Afleggings en gatslae

1sfk65

Vir een of ander onverklaarbare rede, voel mense dis nodig om regtige onnadenkende dinge kwyt te raak as iemand hulle werk verloor.

Dis nie asof die honderde werksaansoeke (waarop 99% van die werknemers nooit reageer nie), die onderhoude (wat almal min of meer dieselfde angswekkende ervaring is) of die vrees dat jou bankrekening gaan leegloop nie erg genoeg is nie.

In ‘n land met ‘n hoë werkloosheidsyfer en as vars werklose, het ek dit daarom goed gedink om vir mense daarop bedag te maak dat daar sekere dinge is wat jy nie vir my (en ander werkloses) moet sê nie.

Die lys is as volg:

“Shoulda, woulda, coulda”

Skielik is almal ‘n loopbaanberader en weet presies wat jy eintlik moes doen om jou eie gat te red.  Aflegging is nie iets wat gebeur omdat jy nie jou werk goed genoeg doen nie, dit gebeur nie omdat jy nie hard genoeg baklei het vir jou pos nie, dit is nie ‘n weerspieëling van jou persoonlikheid nie.  Hou asb. op met die “dalk moes jy eer dit dit gedoen het” of “dalk kon jy eerder dat probeer het”. Dit help niemand nie, hindsight is 20/20 – die dat hierdie hindsight my werk sou red nie.Moet ook nie vir my voorskryf hoe ek die onsekere pad nou moet benader nie – veral nie as jy nog nooit in dieselfde boodjie was nie.  Waar bly jy? Jy bly stil!

“Jy weet ander suksesvolle mense het ook al hulle werke in die verlede verloor.”

No shit, Sherlock. Maar ek is nie Walt Disney, Oprah of J.K. Rowling nie. Ek is Hanri. En hier waar ek in kakstraat sit lyk die moontlikheid van miljoenêr word baie skraal. As jy nie wil hê ek moet uitwys dat jy, net soos Vin Diesel, eendag ‘n dad body gaan hê of soos Prince William gaan bles word nie, moenie my vergelyk met mense wat ek nie in my wildste drome sal ontmoet nie. Asseblief en dankie.

“Alles gaan okay wees.”

Wel hoe die moer weet jy dit, Susan? En okay is ‘n relatiewe begrip. Wat vir jou okay is, is nie vir my okay nie.

“Jy gaan vining weer werk kry.”

Ek het nie geweet jy is verwant aan Siener van Rensburg nie. Het jy al die werkloosheidsyfer gesien? Of woon jy onder ‘n klip? Want ek weet (nou beter as ooit tevore) dat werk skaars is. En ek weet dat my voorvaders se sondes (apartheid) my nou straf en dat my vel nou witter as gewoonlik voel met BEE-poste (wat ek heeltemal verstaan) wat geadverteer word. So nee, daar is geen bewyse dat ek vining gaan werk kry nie.

“Bly positief, moenie laat dit jou onder kry nie.”

Ag, hoekom dan nou nie. Ek gaan maar net my gevoelens en die gatslag ignoreer en vrolik en vars soos ‘n lenteblom voel. Of nie. Onder? Ek is reeds onder. Nie net moes ek die humble pie herkou soos ‘n koei nie, maar die swart hond loer oor my skouer en dreig om my saam te sleep na ‘n donker depressie. Om positief te bly is nogal moeilik en ek dink nie jou “wyse” woorde gaan dit in my ontketen nie.

“Ek wens ek kan my werk los en bietjie af-tyd he.”

Nou doen dit. En kyk dan na ‘n maand hoe dit voel as jou spaarrekening net so min aksie soos die platteland het en jy vir 8 ure lank swak Netflix-shows gekyk het omdat nie een van die 3000 werksaansoeke wat jy sedert Desember doen suksesvol is nie. Ook #toosoon!

So hier is my raad: as jy nog nooit self deur ‘n aflegging is nie, nog nooit self werkloos was nie, moenie jou eier lê nie.

Jy verstaan nie die warrelwind van emosies wat ek (en my oud-kollegas) tans ervaar nie. Dit voel of jy deur die fases van rou gaan. Jy ontken dit eers, dan is jy kwaad en dan voel jy moedeloos. Tussenin is daar paniek, vernedering, verlies, ‘n knou aan jou selfvertroue en vele meer.

En tensy jy vir my werk kan aanbied, gaan jy niks aan die situasie verander met jou ongevraagde raad nie.