#singlegirlproblems

single-girls-problems-advantages-illustrations-livingstov-fb2__700-png

Daar is ‘n magdom voordele aan enkellopend wees. Te veel om te noem. In die algemeen is dit lekker en geniet en waardeer ek dit. Maar dan is daar tye wat my enkellopende-status my onderkry. En dis met die alledaagse dinge wat ek moet erken dit sou beter wees om ‘n man in my lewe te hê. Ek werk nou al lank aan ‘n lys en toe ek verlede week met ‘n wynbottel, wat net nie wil oopskroef nie, stoei… toe besluit ek om dit neer te pen.

Ek skop af met die wynbottel. Ek kan met ‘n kurktrekker werk. Ek drink al lank wyn. Soos ‘n dekade. Ek is ‘n meester.  Maar deesdae is daar hierdie afskroef-opskroef-affêres wat voel of dit met metaal versterk is en net daar gestel is om my te laat voel of ek ‘n man broodnodig het. Want wyn. Dieselfde het gegeld vir die mayonnaise-, agurkie- en katjiebotter-bottels. Toe koop my ma so kontrêpsie (wat sy ‘n megafter noem) wat die probleem oplos. Maar daai wynbottel kry my onder. Ek het, nadat ek ‘n sweetsnor ontwikkel het van die inspanning en my vinger amper geamputeer het, ‘n gat van bo in die bottel gedruk en die hele bottel net daar op die kombuisvloer gesit en opdrink. Maar dit sou beter, aansienlik meer aantreklik en minder seer wees as daar die sterk kloue van die manlike geslag teenwoordig was.

Die vyfde wiel. Ek is mal oor my vriendinne se minnaars/kêrels/huweliksmaats/lewensmaats. Maar moet hulle ALTYD saamkom na alles toe? As ons begin klets oor hare en waxing en so aan, staar hy/sy inelkgeval met ‘n dooie uitdrukking in die oë na niks. Want hy/sy stel werklik nie belang nie. Ook laat dit my met ongemak as daar altyd ‘n hand om my gespreksgenoot se middel is as ek alleen is. Dan wens ek, ek het ook eerder ‘n paar hande om my middellyf gehad of minstens iemand om mee te gesels as die paartjie mekaar se monde verken.  Ook is daardie ongemaklike, niksseggende geselsies wat ek met jou ander helfte moet maak as jy badkamer toe gaan nie vir my aangenaam nie. Ons het, behalwe vir die vriendin, niks in gemeen nie.

Om alleen in ‘n restaurant te wees. Dit pla my gewoonlik nie juis nie – tot my foon vrek , ek my boek vergeet of ek so sit dat ek nie die ou oom voor my se blik kan vermy nie. Dan wens ek dat ek nie alleen daar was nie. Dit sou ook nogal aangenaam wees as iemand saam met my kon lag vir die stuk brood wat op die oom se ken vassit of as iemand my op die rug kon slaan as ek (soos gewoonlik) verstik.

Ook kan ek nie “halfies” gaan met iemand nie. Dit laat my verlang na ‘n man as ek sien hoe mense die rekening/pizza in twee deel en ek sit daar en vreet die hele ding soos ‘n vraat op want ek het niemand om dit meet e deel nie. En dan moet ek die hele rekening self betaal.

As iets breek. Of ‘n gloeilamp blaas. Of my nommerplaat val af. Of ek  moet meubels rondskuif. Ek is in die algemeen redelik handig. Maar ek kan “ek is ‘n sterk, onafhanklike vrou” gil tot die voorvaders my hoor, dit gaan nie help nie. Ek gaan nogsteeds nie daai gloeilamp bykom nie, ek het nie ‘n boor nie en ek kan nie die swaar meubels alleen optel nie. En dis nie so lekker om dan vriendin-se-man vir die tiende keer te bel nie.

As ek ‘n man in my lewe gehad het sou ek nie belaglike stellings soos “jy is te kieskeurig”, “die regte een sal kom”, “jy is seker so eensaam” of “wees net geduldig” moes aanhoor nie. Niemand sê daai stront vir iemand wat in ‘n verhouding is nie.

Been(en ander)hare skeer. Dit maak geen sin vir my om ‘n driekwart van my lyf te skeer as niemand daaraan gaan vat nie. Tog moet ek dit doen want ek gril vir harrerige gedoentes – selfs meer as dit aan my eie lyf is. Ek dink net dit sou beter motivering wees as iemand my gladde lyf kon waardeer.

Blind dates. Yuk. As jy iemand in jou lewe het, sal niemand dit waag om te probeer om jou aan die enigste ander enkellopende mens wat hulle ken te probeer afsmeer nie. Net omdat ons altwee single is, beteken dit nie ons gaan oor die weg kom nie.

As jy nie die rits op jou rug toekry nie. Hierdie laat my glo in evolusie. Aanvanklik was dit ‘n moerse probleem en het dit gelyk of ek ‘n priester nodig het om die geeste uit te dryf soos my lyf buig en draai. Intussen het ek ‘n mate van ‘n letterlike rubberarm ontwikkel wat oral kan bykom. Maar nie sonder pyn nie. As iemand byderhand was, om moeiteloos die rits toe te trek sou my lewe makliker gewees het.

Valenteinsdag. Rooi hartjies en teddie-bere en sjokolade en rose. Bliksemse Valenteinsdag.  Ek maak elke jaar of ek nie omgee nie, maar daar is iets depressing daaraan as almal ‘n romantiese aand beplan en jy sit in jou slaapklere op die bank en kyk rom coms en haat jou lewe vir daardie 1 aand. Dan sal ‘n man om dit mee te deel welkom wees.

Vir al die ander dinge het ek oplossings. Maar daar is sekere #singlegirlproblems wat net ‘n man kan oplos. En dan vervies ek my – want ek dink nie enkellopende mans het dieselfde probleme nie.

foto:boredpanda.com

 

 

 

 

 

 

 

Leave a comment