat ek kinderloos is.

So hier is ‘n paar dinge wat ek asseblief nie weer wil hoor nie.

“Om kinders te he was die beste besluit wat ek ooit gemaak het.” Mooi vir jou. Om nie kinders te he terwyl my leefstyl is soos wat hy is nie, was die beste besluit wat ek ooit gemaak het. Ek het nie nou tyd, plek, energie of ‘n behoefte aan kinders nie.

“Tick jou biological clock nie?” Is dit 1920? Is daar geen mediese navorsing gedoen nie? Moet vroue steeds net in hulle vroeë twintigs babas uitpop anders word hulle uterusse droog en eierselle op? Nee! So nee. Niks “tick” hier by my nie. Ek is 30. Nie 130 nie. Ek het nog meer as genoeg tyd. Al wat “tick” is jou tor wat van sy stok afgeval het toe jy dink dis okay om so ‘n vraag vir my te vra.

“Ek was ook soos jy toe ek jonger was, maar toe word ek groot.” So net omdat jy ‘n ding so groot soos ‘n waatlemoen deur jou lady bits kon squeeze is jy nou meer volwasse as ek? Ek dink nie so nie. Jy is dalk oud voor jou tyd want jou kinders gee jou grys hare, maar jy is nie meer volwasse nie.

“Ek wens ek kon bietjie laat slaap.” Maar jy kan nie. Ek kan. Jy het gekies om kinders te he, wetend dat hulle jou uit die slaap gaan hou. Ek het gekies om nie kinders te he nie, wetend dat ek eers na middagete op ‘n Staredag kan ontwaak. Die lewe is vol keuses. Dis nie my skuld as jy drie jaar laas ‘n goeie nagrus gehad het nie en ek voel nie in die minste skuldig oor myne nie.

“Kinders gee jou lewe betekenis.” My lewe het reeds betekenis. Ek sou dit dalk geniet het met nog bietjie meer roommys en sjokolade-sous, maar behalwe vir dit is daar nie veel waaroor ek wil kla nie. My lewe is nie minder belangrik omdat my eierstokke nie haastig is nie.

“Wil jy nie iemand he wat vir jou gaan sorg op jou oudag nie?” Ek dink nie dit is die hoofdoel van kinders nie. Ek weet vir ‘n feit jy sorg nie vir jou ma nie, so hoekom sal jy dit van jou kinders verwag? Ek betaal elke maand my hardverdiende geldjie oor vir my oudag. Ek sal, net soos nou, vir myself sorg.

“Jy sal nog van plan verander en kinders wil he.” Dalk. Dalk nie. Ek het nooit gesê ek wil nie kinders he nie. Ek het gesê ek wil nie nou kinders he nie. En dis ononderhandelbaar. Sê dit saam met my: “voorbehoeding, 2, 3!”

“Dit moet so lekker wees om geen verantwoordelikhede te he nie.” Askies? Ek het nie besef dat kinders die enigste bestaande verantwoordelikheid is nie. Al die rekeninge wat ek betaal en werk wat ek doen is dan seker nie verantwoordelikhede nie…? Moenie laf wees nie. Ek het genoeg verantwoordelikhede sonder kinders.  Soos daai kletrymer gesing het: “I got 99 problems….” Maar ‘n kind is nie een nie. Genadiglik.

“Jy het nie meer baie tyd oor nie.” Ja, ja. Jy het ook nie meer baie tyd oor voor ek besef hoe ‘n absolute drol jy is en jou (en jou kinders) uit my lewe sny nie.

“Maar jy sal so ‘n wonderlike ma wees.” Duh. Want ek is ‘n wonderlike mens. (En so nederig.) Maar net omdat ‘n mens iets kan doen, beteken dit nie jy moet dit doen nie. Ek kan ‘n bier in 5 sekondes in my keelgat afgooi, maar ek moet dit eerder nie doen nie want dit laat my maag opblaas. Same.

“Jy gaan spyt wees dat jy so lank gewag het om kinders te kry.” Ek het nie besef jy kan die toekoms sien nie. Jy mag dalk ook spyt wees dat jy kinders gehad het as jou jongste soos ‘n kleptomaan begin tekere gaan, maar ek druk nie die moontlikheid in jou keelgat af nie.

“Maar dit moet so eensaam wees sonder kinders.” Nope. Glad nie. Inteendeel. Ek het tyd vir ander mense en daarom is ek nie eensaam nie.

“Dis net ‘n fase waardeur jy gaan, jy sal we landers begin voel.” As jy met “’n fase” bedoel ek werk aan my loopbaan en geniet my lewe, dan ja. As dit nie is wat jy bedoel nie, dan nee.

“Dink jy nie jy is bietjie selfsugtig nie”. Ja, ek is. Maar wat selfs meer selfsugtug sal wees is om ‘n kind te he wat dag in en dag uit by ‘n oppasser moet bly want Mamma is besig by die werk. Wat meer selfsugtig sal wees is as my kind van brood moet leef omdat ek die bloetjie uit die staanspoor nie kon bekostig  nie.

“Ek verstaan nie hoe jy in die stad kan bly nie. Johannesburg is nie ‘n goeie plek om ‘n kind groot te maak nie.” Maar dan is dit ideaal aangesien ek nie ‘n kind het nie!

“Maar… maar wat as jou ouers besluit het om jou nie te he nie?” Dan sou ek nie bestaan het nie en dit sou nie vir my nodig gewees het om die stupid gesprek met jou te he nie.

foto: randomdysfunctions.com

‘n Engel by Engen

Progress Bar Uninstalling with the text: Bad Day

Ander dag sit ek in my kar en die selfbejammering loop weer diep deur my are. My slaappil van die vorige nag het teen middagete steeds nie uitgewerk nie. Ek is soos ‘n lyk wat lewe ingeblaas is, maar net-net nie genoeg om heeltemal lewendig te wees nie. Ek het die slegste haardag in ‘n lang tyd. Vir een of ander onverklaarbare rede het ek ‘n klossie hare in my nek wat net nooit wil saamwerk nie. Nooit. As my hare vas is, dan wil hulle los. As my hare los is, dan wil hulle regop. My kuif staan punt in die wind.  Boonop het ek die oggend nie tyd gehad om behoorlik grimmering aan te sit nie, so ek lyk soos ‘n siek 12-jarige. En moenie nou vir my kom preek oor “elke vrou is mooi” en “jy het nie make-up nodig” nie. Ek het. Ek lyk sleg sonder dit. Vroegskof het jare gelede al gesorg vir permanente blou kringe onder die oogballe. Boonop het ek ‘n ernstige aanval van PMS. So die buste beur pynlik teen die bustelyfie (dis my dramatiese woord vir bra).

Die werksdag was nie fantasties nie. Daar is ‘n nare nadraai van ‘n traumatiese jaar wat in die kantoor hang. Die lug is so vol negatiwiteit soos wat Emalahleni se lug vol swart wolke hang (blykbaar hoes die voëltjie mens daar wakker soggens).  Iemand het ook besluit dat die regte klimaat in die kantoor gelyk is aan die van die hel. Dis warm en my armpitte sweet.

En ek verlang en ek wil net ‘n drukkie het. En ek is platsak. En honger. Ek is die donder in Donderdag.

Nou gewoonlik as ek so voel, moet ek lekker musiek luister en nie mense om my he nie. Ek klim in die brawa en sit Meatloaf en Cher se “Dead Ringer for Love” op repeat. Dit laat my altyd beter voel.

My kar se brandstofliggie gaan aan en my gemoedsbekakking verdiep – want ek is net onder ‘n kerkmuis en neffens ‘n boemelaar en mense moenie nou aan my blootgestel word nie. Maar ry moet ek ry.  By die vulstasie aangekom, blêr Meatloaf en Cher voort. Ek draai die venster af en sing kliphard saam – in die gesig van ‘n petroljoggie wat ongesiens nader gedraf het en reg by my venster staan.

Ek bloos my ore rooi want nootvas was ek nie.

“Unleaded 93, please sir.”

Hy kyk my met ingenome oë aan en ‘n glimlag bars oor sy lippe.

“Madam, can I give you a compliment today?” Ek knik en dink hoe nodig ek ‘n kompliment het.

“You are very beautiful!” Sy glimlag is aansteeklik en die kompliment tref my in die gevoelens (al dink ek nie dis waar nie). Ek glimlag terug.

“Oooooooooh,” gee hy ‘n gilletjie, “and your smile is like a sunrise!”

Ek klim uit vir sjokolade (want PMS) en besluit om vir die gawe petroljoggie ‘n koue koeldrank te koop.  Toe ek vir die brandstof betaal gee ek die koeldrank aan en bedank hom vir sy vriendelikheid.

“Madam, not only are you beautiful with the smile of a sunrise… but also… You are every generous. “

Ek ry weg, Meatloaf begin weer sing, maar skielik voel die dag mooier en my hart aansienlik ligter.

Daar is engele om ons…

 

foto: DuckboardsAndStilts.com

 

Verniel, verwoes, verbysterd

My hart het in stukke gespat. En ek is kwaad. Woedend. Verbysterd. Vir die eerste keer in baie jare het ek vir die bronne van een van die stories wat ek vertel het, gevoél. Ek gaan nie vreeslik verveel met te veel besonderhede van die agtergrond nie en ek wil byvoeg dat ek ‘n skuilnaam gebruik.

Die hooggeregshof het beslis dat artikel 18 van die strafproseswet ongrondwetlik is. Dit beteken die “verjaringsperiode” van 20 jaar vir seksuele misdrywe moet opgehef word. Monitor word oorval met sms’e van luisteraars. Honderde sms’e van mense wat slagoffers was.

Die mense is dapper, hulle praat met my. Die enigste voorwaarde is dat hulle name nie genoem word nie en stemme vermom word. Elkeen van hulle sê: “om my familie die besonderhede te spaar.” Nie een sê “om myself te beskerm,” nie. Want die skade is reeds gedoen.

Elke storie is soos ‘n vuishou op my krop, elke storie ‘n mes in my hart. Die een se seer is nie seerder as die ander nie. Maar van die mense praat makliker as ander. Met meer besonderhede.

“Die vark het my kindwees gesteel,” vertel ‘n man wat as 12-jarige seuntjie deur ‘n man in sy 30’s verkrag is.

“Vandat ek my verstand gekry het, vandat ek kan onthou, lol my pa met my,” vertel ‘n vrou en voeg by dat hy ook haar sussies gemolesteer het.

“Eers net gevat en gevroetel. Eers net met my gepeuter. Later het hy my gepenetreer. Ek was vier toe dit begin het,” vertel nog ‘n vrou van haar pa. Sy sê haar pyn “verjaar” nie. Anders as die misdaad, soos die wet dit voorgskryf het tot nou.  Al was dit 40 jaar terug.

Klinies. Op die man af. Niemand draai doekies om nie.

Nog ‘n vrou vertel dat dit eers haar ma se broer was. Later ook haar pa se broer. Sy is as volwasse vrou ook verkrag.

En toe bel ek vir Marie.

Sy vertel dat haar pa vroeg dood is. Haar ma was ‘n volslae alkoholis. Om die verslawing te bevredig het mens geld nodig. Daar het mans by hulle gebly. “Soos ‘n losieshuis.” Daar was baie drank. “Die een oom het my gegryp en in sy kamer ingevat. Hy het vir my lekkergoed aangebied. En my toe begin vryf. Dit het gebrand. En toe het hy my hand gevat en op hom gesit. Ek sal daai reuk nooit vergeet nie. Nooit. Ek dink ek was drie of vier jaar oud.”

Sy vertel dat hy nie die enigste een was wat haar kinderlyfie misbruik het nie. “Daar het mans kom drink en kaart speel saam met my ma. Hulle het my op hulle skote getel en dan onder die tafel met my gevroetel. Ek het gedink dis maar hoe dit is. As jy nie van beter weet nie, kan jy nie jouself beskerm nie.”

Ek luister. Dis al wat ek kan doen. Marie wil haar storie vertel. Sy is 69, maar in my geestesoog sien ek die dogtertjie. Sy vertel nog baie dinge uit haar kinderjare. Ek wil nie eers oor alles skryf nie. Ek dink dit is vreeslik. Ek voel die kind se vrees en die mans se optrede walg my. Dis soos ‘n vuil hand wat ‘n wurggreep op my strot kry.

Toe vra Marie of sy maar vir my die ergste storie kan vertel…

Sy was vir behandeling vir haar rug. ‘n Ma van twee jong dogters. Na die behandeling kon sy nie saam met haar man terug plaas toe nie, sy het te seer gehad. Hy het haar op die dorp by haar broer afgelaai. “Ouboet is so 15 jaar ouer as ek”. Sy het ingesluimer op die bank. “Toe gryp hy my hard tussen die bene en vra of ek nat is.” Marie sê sy was uit die veld geslaan. Sy het haar vererg. Toe sy opkyk sien sy “’n vieslike blou-film” op die televisie. “En ek kon die brandewyn ruik.”

Sy vertel hoe haar broer haar oorrompel het. “Hy was net so sterk, ek kon niks doen nie. Niks.” Sy vertel dat hy haar oor die bad se rand gebuig het. “En so het hy my bewerk. In elke gat wat hy kon.” Toe ek dink dit kan nie erger word nie, deel Marie met my haar seerste seer. “Ek het gehoor hoe ‘n bottel breek. Toe ek opkyk sien ek dis ‘n bierbottel. Hy het die gebreekte bottel met die skerp punt voor en agter ingedruk. Hy het my oopgeskeur. Dit was so seer. Maar hy het net aangehou. En aangehou. Vir ure.”

Ek sit my mikrofoon af want ek wil nie he Marie moet my snikke hoor nie. Hierdie is haar storie. Sy vertel hoe sy “handdoeke in die gate gedruk het”. Want daar was baie bloed. Hoe sy doodstil gesit het toe haar man haar kom haal. Al die pad plaas toe nie een enkele woord nie. By die huis het sy die handdoeke uitgehaal. “My man het die baie bloed gesien en die ambulans laat kom.”

Sy vertel van operasies en hoe die vel van haar heup gebruik moes word. “Om my toe te werk.”

Sy sê sy is nie meer ‘n vrou nie. Hy het haar verwoes.  Sy kon nooit weer seks he nie.  En nou, dat die wetgewing moet verander gaan sy haar broer aan die pen laat ry. Hy moet nou boet vir wat hy aan haar gedoen het. “Want hy het nooit verduidelik nie. Nooit jammer gesê nie.”

Maar hoekom het Marie dan nie ‘n saak gemaak nie? Ek moet dit vra. Dit is my werk om vrae te vra.

Daar is ‘n lang stilte. Sy sluk trane. En probeer verduidelik.

Sy sê sy het net doodeenvoudig nie krag gehad om in ‘n hof te staan en getuig nie. Hoe vertel mens vir vreemdelinge wat jou eie bloedbroer aan jou geslagsdele te doen? Hoe hy jou privaatste dele verniel het? “Dit was te seer om daaraan te dink, wat nog van praat…” Sy vertel dat hy twee jong seuns gehad het. Sy wou nie hulle drome aat flarde skiet met die wete dat hulle pa ‘n verkragter is nie. En haar eie dogters wou sy beskerm. Hulle hoef nie hulle ma se seer te ken nie. En dalk het hy as kind dieselfde misbruik ervaar deur daardie vreemdelinge in die huis.

Maar nou is die kinders groot. Nou moet die man boet.

As joernalis is dit nooit maklik om die dinge te hoor nie. Maar mens sit afstand tussen jou en die bron. Die keer kon ek dit nie regkry nie. Ek het gedink hoe vreeslik dit moet wees as ‘n wildvreemde vrou jou bel en vra om jou seerste herinnering en trauma met haar te deel. Ek wil sê ek haal my hoed af vir die mense. Maar dit voel nie genoeg nie. Hulle is almal ongelooflik. Ek kon vir jare nie oor my eie trauma praat nie. Wat nog van praat met ‘n vreemdeling.

Toe ek vir Marie groet lê die trane vlak. Ek sê vir haar dankie dat sy so dapper is. Dankie dat sy haar storie met my gedeel het. Dankie dat sy die moed het om oor die seer te praat. Haar antwoord laat my stomgeslaan.

“Dankie dat jy wou luister.”

Hier is ‘n skakel na die storie as jy self wil luister… https://iono.fm/e/444148

Die binnekring van my menswees

download (2)

Teen die tyd weet almal al dat ek enkellopend is. En dit is waar van die grootste gedeelte van my volwasse lewe. En om dit te verander gaan ‘n man hare op sy tande moet hê (om dit sag te stel).  My ma sê nog altyd: “Jy is nie ‘n katjie wat mens sonder handskoene aanpak nie.” Ek is nie trots daarop nie, maar dit is definitief die waarheid. Want ek is vol draadwerk.

Ek moes onlangs weer so bietjie selfondersoek doen. ‘n Aangename knaap het sy opwagting in my lewe gemaak. Dit was vir my ‘n moerse verrassing. Want die knaap is ‘n spesie wat ek amper oortuig was aan die uitsterf is. Ek is gewoond aan mans wat hulle vrouens (probeer) verneuk (met my). Mans wat jok. Mans wat nie weet wat hulle wil hê nie. Mans wie se harte so toe soos klei-osse se holle is. Ek het begin dink dis al mans wat oor is.  Dierbaar en romanties en emosioneel beskikbaar en eerlik het na ‘n lugkasteel gelyk. En toe daag die knaap met dié eienskappe op. Glad nie die gewone Hanri-tipe-wat-simpel-speletjies-speel-en-jou-aan-die-wonder-hou nie.

Tog het ek vasgeskop en paniekaanvalle gekry toe die lieflike skepping in my spasie begin inbeweeg. Ek kon dit self nie verstaan nie. Dis immers die tipe man wat mens hoop jou drumpel sal deurtrap.

So vandaar die selfondersoek. Die volgende sin is lame – maar waar… Intimacy beteken vir my nog altyd in-to-me-I-see. Mens moet opreg en eerlik met jouself kan wees voordat jy enige ander mens sal kan toelaat in die binnekring van jou menswees.

Aanvanklik het ek gedink dat ek verslaaf geraak het aan die aandag van verskillende mans. Ek is immers die pret-slet. Toe besef ek almal hou maar van aandag en dat  ek baie lanklaas ‘n los gelukkie opgetel het en emosielose vrysessies ingewerk het. So dit kan nie dit wees nie.

Toe dink ek dat ek dalk nie wil afsien van my mansvriende nie. Want ek het baie mansvriende. En die helfte van hulle het ek al in een of ander stadium warm gevry. Geen man sal mos gemaklik wees daarmee nie? En ek is nie gemaklik om hulle aft e skryf nie. Ook verkeerd. Want my verlede maak nie juis so vreeslik saak nie en het eintlik niks met enige iemand uit te waai nie.

Toe dink ek dat ek dalk net bang is. Want ‘n seer hart is die seerste seer. En na die laaste seer weet ek nie of ek nog ‘n keer ‘n seer hart sal oorleef nie. Maar toe besef ek dat ek in die verlede elke keer wat ek gedink het ek is sterwend van die hartseer, oorleef het. En weer probeer het. En weer seer gekry het. Weer oorleef het. So hoekom sal ek dan nou nie weer probeer nie?

En toe kom die gewaarwording… Die rede vir my angstigheid, het ek besef, is omdat ek daarvan hou om alleen te wees. Vreemd vir ‘n uiterse ekstrovert? Dalk. Maar dis die waarheid. Want as ek alleen is het ek 100% beheer oor wat om my aan die gebeur is. En dit maak my gelukkig en gemaklik. En as ‘n man my wil oortuig om hom in my lewe toe te laat gaan hy beter moet wees as my “solitude”. En dis ‘n baie tall order. Want die man sal nie in kompetisie wees met ‘n ander persoon nie…  Hy is nie in kompetisie met iets tasbaar wat hy kan duifkyk en vloek en uitoorlê nie. Hy sal in kompetisie wees met my gemaksone. En my gemasone is baie gemaklik.

Ek klim maklik self uit daardie gemasone uit – maar ek laat selde mense daar binne toe.

En asof die gemaksone nie erg genoeg is nie – is daar ook die ander draadwerk.

My standaarde is hoog. Baie hoog. Daarmee bedoel ek nie ‘n man moet Sun City besit of soos Ryan Gosling lyk nie (hoewel ek dit baie sal geniet). Maar ‘n man moet sy lewe agtermekaar hê en deeglik bewus wees van die gevare om met ‘n vurige vrou (soos ek) deurmekaar te raak. Onder geen omstandighede kan ek iemand se mamma, oppasser of beursie wees nie.  Daarby is ek nie lus vir kak nie. Nie van die oënskynlike wonderlike man of sy vriende of sy familie nie. Ek is oud genoeg om te weet wie ek is – en as iemand iets daaroor te sê het moet hy/sy maar daai skoentjies uittrek en saggies moer toe stap.

Ek kan nooit die “damsel in distress” wees nie. Ek mag dalk ‘n oulike minnaar wil he… maar ek gaan hom nooit nodig he nie. Ek kom al vir baie jare op my eie reg, dit gaan nie nou skielik verander nie. Ek verander nie in ‘n sagte marshmallow net omdat daar ‘n man in die omte is nie.

Boonop sukkel ek om ‘n man “nommer 1” te maak. Want ek is nommer 1 in my lewe. Daarna kom die mense wat al vir jare vir my baie beteken. ‘n Nuwe liefde moet nooit dink hy gaan inwals en die top prioriteit wees nie. Get in line, son.

Ek sal nooit “needy” kan wees nie. Want wat ek ookal nodig het kan ek vir myself kry. En ek is selfversekerd. Ek weet wie ek is. Ek kan nie deal met stage 5 clingers nie. En ek is ook nie een nie. Moenie jou onsekerhede op my afdwing of probeer om myne uit te lig nie.

Soms kry ek “introvertsies”. En as iemand liggeraak is, gaan dit hom pla dat ek skielik van die aardbol af verdwyn. Maar dit is hoe ek is. Soms wil ek alleen wees en in my onderklere op die bank le en my gesig vol springmielies druk. En ek wil dit doen sonder ‘n gehoor. So los my uit! Ek skuld niemand enige iets nie – veral nie my tyd nie.

Ek gaan altyd pynlik eerlik wees. So moenie vrae vra en dan omgekrap wees oor die antwoord nie.  “Praat jy nog met jou ex ouens?” Ja, gereeld. “Het jy nog gevoelens vir jou ex?” Ja, Baie, en dit sal altyd daar wees. “Was daar baie ouens in jou verlede en in jou kooi?” Ja, meer as wat nodig is. “Het jy al daai vriend gevry?” Jip, telkemale. Moenie vra as jy gaan fout vind met die waarheid nie.

En ek sal altyd my eie lewe he. En dit sluit jou nie noodwendig in nie. Ek wil die horrie-piep kry as mense aan die heup vasgewerk is. Ek sien geen rede om ‘n man saam te sleep as ek by ‘n vriendin gaan koffie drink nie. Dalk het sy iets belangrik om vir my te sê. Ek kuier lekkerder by werksfunksies en troues as ek nie ‘n metgesel hoef op te pas of in te sluit nie. Dit is net hoe dit is. Dit is nie ‘n belediging vir jou nie, dis eerder ‘n karaktereienskap van my.

En my onafhanklikheid is nie onderhandelbaar nie en ek sal altyd liewer wees vir myself as vir ‘n man.

So in opsomming – hoewel ek nou weet daar is nog goeie, betroubare mans daar buite, is ek nie seker of hulle goedheid so ver strek dat hulle aan iemans soos ek se sy sal pas nie. Maar vir die knape wat wil probeer: ek verwelkom die effort en wens jou alles sterkte toe.

 

foto: askideas