Wat werkloosheid my geleer het

133edfa46afd9babbab8d0633eb6abe7

‘n Rukkie gelede vra my wyse moeder vir my: “My kind, wat het jy geleer uit werkloos wees.”

Nou vir diegene wat nie weet nie, ek is afgelê by my vorige werk.  Dit was eers twee maande (November en Desember) van onsekerheid oor die proses wat aan die gang is.  Op 31 Desember het ek my afleggingsbrief onderteken en vir Januarie, Februarie en Maart was ek werkloos. Genadiglik het ek op 1 April weer begin werk.

Ek werk al vandat ek kan onthou. Ek het skoolvakansies gewerk waar ek ‘n werkie kon kry – in die komsbuis toe die skool ‘n nasiensentrum was, by die drukkery, op ‘n gasteplaas.  Op universiteit het ek naweke en vakansies as bar-moeder (kroegdame, watookal jy dit wil noem) gewerk.  Ek was nog besig met my laasteuniversiteitseksamen toe aangestel is as joernalis. En van toe tot Desember 2019 het ek altyd ‘n inkomste en permanente aanstelling gehad. So jy kan jou indink hoe ‘n groot skok die werkloosheid op my sisteem (my bankrekening en my gemoed) was.

Maar het ek daaruit geleer?

Ja. Baie. Hier is ‘n paar lesse.

Om ‘n werk te soek is amper ‘n voltydse werk.

Dis oorweldigend hoeveel platforms daar is om werk te soek en hoeveel van hulle net click-bait is. Ek het honderde (dalk duisende) aansoeke ingestuur en net by ‘n handjievol enige terugvoer gekry. Die meeste doen nie eers die moeite om jou te laat weet jy suck nie. Daar is net stilte. Tussen Desember 2019 en Maart 2020 was ek vir tien onderhoude. Tussenin is dit net wag en wag en wag en hoop en bid en wag.

Elke werksonderhoud is ‘n bron van spanning.

Of jy nou baie graag die pos wil hê of nie – werksonderhoude is angswekkende ervarings. Dis dieselfde vrae oor en oor en oor – en na die derde onsuksesvolle onderhoud begin jy jouself en jou antwoorde bevraagteken. Jou angsvlakke (oor die onderhoud en die petrol om na die onderhoud toe te ry) skiet deur die dak. Jy pas verskillende uitrustings aan, sorg dat jou hate mooi lyk, plak lipstiffie aan. Maar as jy nie die beste kandidaat  vir ‘n pos nie, kry jy nie die pos nie. Soms kry jy nie eers die pos nie al is jy die beste kandidaat.

Ek het geleer om elke sent drie keer om te draai.

As jy nie weet waar jou volgende rand vandaan kom nie, is jy aansienlik meer huiwerig om die enigste rand wat jy het te bestee. Ek het besef dat ek gans te graag geld op twak uitgee, dat ek heeltemal te veel dinge koop wat ek nie nodig het nie. Skielik het ek twee keer gedink voor ek daai mooi hemp aanlyn bestel. Ek het eerder kos gemaak as om wegneemetes te koop. Ek het by die huis gin gedrink eerder as om ten duurste by ‘n kroeg te kuier. Op die manier kon ek my rande so vêr strek dat ek kon oorleef tot die dag wat ek weer salaris getrek het (sonder om enige iemand in die oog te moes kyk of te bedel). Dit het my ook hard aarde toe gebring wat salarisverwagtinge betref. Enige inkomste is beter as geen inkomste.

Daar is goeie dae en daar is slegte dae. En dis okay.

Party dae het ek opgestaan met ‘n lus vir die lewe (soortvan). Ek was gemotiveer en gereed vir werk soek. Ek kon glimlag. Daar was ook dae wat ek myself skaars uit die bed kon sleep om ‘n ongesonde peuselhappie te kry… en dan het ek daardie happie in die bed gevat en net bly lê. En dis okay. Ek is nie ‘n robot nie, ek is driedimesioneel en ek mag af-dae hê. Dit beteken nie dat ek moed opgegee het nie.

Meer gereeld as soms is kollegas presies net dit. Kollegas. Verhoudinge word geforseer as jy nege ure van die dag in iemand se bakkies kyk. Dit beteken nie dat dit ‘n vriendskap is nie. Dis ‘n situationship.

Kollegas kan vriende word, dalk selfs amper familie. Ek het ‘n hartsmens ontmoet by my vorige werk (Werner, as jy hierdie lees, dis jy!) En saam met al die trauma van aflegging en werkloosheid is dit ‘n ligpunt wat skyn.

Om verveeld te wees is sieldodend en vrye tyd is gevaarlik.

Mens kan net soveel lees tot jou oë begin skeel trek. Jy kan net soveel televisie kyk tot jy belangstelling verloor. Die speletjies op jou selfoon raak afgesaag. Jou lyf raak seer van op jou derde nekwerwel lê. Om wortel te skiet en ‘n verhouding met jou bank, wat voels soos SABC 1 se “Simunye, we are one” help niemand nie. Ek het geleer dat ek my kop en my hande moet besig hou – op enige denkbare manier. Ek het ‘n sample van aftrede gehad en besef dat ek nog lank nie reg is daarvoor nie. Vir my eie behoud moes ek myself red van dae lank in slaapklere met ongekamde hare en stink asem. Roetine is belangrik. Anders is jy wakker tot lank na middernag en jy lê jou roes en afslaap terwyl jy eintlik iets kon doen om jou situasie te verbeter.

Depressie kan nie alleen gepak word nie. Die swart hond is al vir baie lank ‘n gereelde besoeker – soveel te meer as ek alleen voel. Ek het geleer dat die mense wat vir my lief is en werklik omgee. En ek het geleer om te sê as ek voel of die aarde my insluk. Niemand is sterk genoeg om alleen deur die lewe (of in my geval, deur werkloosheid) te sukkel nie.

Ek het ook geleer dat baie mense werklik net mooiweersvriende is.

‘n Hartsmens is meer as goud werd.

My minnaar het my kop bo die water gehou – nie net omdat hy aangebied het om ‘n finansiële vangnet te wees nie, maar omdat hy daar was. Altyd. Hy het aanhou glo dat  k geholpe gaan raak, aanhou versekering gee dat ek genoeg is. My dankbaarheid vir die mooie mens het geen perke nie.

Geduld. Ek het geduld aangeleer.

As beheervraat was die proses van wag vir terugvoer vir my baie erg. Ek moes aanvaar dat ek net kan doen wat vir my moontlik is – en dan moet ek aanvaar dat die proses uit my hande is. Ek kan nie die HR-afdelings aanjaag nie, ek kan nie die onderhoude skeduleer nie, ek kan nie die besluit van aanstellings namens ander maak nie. Om ongeduldig te raak bring ‘n werklose niks in die sak nie.

Laastens: ek het geleer dat dit gevaarlik is om te veel van jou indentiteit aan jou beroep te koppel. Dis noodsaaklik om as mens los te kan staan van jou werk. As jy niks anders het om oor te praat as wat jy kantoorure doen nie, is jou menswees in gevaar.

Ek sluit af: ek het baie dinge geleer as werklose, maar die belangrikste gewaarwording is dat dit ‘n seëning is om ‘n werk te hê, ongeag wat daardie werk is. Werkloosheid is hel, so hê begrip met die miljoene mense wat daarmee worstel.

 

foto: someecards.com

 

2 thoughts on “Wat werkloosheid my geleer het

  1. Ja my vriendin jou artikel raak my reg in die hart! Veral ek wat nou nog werk soek gedurende die #*$*%*#$ Covid pandemie…..Maar aanhouer wen en party dae al wat werk is ‘n glas wyn en baie chocolates 🙂

    Like

Leave a comment