Wat werkloosheid my geleer het

133edfa46afd9babbab8d0633eb6abe7

‘n Rukkie gelede vra my wyse moeder vir my: “My kind, wat het jy geleer uit werkloos wees.”

Nou vir diegene wat nie weet nie, ek is afgelê by my vorige werk.  Dit was eers twee maande (November en Desember) van onsekerheid oor die proses wat aan die gang is.  Op 31 Desember het ek my afleggingsbrief onderteken en vir Januarie, Februarie en Maart was ek werkloos. Genadiglik het ek op 1 April weer begin werk.

Ek werk al vandat ek kan onthou. Ek het skoolvakansies gewerk waar ek ‘n werkie kon kry – in die komsbuis toe die skool ‘n nasiensentrum was, by die drukkery, op ‘n gasteplaas.  Op universiteit het ek naweke en vakansies as bar-moeder (kroegdame, watookal jy dit wil noem) gewerk.  Ek was nog besig met my laasteuniversiteitseksamen toe aangestel is as joernalis. En van toe tot Desember 2019 het ek altyd ‘n inkomste en permanente aanstelling gehad. So jy kan jou indink hoe ‘n groot skok die werkloosheid op my sisteem (my bankrekening en my gemoed) was.

Maar het ek daaruit geleer?

Ja. Baie. Hier is ‘n paar lesse.

Om ‘n werk te soek is amper ‘n voltydse werk.

Dis oorweldigend hoeveel platforms daar is om werk te soek en hoeveel van hulle net click-bait is. Ek het honderde (dalk duisende) aansoeke ingestuur en net by ‘n handjievol enige terugvoer gekry. Die meeste doen nie eers die moeite om jou te laat weet jy suck nie. Daar is net stilte. Tussen Desember 2019 en Maart 2020 was ek vir tien onderhoude. Tussenin is dit net wag en wag en wag en hoop en bid en wag.

Elke werksonderhoud is ‘n bron van spanning.

Of jy nou baie graag die pos wil hê of nie – werksonderhoude is angswekkende ervarings. Dis dieselfde vrae oor en oor en oor – en na die derde onsuksesvolle onderhoud begin jy jouself en jou antwoorde bevraagteken. Jou angsvlakke (oor die onderhoud en die petrol om na die onderhoud toe te ry) skiet deur die dak. Jy pas verskillende uitrustings aan, sorg dat jou hate mooi lyk, plak lipstiffie aan. Maar as jy nie die beste kandidaat  vir ‘n pos nie, kry jy nie die pos nie. Soms kry jy nie eers die pos nie al is jy die beste kandidaat.

Ek het geleer om elke sent drie keer om te draai.

As jy nie weet waar jou volgende rand vandaan kom nie, is jy aansienlik meer huiwerig om die enigste rand wat jy het te bestee. Ek het besef dat ek gans te graag geld op twak uitgee, dat ek heeltemal te veel dinge koop wat ek nie nodig het nie. Skielik het ek twee keer gedink voor ek daai mooi hemp aanlyn bestel. Ek het eerder kos gemaak as om wegneemetes te koop. Ek het by die huis gin gedrink eerder as om ten duurste by ‘n kroeg te kuier. Op die manier kon ek my rande so vêr strek dat ek kon oorleef tot die dag wat ek weer salaris getrek het (sonder om enige iemand in die oog te moes kyk of te bedel). Dit het my ook hard aarde toe gebring wat salarisverwagtinge betref. Enige inkomste is beter as geen inkomste.

Daar is goeie dae en daar is slegte dae. En dis okay.

Party dae het ek opgestaan met ‘n lus vir die lewe (soortvan). Ek was gemotiveer en gereed vir werk soek. Ek kon glimlag. Daar was ook dae wat ek myself skaars uit die bed kon sleep om ‘n ongesonde peuselhappie te kry… en dan het ek daardie happie in die bed gevat en net bly lê. En dis okay. Ek is nie ‘n robot nie, ek is driedimesioneel en ek mag af-dae hê. Dit beteken nie dat ek moed opgegee het nie.

Meer gereeld as soms is kollegas presies net dit. Kollegas. Verhoudinge word geforseer as jy nege ure van die dag in iemand se bakkies kyk. Dit beteken nie dat dit ‘n vriendskap is nie. Dis ‘n situationship.

Kollegas kan vriende word, dalk selfs amper familie. Ek het ‘n hartsmens ontmoet by my vorige werk (Werner, as jy hierdie lees, dis jy!) En saam met al die trauma van aflegging en werkloosheid is dit ‘n ligpunt wat skyn.

Om verveeld te wees is sieldodend en vrye tyd is gevaarlik.

Mens kan net soveel lees tot jou oë begin skeel trek. Jy kan net soveel televisie kyk tot jy belangstelling verloor. Die speletjies op jou selfoon raak afgesaag. Jou lyf raak seer van op jou derde nekwerwel lê. Om wortel te skiet en ‘n verhouding met jou bank, wat voels soos SABC 1 se “Simunye, we are one” help niemand nie. Ek het geleer dat ek my kop en my hande moet besig hou – op enige denkbare manier. Ek het ‘n sample van aftrede gehad en besef dat ek nog lank nie reg is daarvoor nie. Vir my eie behoud moes ek myself red van dae lank in slaapklere met ongekamde hare en stink asem. Roetine is belangrik. Anders is jy wakker tot lank na middernag en jy lê jou roes en afslaap terwyl jy eintlik iets kon doen om jou situasie te verbeter.

Depressie kan nie alleen gepak word nie. Die swart hond is al vir baie lank ‘n gereelde besoeker – soveel te meer as ek alleen voel. Ek het geleer dat die mense wat vir my lief is en werklik omgee. En ek het geleer om te sê as ek voel of die aarde my insluk. Niemand is sterk genoeg om alleen deur die lewe (of in my geval, deur werkloosheid) te sukkel nie.

Ek het ook geleer dat baie mense werklik net mooiweersvriende is.

‘n Hartsmens is meer as goud werd.

My minnaar het my kop bo die water gehou – nie net omdat hy aangebied het om ‘n finansiële vangnet te wees nie, maar omdat hy daar was. Altyd. Hy het aanhou glo dat  k geholpe gaan raak, aanhou versekering gee dat ek genoeg is. My dankbaarheid vir die mooie mens het geen perke nie.

Geduld. Ek het geduld aangeleer.

As beheervraat was die proses van wag vir terugvoer vir my baie erg. Ek moes aanvaar dat ek net kan doen wat vir my moontlik is – en dan moet ek aanvaar dat die proses uit my hande is. Ek kan nie die HR-afdelings aanjaag nie, ek kan nie die onderhoude skeduleer nie, ek kan nie die besluit van aanstellings namens ander maak nie. Om ongeduldig te raak bring ‘n werklose niks in die sak nie.

Laastens: ek het geleer dat dit gevaarlik is om te veel van jou indentiteit aan jou beroep te koppel. Dis noodsaaklik om as mens los te kan staan van jou werk. As jy niks anders het om oor te praat as wat jy kantoorure doen nie, is jou menswees in gevaar.

Ek sluit af: ek het baie dinge geleer as werklose, maar die belangrikste gewaarwording is dat dit ‘n seëning is om ‘n werk te hê, ongeag wat daardie werk is. Werkloosheid is hel, so hê begrip met die miljoene mense wat daarmee worstel.

 

foto: someecards.com

 

Retrenchments and set backs

1sfk65

For some reason unknown to me, people feel the need to give their two cents (in the most insensitive ways) when someone loses a job.

It’s not like the thousands of job applications (99% of them without so much as a response), the gruelling interviews (all the same mortifying experience), or the fear that my bank account is running on empty is enough of a shit show.

In a country with an alarming high unemployment rate and as a newly unemployed person, I felt it necessary to give these people a little advise on what not to say to me (and others in my horrible position).

“Shoulda, woulda, coulda”

All of a sudden everybody turns into a career councillor with unlimited knowledge about what I was suppose to do to save my own ass. Take note Einsteins: retrenchment does not happen because people are not good at what they do, it does not happen because people don’t fight hard enough for their jobs, it’s not a mirror of you personality or you skill set. Please stop with the “maybe you should have rather done this” or the “maybe you could have tried that”. Hindsight is 20/20 – but in hindsight, nothing i could have, would have or should have done, could have prevented a retrenchment. Please don’t try to direct me on the unsure way forward. If you haven’t found yourself in this exact position, rather keep your “counselling” to your damn self.

“Do you know that other successful people lost their jobs in the past?”

No shit, Sherlock. But I am no Walt Disney, Oprah or J.K. Rowling.  I am Hanri. And from where I am standing now, everything looks pretty crap and the possibility of me becoming a millionaire is non existent.  Would you like it if I pointed out that you will have a dad bod one day, just like Vin Diesel? Or that you will soon be bald, like Prince William? No? Exactly! Do not try to compare me to people who are worlds away from me. Please and thank you.

“Everything will be okay.”

Well how the hell do you know that,  Susan? And okay is not a term that everyone feels the same about. Okay for you is me not starving. Okay for me is me not cancelling my plans to have a social life. Your head is not okay if you think it is okay to tell me that everything will be okay.

“You’ll get another job in no time.”

Well you lovely little clairvoyant wannabe. Have you seen the unemployment rate? Do you live under a rock? Because I know now, better than ever, that a good job is hard to come by. And I know the sins of my ancestors (apartheid) is haunting me (for a very valid reason) and that I am way too white to fill a BEE-position. So no, I might not get a job in to time. In fact: it’s been two months and I am still unemployed.

“Just stay positive.”

Oh why not. I will just ignore reality and my feelings and pretend that this set back is nothing but a nice garden in spring. Or not. I am down in the dumps, I ate that humble pie, I am anxious and depressed. I am not positive. And you being a total jerk will not change me into a positive little princess.

“I wish I could take some time off work.”

Do you? Do you really? So do it then. And after a month, when all your savings are depleted, you spent 8 hours in front of a laptop looking for a position that does not exist, when you watch all the Netflix crime documentaries after 3000 applications were unsuccessful, come back to me.

So here is MY two cents on the matter. Keep your opinion and advise to yourself. Especially of you have never been retrenched. Because you will never know the roller coaster of emotions. You will not feel the stages of grief. You won’t understand the knock to your self confidence or the complete hopelessness of the situation.

And unless you plan on making me a job offer, you will not be able to change the situation.

So until then: Fuck all the way off.

 

Afleggings en gatslae

1sfk65

Vir een of ander onverklaarbare rede, voel mense dis nodig om regtige onnadenkende dinge kwyt te raak as iemand hulle werk verloor.

Dis nie asof die honderde werksaansoeke (waarop 99% van die werknemers nooit reageer nie), die onderhoude (wat almal min of meer dieselfde angswekkende ervaring is) of die vrees dat jou bankrekening gaan leegloop nie erg genoeg is nie.

In ‘n land met ‘n hoë werkloosheidsyfer en as vars werklose, het ek dit daarom goed gedink om vir mense daarop bedag te maak dat daar sekere dinge is wat jy nie vir my (en ander werkloses) moet sê nie.

Die lys is as volg:

“Shoulda, woulda, coulda”

Skielik is almal ‘n loopbaanberader en weet presies wat jy eintlik moes doen om jou eie gat te red.  Aflegging is nie iets wat gebeur omdat jy nie jou werk goed genoeg doen nie, dit gebeur nie omdat jy nie hard genoeg baklei het vir jou pos nie, dit is nie ‘n weerspieëling van jou persoonlikheid nie.  Hou asb. op met die “dalk moes jy eer dit dit gedoen het” of “dalk kon jy eerder dat probeer het”. Dit help niemand nie, hindsight is 20/20 – die dat hierdie hindsight my werk sou red nie.Moet ook nie vir my voorskryf hoe ek die onsekere pad nou moet benader nie – veral nie as jy nog nooit in dieselfde boodjie was nie.  Waar bly jy? Jy bly stil!

“Jy weet ander suksesvolle mense het ook al hulle werke in die verlede verloor.”

No shit, Sherlock. Maar ek is nie Walt Disney, Oprah of J.K. Rowling nie. Ek is Hanri. En hier waar ek in kakstraat sit lyk die moontlikheid van miljoenêr word baie skraal. As jy nie wil hê ek moet uitwys dat jy, net soos Vin Diesel, eendag ‘n dad body gaan hê of soos Prince William gaan bles word nie, moenie my vergelyk met mense wat ek nie in my wildste drome sal ontmoet nie. Asseblief en dankie.

“Alles gaan okay wees.”

Wel hoe die moer weet jy dit, Susan? En okay is ‘n relatiewe begrip. Wat vir jou okay is, is nie vir my okay nie.

“Jy gaan vining weer werk kry.”

Ek het nie geweet jy is verwant aan Siener van Rensburg nie. Het jy al die werkloosheidsyfer gesien? Of woon jy onder ‘n klip? Want ek weet (nou beter as ooit tevore) dat werk skaars is. En ek weet dat my voorvaders se sondes (apartheid) my nou straf en dat my vel nou witter as gewoonlik voel met BEE-poste (wat ek heeltemal verstaan) wat geadverteer word. So nee, daar is geen bewyse dat ek vining gaan werk kry nie.

“Bly positief, moenie laat dit jou onder kry nie.”

Ag, hoekom dan nou nie. Ek gaan maar net my gevoelens en die gatslag ignoreer en vrolik en vars soos ‘n lenteblom voel. Of nie. Onder? Ek is reeds onder. Nie net moes ek die humble pie herkou soos ‘n koei nie, maar die swart hond loer oor my skouer en dreig om my saam te sleep na ‘n donker depressie. Om positief te bly is nogal moeilik en ek dink nie jou “wyse” woorde gaan dit in my ontketen nie.

“Ek wens ek kan my werk los en bietjie af-tyd he.”

Nou doen dit. En kyk dan na ‘n maand hoe dit voel as jou spaarrekening net so min aksie soos die platteland het en jy vir 8 ure lank swak Netflix-shows gekyk het omdat nie een van die 3000 werksaansoeke wat jy sedert Desember doen suksesvol is nie. Ook #toosoon!

So hier is my raad: as jy nog nooit self deur ‘n aflegging is nie, nog nooit self werkloos was nie, moenie jou eier lê nie.

Jy verstaan nie die warrelwind van emosies wat ek (en my oud-kollegas) tans ervaar nie. Dit voel of jy deur die fases van rou gaan. Jy ontken dit eers, dan is jy kwaad en dan voel jy moedeloos. Tussenin is daar paniek, vernedering, verlies, ‘n knou aan jou selfvertroue en vele meer.

En tensy jy vir my werk kan aanbied, gaan jy niks aan die situasie verander met jou ongevraagde raad nie.

 

Emigrasie en skeidingsangs

images

Ek dink ek het skeidingsangs. Nie omdat my ma my alleen gelos het as baba of kleuter nie. As vrou van 32 het ek skeidinsangs omdat my vriende op ‘n ellelange streep emmigreer. Een na die ander moet ek totsiens sê, meubels oorkoop, afskeidpartytjies bywoon. En daarom, na vele van hierdie aaklige gebeurtenisse, kan ek presies verduidelik wat gebeur as jou hartsmense besluit om Europa of elders heen te verkas.

Eers kry jy oordrewe vertroue in jou oorredingsvermoë. Dalk, net dalk, kan jy jy hulle oortuig om te bly. Spoiler alert: jy kan nie.

Dan maak jy of jy sterk is, jy sluk jou trane en probeer om gelukkig te wees en saam met hulle opgewonde te wees oor die avontuur wat hulle (sonder jou, hoe durf hulle?) gaan hê.

Dan raak jy soos ‘n stage five clinger. Jy probeer elke moontlike sekonde saam met hulle deurbring. Jy praat te veel, drink te veel wyn, kry te veel dronkverdriet. En jy weet, die ding van te… niks wat “te” is, is heeltemal lekker nie. (Behalwe natuurlik TE perd, TE voet en tieTE).

Dan begin jou kop vêr draaie stap. Wie gaan in jou kamp wees as jou beste mense in ‘n ander land sit? Wie gaan altyd aan jou kant wees? Na jou simpel stories luister? Jou nie oordeel omdat jy so extra is nie?

Dan besluit jy om hulle steeds in jou kamp te hou.

Jy werk ‘n rooster uit. Jy besluit op dae wanneer daar ge-video-bel gaan word. Jy kom ooreen om minstens een keer per dag (of elke 60 sekondes) in te loer. Spoedig besef jy dis amper onmoontlik, want die lewe gaan aan.

Daarna begin jy wonder hoe jou naweke sonder jou mense gaan lyk. Geen markies nie, geen gin op die patio nie, geen wyn en smokes of dagdronk nie. Jy oordoen dit. Alweer met die “te”, maar jy gun jouself dit. En die blote gedagte aan nuwe vriende (probeer) maak is absoluut angswekkend.

Die dag breek aan. Jy moet groet. Dit voel of jou hart in jou hol sit en jou hol in jou keel.

Sodra jy tuis is na die groot vaarwel spring jy aan die werk. Jy moet immers jou eerste kuier by jou beste mense in die buiteland beplan. Jy besef (opnuut) om te reis is doosduur. Jy is ongemaklik bewus van jou eie armoede.

Jy begin aanvaar dat die mens vêr is – en dat die tydsverskil ‘n pyn in die gat is (aangesien wiskunde nog nooit jou sterk punt was nie). Dan gebeur daar dinge in jou eie time zone wat jy regtig met hulle wil bespreek. En dan is jy die hoppende fok in as jy besef hulle slaap nou. Of het ‘n lewe sonder jou.

Video-oproepe word jou behoud – ongeag die feit dat jou selfoon se angle op die koffietafel vir jou ‘n dubbelken gee wat jou na ‘n aartappel laat lyk. Dan skop die ergste verlange in en jou hart pyn. Die pyn vererger as hulle vir jou vertel van die nuwe vriende wat hulle in die nuwe land maak.

Jou ander vriende, wat steeds in dieselfde land as jy is, word die moer in vir jou omdat jy alewig op jou foon is om jou vêr-vrinne op die hoogte van elke sekonde van jou lewe te hou. Jy besef jou vinger en foon is besig om evolusie te veroorsaak met ‘n duik in die pinkie en ‘n plat voorvinger van al die swipe. Dan gaan stalk jy hulle maar op social media elke aand as jy eintlik moet slaap.

En dan.. dan sien jy hulle weer.

O, die vreugdevure brand. Dit jubel en juig en vier fees. Jou hart loop oor van liefde en blydskap en dit voel asof julle nooit weg van mekaar was nie. Jy besef dat dié vriende regtig vir ewig is.

Maar dan vlieg hulle weer weg.

En die proses begin van voor af.

 

 

 

Langtermynverhouding…

funny-relationship-comics-dating-38-58526aeb5aecb__700

Ek is nie ‘n kenner as dit by romantiese verhoudings kom nie. Veral nie verhoudings wat langer as ses maande hou nie. Intendeel, hierdie is my eerste verhouding sedert my universiteitsjare wat so lank hou. Toe was ek verslaaf aan die onsekerheid en die aandag uit alle oorde.

Maar na twee jaar sit dieselfde man nogsteeds ‘n glimlag op my bakkies en my hart is nou gelukkiger as ooit. So ek reken ek kan nou al so ‘n paar van die tekens uitken dat ek (uiteindelik) in ‘n gesonde (lang) verhouding is.

Travel is meer pret as my minnaar saam met my gaan. Ek was altyd ‘n groot voorstander van alleen-reis. Ek is dit steeds. Dit is heerlik! Maar nou verkies ek dit dat die minnaar saamgaan. Ek wil nie ‘n tassie pak as sy tas nie langs myne lê nie. (Skeidingsangs is real, julle!)

Om alleen te slaap is nie meer so lekker nie. Ja, ek het vir 30 jaar soos ‘n seester, uitgespan oor my bed, gelê. Dit was fantasties. Maar nou verkies ek my “groot-lepel”. Veral in die winter. En al snork die groot-lepel soos ‘n trekker. As hy nie langs my slaap nie soek ek die hele nag nag na hom. En soos ‘n loser hou ek dan die kussing vas want dit ruik soos hy. (Verhoudings laat mens lyk asof jy in ‘n Alanis Morissette-musiekvideo speel.)

Iemand anders se mening maak saak. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek doen (soos nog altyd) net wat ek wil. Maar om nou uit my minnaar se mond te hoor “jy lyk mooi” of “ek hou van jou hare so”, laat my erg lekkerkry.

Ek hoef nie meer alleen scary movies te kyk nie. En daar is iemand wat altyd op dieselfde episode van ‘n series is as ek.

‘n Regte slegte dag, kan beter word. Ek kan soos ‘n ondier die huis binnestorm, my handsak op die vloer neersmyt, sug, bitch en moan… en dan gee hy ‘n drukkie en ‘n kopie koffie of ‘n bossie blomme en die sorge is sommer ligter.

Ek het altyd gedink ek gaan moeg raak om elke dag aan dieselfde man te vat. Ek doen nie. Ek hou steeds net so baie daarvan soos toe ons verhouding net begin het. Ek hou dalk selfs meer daarvan omdat ons gemaklik is met mekaar. Sy ore is steeds net so flippen adorable! Niemand se nek ruik so lekker soos syne nie. Ek ken al die kielie-spots.

En verskoon die cliché, maar absence really does make the heart grow fonder. Jissie, is ek vir jou opgewonde om my minnaar te sien as hy vir ‘n paar dae weg was.

Hoe langer die verhouding, hoe beter die geskenke. Feit. Hy ken my nou so goed dat hy presies weet waarvan ek hou en wat ek nodig het. Ek is mal oor my horlosie en ek het regtig daai oorfone nodig gehad (vir die trekker, jy weet).

Ek ken hom veel beter as die meeste mense. Dit verskaf vir my eindelose genot as mense na hom verwys as “introvert” of “stil”. Want ek ken die danspassies en grappies as dit net ek en hy is. En dis lekker dat net ek daardie kant van hom sien en geniet.

Na twee jaar kan ek dit steeds regkry om my minnaar skaam te maak. Okay, ek bieg, hy skaam hom gewoonlik vir my, maar steeds. Om sy boud te knyp in die openbaar en die sogenaamde “idiot smile” op sy gesig te sien maak my so gelukkig!

Selfsug word (gedeeltelik) uit die weg geruim. Al het ek die sjokolade vir myself gekoop, gee ek steeds vir hom die laaste blokkie. Al is ek so lus vir my doggy bag se inhoud, kry hy steeds ‘n happie.

En ja, my enkellopende status was toe nou nie so chronies soos ek gedink het nie. Nou is ek die sweetpakbroek van ‘n man se lewe. Dis gemaklik en warm en lekker en op ‘n eiesoortige manier baie sexy.

Daar was toe iemand wat my kon oortuig om verhoudings ‘n behoorlike kans te gee. En daar is iemand vir wie ek elke dag lief is sonder om moeg te word vir sy teenwoordigheid.

Foto: Sarah Andersen on Bored Panda

Nie almal hoef van my te hou nie.

Bl9VWj1CUAI2T4h

Ek het myself nog nooit as ‘n people pleaser gesien nie, maar dis nie ‘n lekker gevoel as jy deur die skinderstories moet hoor hoe ‘n moeilike mens jy is nie (ek dink die woord wat gebruik is om my te beskryf was kak…).

Vir ‘n paar dae het die gedagtes in my kop gemaal, ek het gewonder wat presies ek dan nou so verkeerd gedoen het dat ek die agter-af-skinderpraatjies verdien het.

Ek het selfs gewonder of dit waar is.

En toe besef ek: Dit is, vir daardie persone, die waarheid. En dit is reg so.

Wat ander mense van  my dink het tog eintlik niks met my uit te waai nie…

My lewe lank het ek al die kuns bemeester van ‘n voel-fokol-houding, en dis gewoonlik ons wat die meeste insecurities wegsteek.

Dit het my 32 jaar (‘n paar vetrolle, lagplooie, fronsplooie en krom tone) geneem om uiteindelik te besef dat almal nie van my gaan hou nie, en dat dit okay is.

Dat daar mense is wat my (baie naby aan) haat. En dis fine.

Daar is mense wat nie van my hou nie omdat ek te eerlik, uitgesproke en (soms) tewerig is.

Daar is ander wat dink ek is te loud, ongeskik en my menings is te sterk.

Ek lag te veel, praat te veel, vloek te veel.

Ek is te wit, te liberaal of nie liberaal genoeg nie, te gelowig of nie gelowig genoeg nie.

Ek is nie suksevol genoeg nie, ek is nie mooi  genoeg nie, nie maer genoeg nie.

Ek is te emosioneel en ek is te onemosioneel.

Ek is te sterk. Ek is te swak. Te veel van hierdie en te min van daardie.

Ek neem kennis.

Ek is deeglik bewus van my swakpunte.

Julle hou nie van my nie weens verskeie redes.

En uiteindelik weet nou ek : dit is in die haak.

Nie almal hoef van my te hou nie.

Ek reken dis menslik om te wil hê ander moet van jou hou.

Maar dis ook menslik om nie van almal te hou nie.

Dis so ingewikkeld en so eenvoudig soos dit.

Ek gaan nie verander net om hierdie mense wat nie van my hou nie, se opinie oor my te probeer verander nie. Ek gaan nie. Ek kan nie.  Ek wil nie.

Ek wil eiesoortig wees en my Hanri-wees behou.

Die oomblik toe ek besef het dis okay as nie almal van my hou nie het daar ‘n paar dinge gebeur.

  1. Dit was dadelik vir my makliker om eg te wees met myself (in Engels klink dit beter… be true to myself). Ek tree nie op vir ‘n gehoor van kritici nie, hierdie is my lewe en my maniertjies. Dit maak my wie ek is en ek wéét wie ek is.
  2. Dit gee vir my die mag om nee te sê. As iemand minder van my hou omdat ek verkies om nie op ‘n skoolaand jolig te verkeer nie, dan is dit okay. As ek nie saam met jou skreeuende kroos wil uithang nie, en dit veroorsaak dat jy minder van my hou, is dit ook okay. And so on and so forth.
  3. Ek is gemakliker met wie ek is. Ek hoef nie te maak of ek iets anders is net omdat ek wil hê iemand moet van my hou nie. As ek die moer is in, dan sê ek so. As ek nie saamstem nie, dan sê ek so. En as ek dink jy is aaklig, gaan dit op my gesig geskryf staan, al sê ek niks.

         My face needs deliverance.

  1. Om nie om te gee wat ander van my dink nie, gee vir my ook meer vryheid om deernis met ander te hê en te toon. Maak nie saak of die mense om my dink iemand verdien my deernis nie.
  2. My tyd word baie meer produktief bestee. Eerder as om heeldag te tob oor “hoe kak ek is”, kan ek nou aan dinge ding wat my aandag verdien. Ek mors ook nie tyd om ander te beïndruk nie.
  3. Ek glimlag meer. Dalk omdat ek weet hoe fake sekere mense is en omdat hulle nie weet dat ek weet nie. Dalk omdat ek in die algemeen net gelukkiger voel omdat ek besef het dis fine as nie almal van my hou.

Nie almal hou van my nie. Maar raai wat, nie almal is belangrik vir my nie en om eerlik te wees, ek hou ook nie van almal nie.

Ek het iewers gelees dat jy ‘n oraait mens is as 85% van die mense wat jy teekom van jou hou.

Ek weet nie of ek heeltemal daar is nie, maar ek reken ek het genoeg mense in my lewe wat wel van my hou.

En die res? Hulle kan my emosionele eiers suig.

Grilgatte en gewoontes

when-i-see-all-my-weird-habits-rub-off-on-my-friends-123803

Soos almal wat my blog lees teen die tyd al (hopelik) weet: is ek in ’n verhouding.

Yup. Al vir meer as ’n jaar met dieselfde (wonderlike, obviously) man.

En in die jaar het ek baie van myself geleer.

Nie noodwendig omdat hy dit uitlug nie (hoewel hy dit soms ook doen), maar ook omdat iemand wat vir 30 jaar chronies enkellopend was nie juis ag slaan op hulle gewoontes nie.

En aan vreemde gewoontes het ek nie ’n tekort nie.

Maar as jy baie tyd saam met iemand bestee word hulle blootgestel aan die gewoontes en mag hulle dalk sien dat jy eintlik ’n grilgat is.

Die idee vir dié bloginskrywing het so rukkie terug by my pos gevat toe ek op die bank sit en eet… in my nagklere… met my voete altwee op die bank.

“Wat doen jy?” My minnaar staan in die kombuis en staar na my.

Ek voel soos ’n kind wat op heterdaad betrap is terwyl ek besig is met kattekwaad.

Ek kyk af en besef dat ek die rooiworsie eet.

Nie eet soos wat ander mense eet nie, maar op my eie manier eet.

Dit beteken die “velletjie” op elke sy van die worsie word met my voortande afgeknaag. Dit laat die rooiwors misvormd en amper naak voorkom…

En dan vat ek klomp klein happies tot my kieste volgestop van die rooiwors is.

Nooit het ek eers twee keer hieroor gedink nie – tot iemand vir my gekyk het terwyl ek dit doen.

En kom paastyd gaan hy dieselfde sien met elke paaseier wat ek in die hande kry.

En toe die kwik net duskant die hel gedraai het en ek die waaier op ons wil sit, besef ek dat daar nog ’n gewoonte is.

Die hoop klere op my spieëlkasstoeltjie.

Dis te vuil vir die kas, te skoon vir die was, so dit eindig op die stoel.

En toe op die grond want die waaier moet op die stoel.

En ek het skaamteloos die volgende oggend daai einste bra van die vloer af opgetel en aangetrek…

Dit nadat ek my nagrok uitgetrek het.

 

Ja, jy lees reg, ’n nagrok.

Nie ’n stywe, sexy ene van kant nie.

Nee, daai soort rol op om jou middellyf en laat jou boude soos uitgerysde boerbrode die volgende oggend uitsteek terwyl ’n tepel ook sy verskyning maak deur die loop van die nag.

Nee dankie.

Ek praat van ‘n propperse nagrok. Een wat soos ’n baie groot T-hemp lyk, maar langer is en hase op het en wie se teikenmark tien teen een ou tannies is.

My minaar verwys daarna as “jou groen lap”. Want dis vormloos en lelik, maar dit voel soos liefde.

Dan is daar inkopies. Ek het jare laas ‘n inkopie-lys gemaak. En ek is veronderstel om dit te doen. Want ek gaan altyd om een item te koop. Dan los ek die trollie of die mandjie. Tien minute later stap ek soos ‘n wafferse akrobaat na die kasregister met 4 blikkies opgestapel bo-op ‘n brood en ‘n pak skyfies wat ek tussen my tande vasbyt en ‘n toiletrol onder die arm.

Net om by die huis te kom en te sien daar is reeds 100 toiletrolle.

En dan te besef dit wat ek eintlik moes koop het op die winkelrak agter gebly.

Daar is min dinge so lekker soos om langs ’n geliefde wakker te word nie.

Behalwe vir die feit dat ek soos ‘n nagmerrie lyk as ek wakker word.

My enigste drie hare staan in sewe rigtings, ek het ernstige poepoog en my asem ruik asof ek deur die nag aan die toon van ’n lyk gesuig het.

Boonop is ek beneuk.

Maar wat die wakker word lekker maak is as die minnaar eerste wakker word en ek daarom wakker word met die reuk van koffie wat die monster onmiddelik meer mens maak.

Ek kan nie mens as ek nie eers koffie nie.

Ek is letterlik nie mens nie. Ek grom en brul en kreun en kerm. Tot ek die eerste sluk koffie gevat het. Dan is alles beter.

Mens sou dink as vrou van oor die 30 (meer as 365 jaar oor dit) sou ek weet om my yskas vol lekernye te hou. Ek weet, maar ek doen dit nie.

Daar is klomp random goed daar binne (ek kan nie bevestig of ontken dat dit groen word nie) en die laai is waarheen komkommers gaan om vrot te word.

Tog is my yskas ‘n toonbeeld van volwasse wees elke nou en dan.

En met nou en dan bedoel ek as my ma kom kuier.

Die minnaar het lekker in sy mou gelag toe hy sien hoe my ma stapels vol gevriesde maaltye wat sy met liefde gemaak het uitpak.

Ek oefen, nie soveel omdat ek wil mooi wees of maer wees nie.

Maar omdat ek ook ‘n depressie-monster is as ek dit nie doen nie.

Tog hoop ek dat die mooi en maer saam sal kom.

Daarom is ek elke keer telleurgesteld as ek na 5 squats in die spieël kyk en my boude lyk soos vetkoekdeeg eerder as soos staal.

Ek wil nie eers weet wat deur die minnaar se gedagtes gaan elke keer as hy moet “voel hoe styf is my maagspiere is” nie.

En daar is nie veel spiere nie.

Daar is ‘n rol.

Maar hy speel saam en maak elke keer asof ek ‘n kragkoei is en ek waardeer hom vir die genade.

Ook het ek onlangs (soos die ou tannie in my hart) die vreugde van Dischem-skoene ontdek.

I shit you not.

Ek en my bejaarde moeder koop nou by dieselfde plek skoene. En ek dra dit skaamteloos en giggel vir die jonges wat soos pasgebore kalfies op hulle hakke probeer beweeg.

En die minnaar het ook daaroor gegiggel – maar darem keel skoongemaak en verduidelik dat hy verstaan.

Wat hy nie kan verstaan nie, is hoe baie ek vir oksels gril. Armholtes. Armpitte. Noem dit wat jy wil.

Dis vir my die aakligste deel van die liggaam met geen ander doel as sweet en hare groei nie.

Ek wil ‘n paniekaaval kry as iemand nader kom om my te druk en hulle is langer as ek. Want ek sien daai sweetkol nader kom en ek wil hol.

Hierdie grilgat-gewoonte verskaf vir die minnaar wel genot.

Veral as ek my lê probeer kry en hy druk sy vinger daarin.

Dis ook die maklikste manier om ‘n onderwerp te verander.

‘n Paar ander gewoontes waarvan ek deeglik bewus geword het (of bewus gemaak is) oor die afgelope jaar:

Die baba-poeier wat ek tussen my bo-bene gooi om die gevreesde chub-rub te voorkom.

Die aantal kere wat ek Vaseline op my lippe smeer.

Die feit dat ek elke dag (soms 2 keer per dag_ van my kroon tot my toon met baba-room smeer.

En dan my pote weer smeer as ek in die kooi klim.

Ek gooi eers melk by my koffie en dan warm water.

Ek noem my binne-been-vet ‘n “privaat-frikkadel”.

Ek het steeds ‘n vrees vir die groen-enkel-gryper en daarom moet my bed tot teen die grond kom en geen spasie hê vir iemand om daar weg te kruip nie.

Ek het regtig baie cheese grillers. En cheese griller pies.

Ek drink meer water as die deursnee mens.

Ek luister slaapstories. Soos ‘n 10-jarige.

My onderlip doen snaakse goed (soos word langer, korter of gebyt) as ek konsentreer.

Ek kan enige baba laat glimlag en/of slaap.

Honde en katte sal altyd by my kom sit.

Ek gril nie vir bloed nie. Ook nie harsings of derms nie. Maar snot. Ek kan nie cope met snot nie.

Hier is die verkorte weergawe van al die dinge wat van my ‘n grilgat maak.

Daarom gee ek ‘n shout out vir my minnaar wat al vir ‘n jaar daarmee uithou.

En ook vir my ouers en sibbe wat dit vir 18 jaar gesien het en vir my lief gebly het.

 

Foto: memeguy.com

Ek was Hanri Wondergem vir SAUK Nuus

collagefd_s

Augustus 2018 is ‘n winderige maand, in die Goudstad is daar vier seisoene in ‘n dag, die bome staan kaal en die stof laat alles asvaal lyk. Dis in die meeste opsigte net nog ‘n Augustus soos die 31 ander wat ek al beleef (en gehaat) het. Maar wat hierdie Augustus anders maak, is dat dit die laaste maand is wat ek in diens van die openbare uitsaaier staan.

Ek moet self daai laaste sin meer as een keer lees, al het ek hom self geskryf. Want na so ampertjies ses jaar, een tiende van ‘n Krugerrand, snot, trane, spanning, pret, plesier, mikrofone, vreemde luisteraars en vreemder kollegas roep ek die SAUK vaarwel.

‘n Nuwe uitdaging wag op my. Dis vreesaanjaend, angswekkend, bekotsingswaardig en soveel meer – maar soos my huidige baas vir my sê (nadat sy gesig eers wit en toe rooi en toe pers geword het met die nuus van my bedanking): “There is no growth in a comfort zone.”

Maar genade, dit word ‘n comfort zone geroep vir ‘n rede. Dis gemaklik. Maar ek sal die gemak (en genadiglik die vroegskof) vir eers laat staan. Want groei moet ek groei. Maar nie voordat ek eers dankie gesê het nie.

‘n Wyse mens (soos gewoonlik is dit my ma) seg altyd: “Oral waar daar mense is, is daar maar ‘n hopie stront.” En in die nuuskantoor is daar nie ‘n hopie stront nie, dis sommer ‘n berg kak met ‘n rioolrivier. Maar die hemele hoor my, vir die klomp mal mense is ek so lief en by die “poefplaas” (dis die mooi weergawe, aanvaklik was daar ‘n “s” waar die “f” staan) het ek meer as baie geleer.

Dieselfde kollega wat my eenmaal met ‘n pak batterye gegooi het, het my later geleer van verdraagsaam wees, geduld he en luister om te hoor, nie om te antwoord nie.

Die kollega wat my al mal gemaak het met die daaglikse aanval op haar sleutelbord en vrees vir tegnologie, het my al opgebeur met ‘n bad-bederf op die dae wat ek dit die nodigste gehad het.

Daar was onvanpaste oomblike, soos toe ek en ‘n kollega besluit het om ‘n voorbladfoto vir die sexual harassment handleiding te neem, gevolg deur ‘n dronk aand waarin die einste kollega sy diepste seer kon deel – weg van die onvanpaste grappe.

Daar was vele buite uistendings waarby ‘n kollega saam met my gelag het omdat ons niks weet van kwaliteit whiskey nie, ons het eers vriendinne en toe vrienginne geword.

Daar was ‘n bekgeveg wat (volgens ooggetuies) gedreig het om bloedvergieting te word, maar ‘n drukkie die volgende dag en daarna gereelde boodskappe wat oorstroom van omgee.

Daar was die kollega wat nooit met my gepraat het nie, maar onlangs begin het om my skouer ‘n bemoedigende drukkie te gee – en ek weet nou nog nie of die einste kollega eers weet hoe baie haar skouerdrukkie op my donker dae beteken nie.

Een kollega het onlangs eers by die span aangesluit, maar dadelik vir my ‘n “mammie” geword wat verstaan as ek my kuite pof en deel as haar eie gat op ‘n krul trek.

Daar is die kollega wat my al vir jare “’n bier” skuld, en jaarliks die skuld so bietjie minder en dan weer bietjie meer maak – en dan ook altyd reg staan met raad as ek karprobleme en kopkrappers het.

Daar is ‘n kollega wat my so baie leer, sonder dat hy dit besef, omdat hy soos roepman vreemd is, maar die wysheid van die oudste uil in die donker woud van sy denke dra.

Daar is ‘n kollega wat my hartsnare roer maak met die kwesbaarheid van sy eie hart en dan laat skaterlag met sy lekkerbekmanier van stories vertel.

Ek word elke dag herinner dat mens vir ander mense ‘n plekkie in die son moet gun. Een van die kollegas se laggende gesig is elke dag vir my ‘n reminder dat ek op die aarbol is om klippe uit ander se pad te rol.

Daar is die aanvanklike kantoor-baba wat voor my ontwikkel het in ‘n puik joernalis en mooie vroumens, wat nie ‘n bose-haar op haar hoof het nie.

Ek het gesien hoe ‘n ander kollega van ‘n kind na ‘n vrou ontwikkel met die geboorte van haar seuntjie en hoe dapper ‘n enkelma kan wees.

Ek het ure se stories oor koekbak en kospryse en die geskiedenis van radio aangehoor.

Dan is daar natuurlik die kollegas wat al voor my die pad gevat het wat ook elkeen op hulle manier ‘n merk gemaak het op my lewenspad. En selfs vriende geword en gebly het, lank nadat hulle die kollega-rol agtergelaat het.

En soveel soos wat ek dankbaar is vir elke geleentheid by die SAUK, elke keer wat ek iemand se storie kon vertel, elke keer wat ek in die aanbieder- of redakteurstoel gaan sit het, elke keer wat ek agter ‘n mikrofoon ingeskuif het… soveel meer is ek dankbaar vir die mense wat my geleer het van mens wees.

Met die twee weke oortyd wat ek met my pliggie-maniertjie opgebou  het sal ek binnekort vir oulaas “Hanri Wondergem vir SAUK nuus” wees. Maar altyd terugkyk met liefde in my hart, ‘n traan in my oog en vele lesse geleer.

Nou weet ek eers wat “love-hate-relationship” beteken.

En al wat mens dan tog kan sê is dankie vir die kleurvolle karakters wat die grys dae onwetend opgehelder het.

collagefd_s

Welkom, lief-dierbare Winter

download (1)

So… die winter is (uiteindelik) hier.

Toe ek (verlede jaar al) 30 tref, het ek besef die somer kom met uitdagings. Hierdie jaar is ek ’n paar kilogram swaarder en die uitdagings van die sogenaamde lieflike maand van somer, word net meer.

So daarom, met my serpie om die nek en my jas wat alles wat dril en hop en skud toemaak, het ek besluit om my somer-irritasies neer te pen.

Ek dra nie sommer iets wat my kuite wys nie. Bloot omdat ek nie kuite het om te wys nie. Maar ek is mal oor lang rokke. Ongelukkig is my bobene ook deesdae mal oor mekaar. My ma verwys daarna as my “privaat frikkadel”. Daai vet dele van die binnebene wat teen mekaar skuur soos twee tieners wat binneboud by die skoolsokkie dans. En dan kom die vreesaanjaende “chub rub”. Wrywing, jou ou teef.

Weens die “chub rub” het ek toe besluit om maar kortbroeke te gaan aanpas. Ek het baie vinnig besef dat kleremakers die “kort” in kortbroek baie letterlik opneem. Die meeste van die broeke het nie eers my boudflappe toegemaak nie. Die ander was net ‘n asemrowende tentoonstelling van my lemoenskilvelle. Die res kan ek eerder as belde dra. Daarom terug na rompe en die frikkadel-wrywing.

Rokke en wind is vrinne, blykbaar. Want elke keer wat ek ‘n rok of romp dra, is daar ‘n mannetjieswind wat my nooit genoeg tyd gun om vas te hou nie. Die uiteinde is ‘n blosende Hanri wat haar wasgoed-dag-onderklere (ja,ja, almal het die ou onderklere met die blomme en rek wat nie meer kan rek nie wat hulle dra as niks ander skoon is nie) probeer bedek met haar lunchbox.

Dan die beenhare. Dis glo vir baie vroue ‘n probleem. Veral as hulle kortbroeke of kort rompies dra. Vir my is dit ‘n probleem as my minnaar besoek aflê of ek moet swem. Dan kom ek tot die skokbesef dat dit somer is en dat my bene ten toon gestel gaan word en dat die mooie man daaraan gaan vat. Die uiteinde is Hanri wat oor die bad se rand hang, haar droeë bene met ‘n stomp lem skeer en dan sulke rooi kolletjies (wat brand soos ‘n kool vuur) op die non-existent kuite rock.

En dan – terwyl ek oor die bad se rand hang om die swart woud van die bene af te verwyder, vererg ek my vir myself omdat ek die belaglike verwagtinge van vroue om so glad te wees straf navolg. Ek wonder hoekom ek nie my beenhare toelaat om, saam met my romp, in die wind te wapper nie.

Maar dan onthou ek hoe lekker dit is om met gladde bene tussen skoon lakens in te gly. En dan doen ek dit maar volgende week weer.

Elke somer beloof ek plegtig om by die waks – groei- waks roetine te hou. Want dit maak ingroeihare minder. Maar dan onthou ek dat ek arm is en dat ‘n waks duur is. En ook seer is. So dan herhaal ek net die aaklige skeer-roetine (ook, want harverwyderingsmiddels ruik soos ‘n drein).

In die somer besluit ek altyd dat ek mooi gaan lyk met ‘n sonhoed. Dan koop ek een. Want die meisies van Instagram lyk so cool. Dan wil ek nog een koop. Dan besluit ek dat ek ‘n hoed-mens is en dat elke hoed wat ek op my kop plaas my soos ‘n mode-godin laat lyk so ek moet alles koop. Dan lê dit in my kas en stof vergaar want niemand lyk regtig goed met ‘n sondhoed nie (behalwe natuurlik die meisies van Instagram).

In die somer is dit ook moeilik om die binne-buite-balans te kry. Die binne in die kantoor teenoor buite in die somerson balans. Dan trek jy jou somershempie aan met jou nuwe, kant bra. En dan stel iemand die lugverkoeling op -1 en jy loop rond met tepels wat as coat racks gebruik kan word. En mense staar.

Omdat mense staar gaan koop ek toe die goedkoopste truitjie wat ek kan kry. Die trui hang dan die hele somer oor my ruglening want ek vergeet dit daar en ek het my les van die tepels geleer op dag 1 van -1. Maar ek het nie my les hard genoeg geleer nie. Want ek het net rokke gekoop vir die somer. Maar die verdomde lugverkoeler dwing my om elke dag met ‘n jean te werk.

En daar is dan ook niks warem as daardie einste jean as jy by die kantoor uitstap nie.

Ek weet nie of ek alleen staan nie, maar ek het al menigte mental break downs in aantrekkamers gehad. Amper elkeen van hulle as ek swemklere aanpas. Dis aaklig. Maak hulle alle swemklere vir vroue wat nie borste het nie? Of wat strykplankboude het? Want dit voel so. En dit bedek nie die dele wat ek wil bedek nie. En dit het toue en stringe en voue en dinge wat slegs ‘n dieselmotorwerktuigkundige sal kan uitfigure.

En is ek die enigste mens wat vassit aan ‘n plastiekstoel in die somer? Dis asof my sweet insmelt en deel word van die stoel en dan moet ek alle velle aftrek in ‘n poging om op te staan. En as ek dan weer gaan sit klap daai privaatfrikadelle teen mekaar so asof ek ‘n lekker handeklap kry vir my vet wees.  En as ek dan weer opstaan is daar holsweet. I kid you not. ‘n Definitiewe lyn van my spleet op die stoel.

En kan iemand asb vir my sê of ek my sonroom onder of bo-oor my onderlaag moet opsit? Want ek kan nie sonder een van die twee nie.  Ek brand rooi en seer en goudbruin is nie vir my beskore nie. Ek kan ook nie sonder dry shampoo nie. Want in die somer is my hare soos ‘n oliebol wat op my voorkop vasgeplak word.

En dan: my ergste somer vrees… die kombinasie van sand, nat swemklere en ‘n vagina. Dis net die ergste ooit.

En dis ook die hoofrede vir my om veel eerder ‘n winterdier te wees.

 

foto: beckybarnicomics

Die beste raad

 

marie

Die beste raad wat ek nog ooit gekry het, was toe ek ‘n wipgat 17-jarige was. Die wat my ken, weet waar ek vandaan kom. Vir die wat nie weet nie – ek het op Swartruggens groot geword, ons was 19 matrieks is totaal. Nou hoekom dit van belang vir hierdie skrywe is, sal jy spoedig uitpluis.

Net ‘n handjievol van die matrieks van 2005 het Natuur- en Skeikunde as vak geskies. Met handjievol bedoel ek letterlik soos miskien 5.  Die res is almal Bedryfsekonomie toe. Omdat die skool so klein was, is kinders van alle vlakke van verstaan, in een klas gesit. Ek sê nie ek is ‘n akademiese reus nie, maar ek was my lewe lank ‘n onderskeidingskandidaat. Dieselfde het gegeld in die Skeinat- (soos ons daarna verwys het) klas.

Die uiteinde was dat ek (as onderskeidingskandidaat) soms baie gefrustreerd geraak het as ek moet wag tot die skuur-deur-dat-my-gatvelle-aan –die-draad-sit-kandidate die werk verstaan. As ek terugdink besef het dat geduld nnie my sterkpunt was nie en dat ek eintlik bietjie onredelik en onnodig was teenoor die kinders wat op ander vlakke as akademie presteer het.  Maar nietemin – ek was ongeduldig.

My Skeinat-juffrou was ‘n bejaarde vrou. Maar nie sommer enige vrou nie. Sy was my ma se beste vriendin en jare lange vertroueling, amper ‘n mentor. Ek het voor haar groot geword en ek was vir haar lief as Juffrou Botha, maar ook as Tannie Marié.

So sit ons eendag in die klas en die Fisika maak sommer dadelik vir my sin. Die ongeduld skop in. Ek vra vir Juffrou Botha of ek nie maar kan aangaan met my werk nie. Juffrou Botha antwoord, sonder om te kwaai te wees: “Nee, jy moet maar geduldig wag tot almal verstaan en klaar is met die vraag.” Wipgat Wondergem vererg haar en sê: “Maar dis nie regverdig nie!”

En daar kom die beste raad wat ek al ooit gekry het toe.

“Hanri, wie het dan ooit vir jou gesê die lewe is regverdig?”

As 17-jarige het ek nie die volwassenheid of lewenservaring gehad om dié raad werklik te waardeer of te verstaan nie.  Vandag verstaan ek dit aansienlik beter. En dit bly my altyd by.

Want die lewe is nie regverdig nie. Daar is sekere onregverdighede wat mens kan aanspreek, ander moet jy net aanvaar en laat gaan.

Vanoggend sit ek weer en dink hoe onregverdig die lewe soms kan wees. Wat presies onregverdig is, is nie nou ter sprake nie.  Toe spring Tannie Marié se woorde weer in my gedagtes in. Want niemand kan sê die lewe is regverdig nie. Dit is nie.

En asof sy my hoor stuur sy vir my ‘n boodskap. Wat dit so merkwaardig is, is dat sy jare gelede reeds oorlede is. Die boodskap wat sy vandag gestuur het kom deur my ma. My ma het op ‘n briefie afgekom wat Tannie Marié ‘n dekade gelede geskryf het.

Dit lees as volg:

Liewe Larda, (én vir die Pa)

Om ‘n laat geluk te sê, is beter as géén geluk!

Vir Hanri se 21ste: Baie geluk met die produk van 21 jaar: ‘n lieflike, gelukkige mensie wat borrel van lewensvreugde.

Ons is ook dankbaar, saam met julle, vir soveel genade wat julle ontvang het om vir Hanri te kon padwys.

Vir my: ‘n voorreg om haar te ken en van die borrels te kon vang in die klas!

Geniet die borreltjie energie!

Liefde

Marié (ek is seker Ben deel my gevoelens)

Knop in die keel lees ek die boodskap oor en oor. Dat dié wyse vrou dan nou my “borrels” kon raaksien deur my tienerjare. Deur my stink houding en skerp tong. Deur puisies en kniekoppe en stywe poniesterte en hormone.

Ek dink borrel nou meer as ooit – ek wens so Tannie Marié kon die volwasse Hanri ook ken. Die Hanri wat meer geduld het, meer deernis, meer waardering. Die Hanri wat besef die lewe is nie regverdig nie en doen wat sy kan om dit reg te stel. Die Hanri wat kan aanvaar dat sy sekere dinge nie kan verander nie.

Ek wens ek kon vir haar dankie sê vir die goeie raad en dat sy my nooit soos haar mindere hanteer het nie (hoewel ek was).

Maar ek is seker sy sit iewers en glimlag en wéét haar woorde bly my by en die borrels is ook deels te danke aan haar.